loading
avatar
Mediaverklarings
12 uur gelede
solidariteit-se-lastersaak-teen-minister-gaan-onbestrede-voort

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit se lastersaak teen minister gaan onbestrede voort

Die lastersaak wat Solidariteit teen Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, aanhangig gemaak het, gaan onbestrede voort. 

Dit volg nadat nóg Ntshavheni nóg die tweede respondent in die saak, president Cyril Ramaphosa, dit nodig geag het om binne die vasgestelde sperdatum ʼn teenreaksie in te dien om Solidariteit se saak te probeer weerlê. 

Hierdie lastersaak spruit vanuit uitlatings wat Ntshavheni op 27 Maart 2025 gemaak het, waar sy beweer het dat Solidariteit en AfriForum voortgaan met waninligtingsveldtogte. Die uitsprake is kort ná hierdie organisasies se eerste besoek aan die VSA in 2025 gemaak.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is dit geen verrassing dat die regering nie van die geleentheid gebruik gemaak het om sy saak te stel nie. 

“Daar is en was geen bewyse van waninligting wat Solidariteit in die VSA verkondig het nie, en daar is ook geen oortreding van wette begaan wat ʼn ondersoek na hoogverraad regverdig nie. Solidariteit het tydens sy besoek, en ook tydens sy huidige besoek aan die VSA en die Withuis, aan die kant van die waarheid gestaan, en dit is omdat daardie waarheid ons regering in die verleentheid stel, dat hy dit so haat,” sê Hermann.

Die skadevergoeding wat Solidariteit in die lastersaak van Ntshavheni eis, sou sy skuldig bevind word, sal deur Solidariteit Helpende Hand aan behoeftiges geskenk word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel