Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Sentrale rasbeplanning – verkeerd in elke opsig
Niemand het die reg om die onreg te gehoorsaam nie
Deur Dr. Dirk Hermann
Die nuwe raswet van die regering gee aan die minister van indiensneming en arbeid drakoniese magte om die samelewing sentraal volgens ras te beplan.
Die wêreldgeskiedenis getuig van die tragiese gevolge van die sentrale beplanning van mense. Dit is verkeerd in elke opsig.
Sakrekenaar-samelewing
Die ink van president Cyril Ramphosa se pen, waarmee hy hierdie wet onderteken het, was skaars droog toe demonstreer die minister hoe wyd sy magte strek. 60 bladsye se regulasies sit in detail uiteen hoe 18 verskillende sektore, in elke provinsie en op elke posvlak moet lyk.
ʼn Sakrekenaar werk in detail uit hoe die Suid-Afrikaanse samelewing moet lyk. Op Sowjet-styl word rassehulpbronne deur ʼn sentrale agentskap in die minister se kantoor verdeel.
Maatskappye moet hieraan voldoen anders word hulle swaar gestraf met boetes en staatskontrakte word nie aan hulle toegeken nie. Die minimum boete is R1,5 miljoen en die maksimum boete is R2,7 miljoen of 10% van die maatskappy se omset – watter een ook al die meeste is.
Hierdie maatskaplike manipulering beplan ʼn samelewing, nié op grond van wie hul is óf wat hulle kan doen nie, maar hoe hulle lyk.
Bloedbad vir minderhede
Die som se antwoord is ʼn bloedbad vir minderhede. Met die uitsondering van ongeskoolde en semi-geskoolde posvlakke moet drie uit elke vier wit mense en Indiërs weg uit die werkplek en een uit elke vier bruin mense. Dit is meer as 500 000 mense.
Die regulasies is ʼn totale vertrouensbreuk met minderhede.
Mooi woorde soos gelykheid, billikheid, regstelling, verskeidenheid en inklusiwiteit word gebruik. Die uitkoms is egter ongelykheid, onbillikheid, verkeerdstelling, homogeniteit en eksklusiwiteit. Hierdie het niks met regstelling te doen nie, maar alles met ras. Dit is nie ʼn “regstelwet” nie, maar suiwer ʼn “velkleurwet”.
ʼn Streep deur internasionale standaarde
Suid-Afrika het minstens twee konvensies rakende diskriminasie in die werkplek geratifiseer. Die eerste is die konvensie vir die uitskakeling van alle vorme van rassediskriminasie (ICERD) en die tweede is konvensie 111 van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO). Beide die konvensies gee riglyne vir positiewe maatreëls om wanbalanse te herstel. Die doel is om grense van billikheid daar te stel.
Aangesien Suid-Afrika die konvensies geratifiseer het moet dit by regspraak in ag geneem word en Suid-Afrika se wette moet daarvolgens belyn word.
Beide hierdie konvensies bepaal dat positiewe maatreëls genuanseerd moet wees. Dit beteken dat ras nie die enigste kriteria kan wees nie. Die sosio ekonomiese posisie van ʼn persoon, beskikbare vaardighede en die unieke aard van ʼn onderneming moet in ag geneem word. Aparte kategorieë vir verskillende rasgroepe mag nie geskep word nie, maatreëls moet regstellend wees asook tydelik. Daar moet ook eerder op insetgebaseerde maatreëls, naamlik opleiding en ontwikkeling gefokus word eerder as uitsetgebaseerde rassekwotas.
SA is internasionaal aangekla
In 2017 het Solidariteit ʼn klag ingevolge ICERD by die VN ingedien. Die komitee het in ʼn aanbeveling die Suid-Afrikaanse regering se apartheidrasseklasifikasie gekritiseer. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het op grond hiervan ʼn verslag gepubliseer waarin bevind is dat Suid-Afrika se program van regstellende aksie ongrondwetlik is en nie voldoen aan die internasionale konvensies nie. Daar is bevind dat die Suid-Afrikaanse regering binne ses maande wetswysigings moet aanbring.
Die Suid-Afrikaanse regering het egter ʼn streep daardeur getrek en nou ʼn nóg strenger raswet aanvaar met regulasies wat suiwer op grond van ras maatskappye dwing om aanstellings te maak. Daar is nou géén sprake van ʼn genuanseerde benadering nie.
