loading
Artikels
1 jaar gelede
skole-stel-so-n-posadvertensie-op

Foto Krediet: OkayDeer

Skole, stel só ʼn posadvertensie op

Deur Nico Strydom

Eerste indrukke tydens die aanstellingsproses is noodsaaklik vir beide die kandidaat en die voornemende werkgewer.

Volgens Indeed, ʼn werksoekwebwerf, is dit belangrik dat die werkgewer se behoeftes en vereistes, asook die algemene pligte en verantwoordelikhede van die rol, akkuraat in ʼn posadvertensies beskryf word ten einde topkandidate te lok.

ʼn Goed opgestelde posadvertensie kan skole help om tussen ander werkgewers uit te staan en om die aandag van gehalte-kandidate wat passievol oor onderwys is, se aandag te trek. Volgens die Spencer Clarke Group, ʼn werwingsagentskap, is dit dus nodig om ʼn posadvertensie vir ʼn skool op ʼn spesifieke wyse te skryf en spesifieke besonderhede in te sluit.

Dit behels onder meer om die postitel en verantwoordelikhede duidelik te verwoord en uiteen te sit. Verskaf ʼn oorsig van die skool en beklemtoon die voordele daaraan verbonde om by die skool te werk. ʼn Kort agtergrond oor die skool sal vir voornemende kandidate insig gee oor die skool se doelwitte en kultuur om sodoende vir hulle ʼn idee te gee oor hoe hulle tot die sukses van die skool sal kan bydra.

ʼn Duidelike beskrywing van die rol sal vir kandidate die nodige insig gee oor wat die rol presies behels ten einde te bepaal of hul vaardighede met die vereistes ooreenstem. Die skool se ligging en werksure is ook belangrik om te noem. Daar moet ook, indien van toepassing, gespesifiseer word of die betrokke pos ʼn beheerliggaam- of departementele pos is.

Die kwalifikasies en ondervinding wat vereis word, moet ook duidelik verwoord word. Dit is ook baie belangrik om inligting oor die aansoekproses, soos hoe hulle aansoek moet doen, watter dokumente verskaf moet word en wanneer die sperdatum vir aansoeke is, vir voornemende kandidate duidelik te maak.

Dit is belangrik om eerlik te wees oor die betrokke werksgeleentheid. Om die rol en gepaardgaande verantwoordelikhede akkuraat uiteen te sit, sal vertroue onder voornemende kandidate inboesem. ʼn Eerlike, gedetailleerde beskrywing sal verseker dat kandidate met die regte vaardighede en ervaring gelok word.

Maak die posadvertensie visueel aantreklik en gebruik ʼn duidelike en bondige skryfstyl. Die posadvertensie moet ook geproeflees word om te verseker dat daar geen foute daarop is voordat dit geplaas word.

Laastens is dit ook belangrik om die posadvertensie op die regte platforms te adverteer. Solidariteit se aanlyn werkplatform, wat op opleiding en werk fokus, bied ook aan skole die ideale geleentheid om hulself gratis te bemark deur die skool as ʼn organisasie en werkgewer op die platform te skep en vakante poste te plaas. Lees hier meer oor Solidariteit se eenstop- Afrikaanse platform.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel