
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Van klas tot kantoor: Hoe om jou eerste werk met selfvertroue aan te pak
Deur Liza Joubert
Die oorgang van student na jongwerkende is ʼn opwindende, maar soms oorweldigende fase in jou lewe. Ná jare van studeer, eksamens en groepsopdragte is jy nou gereed om jou plek in die werkplek in te neem. Maar hoe doen jy dit met selfvertroue? Die hele dinamika van klaskamer na kantoor verander voortdurend. Dit wat jy in die klas leer, is nie altyd ʼn spieëlbeeld van hoe dinge in die werkplek verloop nie. Jy word opgelei om sekere take te kan verrig, en gelukkig bly die konsepte dieselfde, maar die uitvoering kan van maatskappy tot maatskappy verskil.
Hier is ʼn paar praktiese wenke vir wanneer jy jou studies voltooi het en nou die werkplek betree:
1. Werk aan jou CV, dekbrief én jou aanlyn profiel
Dit is nie genoeg om net ʼn CV te hê nie. Maak seker jou LinkedIn-profiel of professionele aanlyn teenwoordigheid weerspieël wie jy regtig is. Gebruik ʼn netjiese, professionele foto, lys jou kwalifikasies en noem praktiese werkervaring soos vakansiewerk, projekte of vrywilligerswerk. Met Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap kan jy hulp met die CV-opstelproses, voorleggingstrategie en die opbou van jou aanlyn profiel kry. Dit skep ʼn professionele indruk op potensiële werkgewers.
2. Leer om vrae te vra en jou plek te vind
Een van die grootste verskille tussen klas en kantoor is dat daar dikwels nie ʼn handleiding vir elke situasie is nie. Jy sal self moet uitvra oor hoe prosesse werk, wie verantwoordelik vir watter take is en wat van jou verwag word. Dit toon nie swakheid nie, maar wys juis dat jy proaktief is. Berei jouself voor om vergaderings by te woon, notas te maak en ʼn bydra waar jy kan, te lewer.
3. Verstaan jou regte, maar ook jou pligte
Wanneer jy begin werk, is daar baie om te leer, maar moenie jou regte uit die oog verloor nie. Lees jou dienskontrak noukeurig deur. Verstaan hoe jou proeftydperk werk, wat jou werkure is en wat jy kan doen as jy probleme ervaar. Solidariteit se Jongwerkende-lede het toegang tot regsadvies, sodat jy altyd iemand kan kontak as jy onseker oor jou regte is of as iets jou ongemaklik laat voel. Onthou ook: as werknemer het jy die plig om professioneel op te tree, jou werk betyds te doen en jou span se sukses te ondersteun.
4. Bou jou vaardighede buite jou vakgebied
In jou studies het jy dalk op jou spesifieke vakgebied gefokus, maar die werkplek vereis breër vaardighede. Kommunikasie, spanwerk, probleemoplossing en selfs emosionele intelligensie is deurslaggewend. Jy kan, byvoorbeeld, leer hoe om konflik op te los, hoe om met kliënte te kommunikeer of hoe om jou werk doeltreffend te organiseer. Solidariteit bied kort kursusse aan wat jou kan help om hierdie vaardighede vinnig aan te leer, en dit wys werkgewers dat jy ernstig oor groei is. Boonop is dit gratis vir Solidariteit-lede! Vir slegs R102 per maand, kry jy toegang tot ongeveer 150 aanlyn leerkursusse, pasgemaak om jou ʼn hupstoot in die werkplek te gee. Lees meer.
5. Gebruik mentorskappe en jou netwerk om te groei
Jy hoef nie alles alleen te probeer uitpluis nie. Skakel in by jou beroepsnetwerk waar gesoute kenners jou kan touwys maak binne jou beroepsrigting. Hier kry jy die geleentheid om met ander jongmense in dieselfde lewensfase as jy te gesels, ervarings te deel en saam oplossings te vind. Solidariteit se mentorskapprogram is ook spesiaal vir jou om van een mentor te leer en saam met hulle ʼn pad te stap wat jou loopbaan vlerke kan gee. Dit kan jou help om slaggate te vermy en die regte ingesteldheid te ontwikkel om jou loopbaan op die beste manier te begin.
6. Wees geduldig met jouself
Laastens, onthou dat niemand alles op dag een weet nie. Jy gaan foute maak – dit is deel van die leerproses in jou eerste werk. Wat tel, is hoe jy dit hanteer. Vra vir hulp, terugvoer en wees gereed om te leer. Mettertyd sal jou selfvertroue groei soos wat jy meer vaardig en ervare raak.
Wees voorbereid, professioneel en werk met dit wat jy het. Jou geheime wapen is juis dat jy ruimte het om te groei – jy kan jouself opbou tot waar jy wil wees!
Skep jou gratis profiel op Solidariteit en sluit aan by ʼn gemeenskap wat wil sien hoe jy sukses behaal.