In 2021 het Solidariteit ʼn klag teen Suid-Afrika by die IAO gelê vir die oortreding van konvensie 111. Die IAO het bevind dat Solidariteit se klag ontvanklik is. Dit beteken dat daar aan al die tegniese vereistes voldoen is, dat daar op sigwaarde meriete is en dat die interne remedies uitgeput is. Die eerste stap is bemiddeling. Die Suid-Afrikaanse regering het hiertoe ingestem en daar is tot einde Augustus ʼn bemiddelingsproses tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering aan die gang. Indien dit nie suksesvol is nie, gaan dit oor tot arbitrasie by die IAO.
Solidariteit behoort weer in Desember 2023 voor die komitee van ICERD te verskyn oor hierdie oortreding van die regering.
Ten spyte van die internasionale prosesse gaan die Suid-Afrikaanse regering egter voluit voort met sy rasbeleid.
Indien Solidariteit by enige van die internasionale forums slaag sal internasionale diplomatieke druk op die regering toeneem. Die krag van ʼn internasionale uitspraak is egter eerder die spierkrag wat dit vir plaaslike litigasie gee.
Die bron van die kwaad is die wet
Daar is nou tyd vir kommentare op hierdie regulasies. Groot weerstand word verwag. Duisende Suid-Afrikaners en organisasies, insluitend die Afrikanerbond gaan kommentaar oor die gewraakte regulasies lewer. Dit is ook reg só. Die regulasies is boos.
Die probleem is egter die raswet wat hierdie regulasies moontlik gemaak het. Dit is dus hierdie nuwe wet wat ongrondwetlik verklaar moet word. Beide Solidariteit en Sakeliga het aansoeke teen die wet gebring en ʼn goeie handvol organisasies het al kennis gegee dat hul as vriende van die hof gaan toetree. Weerstand strek oor al die minderheidsgroepe.
Dit gaan ʼn epiese stryd teen die regering wees.
Maatskappye het nie die reg om die onreg te gehoorsaam nie
Die onus vir hierdie stryd lê op elkeen wat in Suid-Afrika woon, maar veral maatskappye.
Dit is hulle wat nie meer die reg het om besigheid te doen soos hulle wil nie.
Dis nie nou die tyd vir klakkelose gehoorsaamheid nie, maar vir positiewe protes. Positiewe protes het die e-tolstelsel tot ʼn stilstand gebring. Positiewe protes van verál ondernemings kan hierdie drakoniese raswet ook tot stilstand bring.
Hierdie wet is ʼn stuk onreg teenoor minderhede spesifiek en Suid-Afrika oor die algemeen.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het in ʼn artikel wat in die Rapport op 21 Mei verskyn het, geskryf dat die Joodse denker Hannah Arendt ʼn belangrike uitspraak hieroor gemaak het, n.a.v. Italianers se gehoorsaamheid aan Mussolini se verdrukkende rassewette. Sy het gesê dat niemand die reg het om onreg te gehoorsaam nie. Net omdat iets in ʼn wet staan beteken dit nie dis “reg” nie.
Hy skryf verder, onbekookte raswette het ʼn bepalende rol in die verval van groot dele van die staatsdiens en openbare ondernemings gespeel. Die rede hiervoor was dat duisende bekwame en ervare werknemers en bestuurders uit hul poste verwyder is vanweë hulle ras, en dikwels met kaders sonder die nodige kundigheid vervang is. Indien toegelaat word dat dieselfde beleid in die privaat sektor toegepas gaan word, kan dit net dieselfde gevolge hê. Dit gaan rampspoedige gevolge vir die land en al sy mense inhou. Maatskappye wat goedsmoeds hierdie nuwe onreg gehoorsaam, maak hulself nie net aan onreg medepligtig nie, maar aan die groeiende krisis in die land. Steun aan on-reg is onreg-verdigbaar. Daarom het Arendt gesê om verdrukking van ʼn groep mense sommerso te aanvaar, is om aandadig daaraan te wees.
Suid-Afrika moet dus in opstand kom teen dié stuk onreg onder die dekmantel van ʼn wet. Dit is ons plig. Dit is die regte ding om te doen, want niemand het die reg om onreg te gehoorsaam nie.
Klik hier en ondersteun Solidariteit se stryd teen die raswet.