
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Slaan ʼn pos in ʼn oogwink los
Jou tyd op universiteit is nou verby en ʼn nuwe opwindende hoofstuk lê vir jou voor. Wat nou? Solidariteit se Studente-aanbod stel in Maart 2025 ʼn splinternuwe videoreeks bekend wat jou sal toerus met waardevolle wenke om jou werksoekproses met selfvertroue aan te pak. Lees hier meer oor die videoreeks.
Deur Kyla-Ann du Toit
Is jy onseker oor hoe en waar om ʼn werk te soek? Wat nog te sê van hoe jou CV moet lyk of hoe jy onderhoudvrae moet beantwoord … Moet jou nie bekommer nie! Solidariteit se Studente-aanbod maak hierdie proses vir jou sommer baie maklik! Danksy ons splinternuwe videoreeks “Werksoek-wenke met Ruan en Lisa” wat vanaf Maart 2025 op Solidariteit beskikbaar sal wees, kan jy sommer lag-lag jou eerste werk losslaan!
Wat behels hierdie videoreeks?
- 1. Jou CV: Jou werkgewer gaan jou CV sien voordat hulle jóú gaan sien. Daarom is dit só belangrik om ʼn wenner-CV op te stel. Hierdie videoreeks gaan vir jou wenke gee oor al die moets en moenies van ʼn CV sodat joune nie tussen die res verlore raak nie.
- 2. LinkedIn: Het jy geweet ʼn goeie LinkedIn-profiel kan vir jou deure in jou loopbaan oopmaak? LinkedIn is ʼn baie waardevolle hulpbron!Danksy hierdie videoreeks gaan jy wenke kry oor hoe om jou LinkedIn-profiel só op te stel jou dat jy jou droomwerk kan losslaan.
- 3. Onderhoude: Dit is ʼn baie opwindende oomblik wanneer jy vir ʼn onderhoud genooi word, maar dit kan tog ook angswekkend wees. Jy is egter nie alleen nie! Solidariteit gaan jou help om daarvoor voor te berei met verskeie video’s oor hoe om onderhoude te benader.
- 4. Die werksoekproses: Jou universiteitsdae kom nou tot ʼn einde. Wat nou? Hierdie videoreeks gaan vir jou waardevolle wenke bied oor hoe jy ʼn suksesvolle werksoekproses kan verseker.
“In hierdie videoreeks word alles gedek oor werksoek, netwerke bou en wat om met jou CV te maak. Plus, as jy deel van ons Studente-aanbod is, het ons ʼn paar toertjies wat ons jou kan leer oor hoe jy jou CV so ʼn bietjie meer kan afrond,” sê Chereé Meyer, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Studente-aanbod.
Elke video in hierdie reeks is kort en kragtig. Dit gaan onderwerpe dek wat enige student moet bemeester om gereed te wees om vir werk aansoek te doen. Wanneer jy hierdie videoreeks voltooi het, sal jy presies weet hoe om jou CV op te stel, hoe jou profiel op LinkedIn en ander sosialemediaplatforms moet lyk, hoe jy vir onderhoude moet voorberei en wat die regte manier is om vir poste aansoek te doen.
Solidariteit maak hierdie nuwe hoofstuk vir jou soveel makliker. Besoek www.solidariteit.co.za, skep vandag nog jou gratis profiel en pak jou werksoekproses met selfvertroue aan.
Jou toekoms is in jóú hande!