loading
avatar
Artikels
16 uur gelede
sapd-se-bevorderingsproses-weer-onder-skoot

Foto Krediet: Verskaf

Onreg in uniform vir Mosselbaaier: SAPD se bevorderingsproses weer onder skoot

Deur Robin-Lee Maré

Kaptein Heinrich Schoultz se verwerping in ʼn SAPD-posaansoek voel soos ʼn storie wat homself gedurig herhaal – veral binne die polisiediens.

Sy saak dien egter as ʼn duidelike voorbeeld van hoe dinge skeef kan loop wanneer reëls gebuig of geïgnoreer word, en hoe lank dit soms neem om onreg reg te stel.

ʼn Geskikte kandidaat, maar nie eens gekortlys nie

Tydens sy aansoek was Schoultz ʼn adjudantoffisier (vlak 7) by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Mosselbaai – ʼn lid met jare se ervaring. Hy het reeds verskeie kere as kaptein (VISPOL-bevelvoerder, Salarisvlak 8) in Mosselbaai waargeneem.

Toe die pos van VISPOL-bevelvoerder Mosselbaai in Januarie 2020 geadverteer is, het hy betyds aansoek gedoen en aan al die vereistes voldoen.

Tog is hy nie eens op die kortlys geplaas nie.

Agt ander kandidate is wel op die kortlys geplaas, maar dit het later geblyk dat daar beduidende tekortkominge in hul aansoeke was.

Reëls wat eenvoudig geïgnoreer is

Volgens Ettienne Pio, ʼn litigant verbonde aan Solidariteit, word die aanstellingsproses binne die SAPD deur streng voorskrifte, soos die Nasionale Instruksie 3 van 2015 endie Sektorale Bedingingsraad vir Veiligheid en Sekuriteit (SBVS)-ooreenkoms van 2011, gereguleer.

“Volgens hierdie reëls moet aansoeke korrek ingevul en deur die kandidaat se onmiddellike bevelvoerder gesertifiseer word; kandidate moet aan minimum prestasievereistes voldoen; en aansoeke wat nie aan hierdie vereistes voldoen nie, moet verwerp word,” sê hy.

Op 12 Maart 2021 het Schoultz ʼn dispuut oor ʼn beweerde onbillike arbeidspraktyk na die SBVS vir arbitrasie verwys.

Tydens die arbitrasie het ʼn SAPD-paneellid erken dat al die kandidate op die kortlys in werklikheid verwerp moes word weens tekortkominge soos laat indiening, ontbrekende of foutiewe dokumentasie, onvoldoende relevante ondervinding en onvolledige of ongesertifiseerde vorms.

“Met ander woorde,” sê Pio, “die kortlys was uiters kontroversieel en wesenlik gebrekkig.”

Dinge raak nog meer verdag

Die administrasie van die proses het verdere ernstige gebreke getoon. Dit het die afwesigheid van ʼn volledige rekord van die verrigtinge, onvolledige dokumente, gebrekkige verklarings oor konflik van belange en geen duidelike motivering vir die keuse van kandidate op die kortlys ingesluit. Ironies genoeg moes elkeen van die kandidate op die kortlys se aansoeke reeds van meet af verwerp gewees het.

Schoultz het selfs ʼn PAIA-aansoek ingedien om toegang tot relevante dokumente te verkry, maar het nie alles ontvang nie. Sy formele klagte is ook nie behoorlik afgehandel nie.

Solidariteit neem die saak verder

Die saak is uiteindelik na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geneem, waar Solidariteit Schoultz verteenwoordig het.

Volgens Pio wys hierdie saak hoe ernstig die probleem binne die SAPD is.

“Hierdie soort optrede wys dat die proses nie net foutief is nie, maar dat die paneel hulself aan growwe nalatigheid skuldig gemaak het. Dit is onaanvaarbaar,” sê hy.

Die pad na geregtigheid was lank en uitdagend met verskeie vertragings – insluitend uitstelle deur die SAPD, soms op twyfelagtige gronde.

Hierdie saak dien ook as ʼn duidelike voorbeeld van hoe onontbeerlik Solidariteit-lidmaatskap vir ʼn werknemer is.

Uiteindelik: ʼn oorwinning

Op 11 November 2025 het kommissaris Peter Heather beslis dat die SAPD hom aan ʼn onbillike arbeidspraktyk teenoor kaptein Schoultz skuldig gemaak het.

Die bevel was:

  • Hy moet meer as R208 000 in kompensasie ontvang
  • Hy moet bevorder word tot kaptein (met terugwerkende krag vanaf 1 Desember 2025)

Volgens Pio is Schoultz intussen bevorder en dien nou as VISPOL-bevelvoerder in Mosselbaai.

Maar wie betaal die prys?

Pio beklemtoon dat, hoewel geregtigheid uiteindelik geskied het, die vraag oor aanspreeklik bly voortbestaan.

“Die geld vir die kompensasie kom uit die belastingbetaler se sak. Intussen raak swak prosesse ook dienslewering en openbare veiligheid. Solank daar nie aanspreeklikheid is nie, gaan hierdie soort sake aanhou gebeur. Hierdie saak is dus nie net oor een persoon nie – dit dui op ʼn groter probleem van nienakoming en onverantwoordbaarheid binne die SAPD wat dringend aandag nodig het,” sluit hy af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel