
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
SAPD-lid ontvang ses maande se salaris en voordele ná twis oor bevordering
Deur Heléne Mocke
Solidariteit het onlangs nóg ʼn groot oorwinning behaal in die saak van luitenant kolonel Anelda Badenhorst teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die saak het gevolg ná Badenhorst op ʼn onbillike wyse oor die hoof gesien is vir die bevordering van haar posisie as kaptein na ʼn luitenant kolonel.
Volgens Badenhorst is sy nie bevorder nie nadat sy duidelik die beste kandidaat vir die pos was. Tydens arbitrasie het dit duidelik geword dat die SAPD kwaadwillig opgetree het deur die puntetoekenning tydens die aanstellingsproses te manipuleer en dat die SAPD nie sy eie nasionale instruksie ten opsigte van bevorderingsprosesse behoorlik gevolg het nie.
Badenhorst het in Januarie 2022 uitgevind dat sy nie die pos gekry het waarvoor sy aansoek gedoen het nie. Sy het dadelik ondersoek ingestel en ook die besonderhede van die prosesse van die SAPD aangevra waarna sy Solidariteit vir advies genader het. Amper twee jaar later het die arbitrasie op 1 Augustus 2024 plaasgevind waar die kommissaris die SAPD behoorlik geroskam het oor die manier waarop hulle die saak, sowel as die arbitrasie hanteer het.
Solidariteit duld nie onregverdige praktyk in die werkplek nie en het die saak namens Badenhorst hanteer. Badenhorst se saak is suksesvol voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geargumenteer.
Die uiteindelike afloop van hierdie saak was dat Solidariteit ses maande se salaris en voordele, wat gelykstaande is aan die bevorderingspos se vergoedingspakket, as toekenning vir Badenhorst kon terugeis.
“Na ʼn proses wat só lank geduur het om af te handel, met vele uitdagings, is ons dankbaar oor die sukses en oorgehaal om verder daarop te bou,” sê Mariette Redelinghuys, regsbeampte by Solidariteit.
Die oorwinning in Badenhorst se saak is weereens ʼn bewys dat onregverdige arbeidspraktyke nie geduld sal word nie, en dat Solidariteit gereed staan om sy lede se regte te beskerm.
Sluit vandag nog by Solidariteit aan om werkbeskerming in jou beroep te geniet.