Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Sektorkodes in die regsberoep: Nuwe verwikkelinge en hofdatum bevestig
Leré Nel
Daar is nuwe verwikkelinge in Solidariteit se stryd teen die omstrede sektorkodes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in die regsberoep. Die Solidariteit Regsnetwerk het bevestig dat die saak in Mei 2026 in die Pretoria Hooggeregshof aangehoor sal word.
Wat behels die sektorkodes?
Die sektorkodes, wat in September 2024 amptelik in werking gestel is, verlaag die drempel vir sogenaamde “vrygestelde ondernemings” tot ʼn jaarlikse omset van onder R5 miljoen. Dit beteken dat talle kleiner regsfirmas nou onderhewig sal wees aan dieselfde vereistes as groot firmas.
Volgens Émil Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk, bestaan die kode uit vier elemente:
- • Eienaarskap – 50% swart eienaarskap word teen jaar vyf verwag.
- • Bestuursbeheer – streng nuwe samestellingsvereistes word vir firmabestuur ingestel.
- • Vaardigheidsontwikkeling – vereis byna dubbel die huidige besteding, hoofsaaklik aan regsopleiding.
- • Voorkeurverkryging en ondernemingsontwikkeling – bepaal watter advokate of verteenwoordigers firmas mag gebruik, wat volgens Solidariteit ʼn direkte inbreuk is op vryheid van keuse van verteenwoordiging.
Solidariteit se standpunt
Volgens die Regsnetwerk is die sektorkodes onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik, en hou dit massiewe implikasies in vir elke firma wat nie onder die omsetdrempel van R5 miljoen val nie. Solidariteit voer aan dat die nuwe vereistes nie net onprakties is nie, maar ook die onafhanklikheid van die regsberoep en die vryheid van professionele praktyk bedreig.
Hoe kan jy betrokke raak?
Solidariteit se Regsnetwerk doen ʼn beroep op alle regsfirmas en -praktisyns om hierdie saak te ondersteun en saam te staan teen oorregulering in die beroep.
Bly ingeskakel by die Solidariteit Regsnetwerk om op hoogte te bly van die ontwikkeling van hierdie saak.