

Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Sluipmoord op Charlie Kirk: ʼn Tragiese aanval op Westerse waardes
Deur Leré Nel
Op 10 September 2025 is die wêreld tot stilstand geruk deur die koelbloedige sluipmoord op Charlie Kirk. Kirk, ʼn Amerikaanse konserwatiewe politieke aktivis, skrywer en mediapersoonlikheid, was die medestigter van die organisasie Turning Point USA. Hierdie organisasie se hoofdoel is om oop gesprekke en debatte te fasiliteer ten einde konserwatiewe, Christelike waardes weer te laat opleef onder die jeug van Amerika.
Maar wat het dit met ons hier in Suid-Afrika uit te waai? En spesifiek, met Afrikaners?
Op die ou end was Kirk nie net ʼn aktivis nie. Hy was ʼn gesinsman, ʼn Christen, ʼn man en ʼn pa. Hy het opgestaan vir verdraagsaamheid, vir gesprek, vir konserwatiewe waardes en vir geloof. Hy het probeer om Westerse waardes in ʼn kultuur te bevorder waar dit al hoe minder aanvaar word. En daarvoor moes hy straks stilgemaak word.
Die linkse media het natuurlik ná die voorval gevra: “Wat het hy gesê om die skietery te ontlok?” My vraag is: Kan enigiemand enigiets sê wat die neem van hulle lewe regverdig? Hier by ons is oorgenoeg openbare uitsprake van politici met wie ons nie saamstem nie, maar verdien hulle om daarvoor te sterf? Net omdat iemand se waardes en opinies anders is as joune, beteken dit dat hulle die dood verdien?
ʼn Mens kan nie anders as om te wonder oor die rol van opswepery deur die linkse media in die oploop tot hierdie voorval nie. Ons sien keer op keer hoe mense wat konserwatiewe en Christelike waardes bevorder, deur die linkse media swartgesmeer en gedemoniseer word. En as iemand genoeg van hierdie valse nuus geïnternaliseer het en uiteindelik heeltemal gebreinspoel is, kan dit heel moontlik lei na onaanvaarbare, koelbloedige, haatgedrewe optrede, soos hierdie moord.
Charlie Kirk se moord volg kort op die hakke van nog ʼn haat- en rasgedrewe moord: dié van Iryna Zarutska, ʼn Oekraïense vlugteling wat op ʼn trein in Noord-Carolina, VSA doodgesteek is. Die moordenaar, Decarlos Brown, is duidelik gehoor toe hy gesê het: “I got that white girl.”
Sê hierdie voorvalle nie iets oor die onverdraagsaamheid teenoor Westerse waardes en idees nie? Is dit dieselfde onverdraagsaamheid teenoor ons leefwyse wat ons as Afrikaners hier in Suid-Afrika ervaar?
Zarutska het niks verkeerd of onwettig gedoen nie – sy was net op die trein. Charlie Kirk het niks verkeerd of onwettig gedoen nie. Hy het inteendeel probeer om Amerikaanse burgers weer nader aan mekaar te bring deur nodige en gesonde gesprekke op ʼn respekvolle manier te voer. En hy het met álmal wat bereid was ʼn gesprek gevoer. Hy was ʼn voorstander van konserwatiewe waardes, gesinswaardes en geloof – dieselfde waardes waarvoor Solidariteit ook staan.
Ons betuig ons innige medelye aan Kirk se vrou, Erika, en hul twee kinders. Mag die Here se troos met Kirk se gesin wees.
“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matteus 5:4, 1983-vertaling)
Laat almal wat in dieselfde stryd as Kirk glo, sy nalatenskap voortsit en God in hierdie saak as Regter erken.
“Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; ék sal vergeld,’ sê die Here.” (Romeine 12:19, 1983-vertaling)
Charlie Kirk is dalk stilgemaak, maar sy nalatenskap sal voortleef. Miljoene mense en duisende ander organisasies wêreldwyd glo in dieselfde waardes as hy en sal sy stryd voortsit.