Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
3 uur gelede
so-dryf-sa-se-rasbeleid-minderhed-uit-se-solidariteit-aan-europese-parlement

Fotokrediet: Solidariteit

‘Só dryf SA se rasbeleid minderhede uit,’ sê Solidariteit aan Europese Parlement

Solidariteit het vandag in die Europese Parlement gewaarsku dat die Suid-Afrikaanse regering se toenemende raswetgewing, asook staatsverval en vyandigheid jeens minderhede, Afrikaners stelselmatig uit hul eie land dryf.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, het dié boodskap tydens ʼn byeenkoms van Patriots for Europe in Brussel gelewer. Kleynhans is tans op ʼn skakelbesoek aan Europa.

In sy toespraak het hy aangevoer dat die amptelike verhaal van versoening, ʼn reënboognasie en positiewe transformasie al hoe verder verwyderd raak van die werklikheid wat gewone Suid-Afrikaners beleef.

“Die verskuilde waarheid oor Suid-Afrika is dat ras weer die ordeningsbeginsel van die staat geword het. Dit gebeur nie per ongeluk nie, maar deur wetgewing, regulasies, teikens en kwotas wat mense volgens velkleur kategoriseer en minderhede as ʼn probleem behandel wat bestuur moet word,” het Kleynhans gesê.

Volgens Kleynhans het die ANC nooit ten volle van ʼn revolusionêre bevrydingsbeweging na ʼn regering in diens van alle burgers ontwikkel nie. Dit blyk uit sy sosialistiese ideologie, struggle-retoriek en buitelandse beleidsbelyning met onder meer Rusland, China, Iran en Kuba.

Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika vandag deur ʼn omvangryke netwerk van raswette, kodes en teikens beheer word. Die gewysigde Wet op Gelyke Indiensneming verleen byvoorbeeld aan die minister die mag om numeriese rasse-teikens vir 18 beroepsektore vas te stel.

Solidariteit voer reeds verskeie regstryde teen hierdie herrassifikasie van die Suid-Afrikaanse samelewing.

“Wanneer die beste kandidaat weens sy ras as oorbodig in ʼn minister se rassesomme beskou word, is dit beslis nie gelykheid voor die reg nie. Dit is absolute uitsluiting wat as geregtigheid vermom word,” het Kleynhans gesê.

Hy het ook die ekonomiese prys van rasbeleid beklemtoon. Navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) en die Vryemarkstigting raam die jaarlikse koste van voldoening aan swart ekonomiese bemagtiging op tussen R145 miljard en R290 miljard – sowat 2% tot 4% van die bruto binnelandse produk.

Volgens Kleynhans word groei, werksgeleenthede en dienslewering ter wille van hierdie rassesomme en tot voordeel van ʼn klein, polities verbonde elite opgeoffer. Dieselfde ingesteldheid het staatskaping en die verval van Eskom, Transnet en talle munisipaliteite moontlik gemaak.

Hy het ook gewaarsku dat Suid-Afrika se buitengewone vlakke van geweld, waaronder wrede plaasaanvalle, nie van staatsverval losgemaak kan word nie. Gemeenskappe moet toenemend hul eie veiligheid finansier, terwyl emigrasie en ʼn verouderende minderheidsbevolking toon hoe vertroue in ʼn toekoms in die land afneem.

“Afrikaners is nie tydelike besoekers aan Afrika nie. Ons taal, kerke, skole, universiteite, plase en kultuur is oor bykans vier eeue hier opgebou.

“Ons is van Afrika én deel van die Westerse beskawing. Ons sal nie as ʼn volk emigreer of verskoning vra omdat ons hier wil voortbestaan nie,” het Kleynhans gesê.

In sy toespraak het Kleynhans beklemtoon dat Solidariteit nie vir internasionale simpatie vra nie, maar vir eerlike erkenning en samewerking.

Die doelwit moet wees die beëindiging van raswetgewing, beskerming van moedertaalonderrig en gemeenskapsinstellings, ruimte vir gemeenskapsveiligheid en die erkenning dat selfbeskikking ʼn normale demokratiese strewe is.

“Ons antwoord op staatsverval en uitsluiting is nie om te verdwyn nie, maar om te bou. Ons sal ons eie instellings versterk, ons gemeenskappe beveilig en internasionale steun werf vir die reg om as Afrikaners vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika voort te bestaan,” het Kleynhans afgesluit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel