
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Slim geldbestuurwenke vir ’n veilige toekoms
Om jou finansiële toekoms te beveilig, vereis slim beplanning en doeltreffende strategieë. Ongeag of jy nou pas begin werk het of reeds jare lank in die arbeidsmark is, om jou geld verstandig te bestuur, sal verseker dat jy en jou gesin in die toekoms finansieel gesond sal wees.
Solidariteit het gaan aanklop by Jaco Mostert, ʼn finansiële adviseur by Solidariteit Finansiële Dienste, om duidelikheid te kry oor hoe jy jou geld slim kan laat werk vir die toekoms.
Beleggings: Bou ʼn portefeulje op wat werk vir jou
Beleggings is een van die beste maniere om jou geld vir jou te laat werk. Begin so vroeg as moontlik en wees geduldig. Hier is ʼn paar wenke om jou beleggingstrategie te versterk:
- Diversifiseer: Moet nooit al jou geld in een plek belê nie. Dit verminder risiko. Verdeel jou belegging oor verskeie opsies soos aandele, effekte en vaste eiendom.
- Doen jou navorsing: Leer oor die verskillende beleggingstipes. Begryp wat ʼn belegging inhou en wat die risiko’s is voordat jy jou geld toewys.
- Raadpleeg ʼn finansiële adviseur: ʼn Beleggingsadviseur, soos dié by Solidariteit Finansiële Dienste, kan jou help om ʼn portefeulje saam te stel wat met jou doelwitte en risikoprofiel ooreenstem.
- Langtermyndenke: Bly kalm, selfs tydens markdalings. Beleggings groei oor tyd; moenie paniekbevange verkoop as die mark onstabiel is nie.
Tweerekeningstelsel: Handhaaf ʼn gesonde balans tussen spaar en bestee
Die tweerekeningstelsel is ʼn maklike manier om geld vir noodsituasies beskikbaar te hê terwyl jy ook vir spesifieke doelwitte spaar.
- Spaarrekening: Hierdie tipe bankrekening is vir jou langtermyndoelwitte. Gebruik dit om geld te spaar vir groot aankope of vir jou kind se toekoms. Jy kan maandelikse debietorders vir jou spaarrekening opstel om konsekwent te spaar.
- Bestee-rekening: Dit is geld wat jy vir daaglikse uitgawes gebruik. Dit sluit dinge in soos kos, petrol en vermaak. Probeer voorkom dat jy van jou spaarrekening moet leen om hierdie uitgawes te dek.
Die geheim van die tweerekeningstelsel is om ʼn balans te handhaaf tussen spaar en bestee, en seker te maak dat jy jou doelwitte aanhou bereik sonder om onnodige skuld op te bou.
Aftrede: Begin vroeg en spaar konsekwent
Aftrede voel dalk ver, maar hoe vroeër jy begin beplan, hoe beter. Hier is hoe jy dit kan aanpak:
- Maak gebruik van ʼn aftreefonds: Sluit aan by jou werkgewer se aftreefonds of open jou eie uittree-annuïteit. Dit bied belastingvoordele en gee jou die kans om ʼn stewige spaarfonds vir jou goue jare op te bou.
- Pas jou lewenstyl aan: As jy van werk verander, dra jou aftreegeld oor na jou nuwe aftreefonds of na ʼn preserveringsfonds.
- Verhoog jou bydraes gereeld: Soos jou salaris groei, moet jy jou aftreefondsbydraes verhoog om jou spaargeld in lyn te bring met inflasie en jou aftreebehoeftes.
- Die sleutel is om gereeld en konsekwent by te dra, en om jou aftreebeplanning aan te pas soos jou situasie verander.
Jou kind se toekoms: Beplan lank vooruit
Dit is elke ouer se droom om vir hul kind die beste toekoms te verseker. Finansiële beplanning speel ʼn groot rol in hierdie proses.
- Studiepolis: Oorweeg dit om ʼn studiepolis vir jou kind uit te neem. Dit help om toekomstige universiteitsgelde te dek en verseker dat jou kind sonder finansiële druk kan studeer.
- Langtermynspaar: Spaar op ʼn gereelde grondslag vir jou kind se opvoeding en ander groot uitgawes. Beleggingsplanne wat oor ʼn tydperk van 10 tot 20 jaar groei, bied gewoonlik goeie opbrengste.
- Leer jou kind oor geld: Begin vroeg om jou kind te leer oor die belangrikheid van spaar en om geld te bestuur. Dit help hulle om verantwoordelike finansiële besluite te neem.
Finansiële beplanning is ʼn lewenslange proses wat jou sal help om sekuriteit vir jou en jou gesin te verseker. Beleggings, ʼn spaarrekening en transaksierekening, aftreebeplanning en om te spaar vir jou kind se toekoms is noodsaaklik om finansiële vryheid te bereik. Solidariteit Finansiële Dienste kan jou op hierdie reis bystaan met kundige raad en praktiese hulpmiddels om seker te maak jy werk slim met jou geld vir die toekoms.