loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
waarom-die-regsnetwerk-vir-prokureurs-saak-maak

Foto Krediet: OkayDeer

Waarom die Regsnetwerk vir prokureurs saak maak

Leré Nel

Waarom raak prokureurs by die Regsnetwerk betrokke? Vir Niel Venter, prokureur en direkteur van Venter & Geldenhuys Ing., is daar geen twyfel oor die waarde van Solidariteit se Regsnetwerk nie. Hy verduidelik dat sy betrokkenheid voortspruit uit jare se ervaring in die praktyk en die wete dat samewerking in die regswêreld nie net voordelig is nie – dit is noodsaaklik. Die Regsnetwerk het met hom gesels om meer uit te vind.


“Ek het as jong kandidaat-prokureur my klerkskap by die firma Serfontein, Viljoen en Swart voltooi. Die firma was regstreeks by Solidariteit betrokke en ons het as jong regsgeleerdes regsadvies aan Solidariteit-lede in Solidariteit se inbelsentrum voorsien,” vertel hy. “Ná my klerkskap het ek kontak behou met my voormalige kollegas, wat my meer van die Regsnetwerk vertel het.”

Sedertdien het Venter en sy firma aktief begin deelneem aan die netwerk se projekte en geleenthede – insluitend die gewilde jaarlikse gholfdag. Hy beskryf die ervaring as inspirerend en professioneel.

“Die Regsnetwerk-projekte is altyd besonders goed georganiseer, met professionaliteit aan die orde van die dag. Ek sal beslis in die toekoms steeds by die netwerk se projekte betrokke wees.”

Volgens Venter is die waarde van die netwerk onskatbaar. Dit bring mense bymekaar, bevorder groei en die uitruil van kennis, en skep ʼn gemeenskap van regskenners wat mekaar versterk.

“Die Regsnetwerk is ongelooflik belangrik vir my as prokureur en vir regspraktyke in die algemeen. Dit bied nie net die ideale netwerkgeleenthede nie, maar stel ook regsgeleerdes in staat om hul kennis, kontakte en vaardighede met mekaar te deel.”

Venter sê die netwerk het reeds tasbare voordele vir sy firma ingehou: “Ons baat vir seker danksy ons betrokkenheid by die netwerk. Ons het reeds nuwe werknemers én kliënte deur die netwerk gewerf.” Hy glo dat die werk wat die Regsnetwerk doen ʼn betekenisvolle verskil maak: “Dit bied waardevolle geleenthede vir almal betrokke en kan slegs tot vooruitgang lei.”

Uiteindelik funksioneer geen onderneming in isolasie nie – ook nie ʼn regsfirma nie. As jy jou netwerk wil uitbrei of wil bydra tot die bou van ʼn sterker regsberoep, raak betrokke by die Solidariteit Regsnetwerk!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel