Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Skaduwerk: ʼn Sleutel tot jou loopbaansukses
Deur Kyla-Ann du Toit
As student is skaduwerkgeleenthede ʼn waardevolle manier om jou loopbaanontwikkeling te bevorder. Dit kan die sleutel wees wat jou bo ander kandidate laat uitblink en aan potensiële werkgewers wys dat jy bereid is om meer te doen as wat verwag word. Dit is ʼn algemene praktyk onder studente in verskeie velde en die voordele is eindeloos!
Ons het met Christelle Maritz, ʼn student in ekonomie en regte aan Akademia, gesels oor hoekom skaduwerk vir enige student se loopbaan belangrik is.
Wat het jou gemotiveer om skaduwerk te doen?
Ek is gemotiveer om skaduwerk te doen omdat ek ʼn realistiese oorsig van my toekomstige loopbaan wou kry. Dit het my die kans gegun om te leer en waardevolle ervarings op te doen wat ek nie noodwendig in die klaskamer sou opdoen nie.
Vertel ons meer van jou skaduwerkervaring en wat dit alles behels het.
Tydens my skaduwerk het ek saam met ervare prokureurs en advokate gewerk, howe vir hofsake besoek, en praktykervaring in my vakgebied opgedoen. Dit het my begrip van die werksomgewing verdiep en my vaardighede geslyp, asook my opgewondenheid vir my toekoms vermeerder.
Wat het jy die meeste van die skaduwerkgeleentheid geniet?
Ek het dit die meeste geniet om eerstehandse insig in die daaglikse werksaamhede van die beroep te kry en om te sien hoe teorie in die praktyk toegepas word. Dit was inspirerend om te sien hoe my toekomstige loopbaan in werklikheid lyk.
Hoe het skaduwerk jou vir jou toekomstige loopbaan voorberei?
Skaduwerk het my voorberei deur my aan die praktiese aspekte van my vakgebied bloot te stel, my netwerk uit te brei en my ʼn beter begrip te gee van die vaardighede wat ek nodig het om suksesvol te wees.
Watter waardevolle vaardighede of insigte het jy tydens jou skaduwerk opgedoen?
Ek het vaardighede soos tydbestuur, kommunikasie en probleemoplossing ontwikkel. Ek het ook insig gekry in hoe om professioneel op te tree en die belangrikheid van spanwerk te waardeer.
Het hierdie ervaring jou loopbaandoelwitte beïnvloed of verander? Indien wel, hoe?
Ja, die ervaring het my loopbaandoelwitte verfyn deur vir my ʼn beter idee te gee van watter aspekte van die beroep ek die meeste geniet. Dit het my gehelp om my doelwitte aan te pas sodat ek meer kan fokus op spesifieke areas wat my interesseer.
Watter uitdagings het jy tydens jou skaduwerkgeleentheid teëgekom, en hoe het jy dit oorkom?
Een uitdaging was om by ʼn professionele omgewing en die standaarde wat dit stel aan te pas. Ek het dit oorkom deur oop te wees vir leer, vrae te vra en leiding van ervare kollegas te aanvaar.
Sou jy ander studente aanraai om skaduwerk of vakansiewerk te doen? Hoekom?
Beslis! Skaduwerk bied ʼn realistiese insig in jou toekomstige loopbaan en stel jou in staat om jou vaardighede te verbeter en jou netwerk uit te brei.
Hoe het Solidariteit jou in hierdie proses bygestaan?
Solidariteit het ondersteuning gebied deur my te help om ʼn geskikte skaduwerkgeleentheid te vind en het gereeld opgevolg om seker te maak dat ek goed vorder.
Sal jy ander studente aanmoedig om van Solidariteit se aanbod gebruik te maak en hoekom?
Ja, ek sal beslis. Solidariteit bied waardevolle ondersteuning en hulpbronne om jou te help om jou skaduwerkervaring ten volle te benut.
In ʼn mededingende wêreld van werk bied skaduwerk jou ʼn unieke geleentheid om jou kennis en vaardighede te verbeter, terwyl jy waardevolle insigte in jou toekomstige loopbaan verkry. Dit berei jou nie net voor op moontlike uitdagings in die werkplek nie, maar kan ook jou passie en toewyding vir jou vakgebied versterk.
Solidariteit wil elke tree van jou loopbaanpad saam met jou stap en wil jou graag help om jou volle potensiaal te bereik. Skep dus vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit en word deel van Solidariteit se Jongwerkende–lidmaatskap om jou eerste groot stap na ʼn suksesvolle loopbaan te neem.
Jou toekoms is in jóú hande!