
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Skep só weer moed na ’n onsuksesvolle werksonderhoud
Deur Essie Bester
Ná die hoeveelste onsuksesvolle werksonderhoud wéét ek dit. Werksoek is nie vir sissies nie. Niks in die lewe berei ’n mens voor op hierdie werksoek-eskapade nie, skryf ’n pas gegradueerde.
Amper almal ken dit – daardie gevoel van verwerping as jy die nuus ontvang dat jou werksaansoek onsuksesvol was. Jy voel ontoereikend en probeer onmiddellik dink wat jy verkeerd gedoen het of wat jy anders kon gedoen het.
Jy het tog goed voorberei vir die onderhoud. Tydens en na die onderhoud het jy selfs die gevoel gekry dat alles goed afgeloop het. Die finale uitkoms was egter ver van dit wat jy verwag het. Hoe beweeg jy van hier af vorentoe?
Hanteer dit met grasie
Wees beleef en bedank die onderhoudvoerder vir sy/haar tyd. Vra dat jy in gedagte gehou word vir enige soortgelyke posisies wat in die toekoms by die onderneming beskikbaar mag raak.
Erken jou gevoelens
Om teleurgesteld, verwerp, seergemaak en/of kwaad te voel is normaal en nie verkeerd nie. Erken die gevoelens maar moenie daarby gaan stilstaan nie.
Besef dis nie persoonlik nie
Baie van die redes agter indiensnemingsbesluite sal nie aan jou duidelik gemaak word nie. Jy het dalk uitstekend gevaar, maar daar is ander faktore wat ’n rol speel. Daar was byvoorbeeld ’n sterk interne kandidaat wat reeds vertroud is met die besigheid, of ’n ander kandidaat met effens meer relevante ondervinding as jy. Dit is dinge wat heeltemal buite jou beheer is.
Vra vir gedetailleerde terugvoer
Daar is niks mee fout om die onderhoudvoerder te vra vir meer gedetailleerde terugvoer oor jou onderhoud om jou te help verbeter nie. Onthou egter dat die terugvoer dikwels generies van aard is. Soek nuttige terugvoer deur byvoorbeeld die raad van ’n professionele personeelwerwer in te win, of probeer ’n skynonderhoud vir ’n oefenlopie en vra vir opbouende kritiek.
Hersien en besin
Neem tyd om te besin oor jou ervaring en haal die nodige lesse daaruit. Dis maklik en dikwels aanloklik om die ervaring opsy te skuif en nooit weer daaraan te dink nie. Moet egter nie ’n beduidende leergeleentheid só laat verbygaan nie.
Dink aan die terugvoer wat jy ontvang het, dink terug aan die verloop van gebeure, van die manier waarop jy voorberei en nagevors het, tot jou interaksies in die onderhoud en enige opvolg.
Vra jouself die volgende vrae:
- • Wat het volgens my goed afgeloop?
- • Wat kon ek anders gedoen het?
- • Kon ek deegliker voorberei het?
- • Kon ek harder gewerk het om ’n verhouding met my onderhoudvoerder(s) te bewerkstellig?
- • Het ek te veel op tegniese bekwaamheid gefokus en nie genoeg op my sagter vaardighede nie?
- • Was daar enige vrae wat ek voel ek beter kon beantwoord het?
Skep nou ’n persoonlike ontwikkelingsplan
Maak aantekeninge van enige swakhede of kwessies waaraan jy iets kan doen, en gebruik dit as ’n fokus vir die manier waarop jy jou voorbereiding volgende keer benader. Wat kan jy doen om die leemtes in jou prestasie reg te stel?
Afhangende van die kwessie, kan verdere opleiding of informele afrigting dalk nodig wees. Bemagtig jouself en kom klop by Solidariteit se S-leer aan by www.s-leer.co.za waar jy kursusse soos rekenaarvaardighede in Microsoft Excel en Word, sagte vaardighede soos probleemoplossing en konflikbestuur, en nog vele meer kan volg. Só kan jy ook in jou onderhoud bewys dat jy jou deel gedoen het om jouself deur voortgesette leer te bevorder.
Verfyn jou soektog
Kyk weer na die posisie waarvoor jy afgekeur is se posspesifikasies. Vra jouself nou af of jy jouself werklik op ’n dag-tot-dag basis in daardie rol kan sien. Indien daar aspekte van die rol was wat jou nie opgewonde gemaak het nie, kon die onderhoudvoerder dit dalk ook sien.
Gebruik jou ervaring om jou te help om toekomstige werksoeke te verfyn.
- • Kyk jy dalk na sleutelwoorde wat nie heeltemal ooreenstem met jou ambisies en aspirasies nie?
- • Het die rol wat saam met die postitel gegaan het nie heeltemal aan jou verwagtinge voldoen nie?
- • Het die onderhoud jou laat besef dat dit nie heeltemal die regte soort werk vir jou is nie?
Vermy negatiwiteit en bou veerkrag
Terwyl jy dalk deels die politiek van die dag of die slegte ekonomie daarvoor kan blameer, gaan sulke negatiwiteit jou nie baat nie. Ons almal weet politieke omstandighede in Suid-Afrika is uitdagend, en veral vir jongmense van minderheidsgroepe.
Tog is die werkloosheid onder diesulkes baie laag juis omdat hulle aanhou planne maak en na oplossings soek. Iets wat nie sou kon geskied sonder ‘n ingesteldheid van selfstandigheid en veerkrag nie. Solidariteit verstaan die krag van die gemeenskap en glo dat elkeen wat wil werk, moet kan werk.
#JyHoortHier en daarom het ons in September 2023 die grootste Afrikaanse werkfasiliteringsplatform (bekend as Solidariteit) geskep om werkloosheid aan te spreek.
Sedert die loodsing van Solidariteit se aanlyn werkfasilitering in September 2023 het meer as 2 100 werkgewers en sakeondernemings hulself bemark en poste daar geadverteer. Met meer as nagenoeg 70 000 gebruikers is daar ʼn reusagtige potensiële mark van aansoekers wat vir geadverteerde poste kan aansoek doen. Daar is elke dag ʼn gemiddeld van 500 poste waarvoor ʼn werksoeker kan aansoek doen. Sedert September 2023 is daar reeds 5 800 poste geadverteer en meer as 500 poste is per maand beskikbaar. Binne een jaar het Solidariteit se platform die gemiddelde aantal besoeke en gebruiksyfers van Werknet laat verdriedubbel. Sedert die loodsing is daar ook 14 820 aansoeke gedoen vir werk.
Waarvoor wag jy? Skep jou gratis profiel op Solidariteit en doen gratis aansoek vir die beskikbare poste. Jou toekoms is in jou hande. Klik hier.