loading
avatar
Artikels
5 dae gelede
skaduwerk-by-solidariteit-gee-studente-n-voorsprong-in-hul-loopbaan

Foto Krediet: OkayDeer

Skaduwerk by Solidariteit gee studente ʼn voorsprong in hul loopbaan

Deur Leré Nel

Ons almal weet wat skaduwerk is en hoekom dit belangrik is. Tog is baie studente so besig om hul universiteitsjare en die koshuislewe te geniet dat hulle eers in hul finale jaar besef dat hulle dit nooit gedoen het nie! Maar nie jy nie.

Solidariteit reël jaarliks skaduwerkgeleenthede vir studente om hul bloot te stel aan die werklikheid wat hulle binnekort gaan betree. Só kan jy as student die kans kry om te toets of jou loopbaankeuse wel die regte besluit is, en boonop waardevolle ervaring vir jou CV opbou.

Twee Akademia-studente wat hierdie geleentheid aangegryp het, is Anika Kruger en Ben Wynand. Ons het hulle uitgevra oor hoe hierdie ervaring vir hulle nuwe deure oopgemaak het.


ʼn “Ek het dit gemaak!”-oomblik by GrootFM – Anika Kruger

Anika studeer BA (Kommunikasie en Joernalistiek) aan Akademia. Sy het vir twee dae by GrootFM tussen afdelings geskuif – van produksie en PR tot sosiale media, gastekoördinering en selfs nuus.

Wat het jou skaduwerk behels?

“Ek was vir twee dae by GrootFM. Ek was eers agter die skerms by Die Groot Ontbyt en het gesien hoe die beligting, klank en die foto’s werk. Later het ek saam met die PR-span bemarking en gemeenskapsprojekte bespreek, en by die sosialemediaspan gesien hoe hulle baniere ontwerp, video’s redigeer en plasings beplan.”

Wat was vir jou die hoogtepunt?

“Dat ek self ʼn nuusbulletin kon voorberei. Lise Chris het my gewys hoe sy die nuus opstel en toe gevra of ek haar 13:00-nuus vir haar wil skryf. Ek het dit vir haar opgestel en sy het dit op die lug gelees. Dit was vir my ʼn ‘I made it-moment!’”

Wat was die waardevolste les wat jy geleer het?

“Jou werkomgewing moet ʼn positiewe atmosfeer hê. Jy moet daar wees omdat jy dit geniet en omdat dit jou passie is. Ek het ook geleer dat ek vinnig op my voete moet kan dink.”

Dink jy dat jy die groter prentjie” nou beter verstaan?

“Die ervaring het my oë oopgemaak oor hoe wydverspreid die radio- en uitsaaiwêreld werklik is. Dit het my laat besef alles is ʼn proses en almal werk saam om een doel te bereik.”

Was dit die moeite werd?

“Vir seker. Ek het soveel meer kennis en vaardighede bygekry. Ek dink definitief skaduwerk is iets wat alle studente moet oorweeg. Die teorie wat jy op universiteit leer is maar net ʼn fondament, en dit skep nie altyd ʼn volledige prentjie van die werk wat jy eendag gaan doen nie. Om skaduwerk te doen, wys jou die groter prentjie, vul jou CV aan, en dit kan jou help besef of jou studierigting reg is vir jou. Dan kan jy vroegtydig ʼn skuif maak indien dit nodig is.”


Rekeningkunde in die praktyk – Ben Wynand

Ben studeer BCom Finansiële en Bestuursrekeningkunde by Akademia. Hy het vir drie dae skaduwerk by Serenity Accounting gedoen.

Wat het jou skaduwerk behels?

“Ek was vir drie dae by die maatskappy. Eers het ek waargeneem hoe hulle werk en watter soort werk hulle doen. Hulle het my hul sisteme gewys, en hoe hulle op Sage werk. Hulle het ook gewys hoe finansiële state en belasting in die praktyk werk. Ek het ook gehelp met betaalstate, UI19’s, en “beneficial ownerships” en nog vele meer.”

Hoe was die werkomgewing?

“Die maatskappy is professioneel en almal is respekvol teenoor mekaar en handhaaf goeie kommunikasie, en die werkomstandighede is goed.”

Wat was die waardevolste les wat jy geleer het?

“Die waardevolste ding wat ek geleer het, was hoe dinge in die praktyk werk. Dit is baie anders as net die teorie wat jy op universiteit leer.”

Voel jy nou sekerder oor jou loopbaankeuse?

“Die skaduwerk het my definitief beter help verstaan hoe om die teorie in die praktyk toe te pas. Dit het beslis bevestig dat ek in hierdie rigting wil aangaan.”

Sou jy skaduwerk aanbeveel aan ander studente?

“Die skaduwerk was definitief die moeite werd. Dit het my meer insig oor die praktyk gegee. As studente nie te veel ervaring het nie en meer ervaring soek sal dit ʼn goeie besluit wees om skaduwerk te oorweeg.”


Jou kans wag

Ben en Anika se verhale wys duidelik dat skaduwerk ʼn unieke en lewensveranderende ervaring kan wees. Jy kry nie net praktiese vaardighede nie, maar ook insig oor die kultuur en uitdagings van jou toekomstige beroep.

Solidariteit maak dit moontlik deur skaduwerkgeleenthede vir studente te organiseer. As jy in November 2026 van hierdie geleentheid gebruik wil maak, hou die Werk-platform dop. Moenie wag tot dit te laat is nie!

Bly ingeskakel by Solidariteit se Studentelewegroep om op hoogte te bly van al die opwindende geleenthede wat tot jou beskikking is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel