Fotokrediet: Pexels
Gekopieër
Volkswagen-waarskuwing uit Europa laat rooi ligte ook in motorwaardeketting in SA flikker
Robin-Lee Maré
Solidariteit sê Volkswagen se beoogde grootskaalse besnoeiings in Europa behoort ook rooi ligte vir Suid-Afrika se motorbedryf te laat flikker.
Volkswagen oorweeg verdere besnoeiings van tot 50 000 poste wêreldwyd, bo en behalwe die sowat 50 000 poste wat reeds deel van die groep se besparingsplanne vorm. Die grootste deel van die druk is in Europa, veral Duitsland, waar verskeie aanlegte se toekoms onseker is.
Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, beteken die fokus op Europa egter nie dat Suid-Afrikaanse werknemers buite gevaar is nie.
“Volkswagen het ’n reusebelegging in sy aanleg in Kariega gemaak en dit is beslis positief. Dit maak die aanleg egter nie immuun teen die druk wat die internasionale motorbedryf tans ervaar nie. Baie van dieselfde probleme wat Volkswagen oorsee knou, is ook hier teenwoordig,” sê Venter.
Volkswagen se internasionale uitdagings sluit onder meer sterk mededinging uit China, hoë produksiekoste, tariewe en druk op winsgewendheid in.
Volgens Venter is Suid-Afrika se eie uitdagings boonop ’n verdere bron van kommer. Hoë logistieke en elektrisiteitskoste, onbetroubare infrastruktuur en goedkoop ingevoerde produkte plaas plaaslike vervaardigers en hul werknemers onder toenemende druk.
“Nasionale Vereniging van Motorvoertuigvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA) se jongste data wys dat ingevoerde ligte voertuie in 2025 ongeveer 69,1% van alle ligtevoertuigverkope verteenwoordig het, teenoor 62,7% in 2024. China was verantwoordelik vir 91 326 ligtevoertuiginvoere, oftewel 23,3% van alle ligtevoertuiginvoere, teenoor 17,1% in 2024.”
’n Verdere aanduiding van hoe vinnig die nuwe motormark verander kom uit voertuigfinansiering. WesBank se uitvoerende hoof, Robert Gwerengwe, het in Augustus 2026 gesê Chinese voertuie het ongeveer 40% van die nuwe voertuie wat WesBank in Julie gefinansier het, verteenwoordig, teenoor slegs 0,01% in 2016. Dit is WesBank se finansieringsdata en nie ’n maatstaf vir die hele Suid-Afrikaanse voertuigmark nie, maar dit wys hoe vinnig Chinese handelsmerke binne die afgelope dekade van ’n byna onbeduidende teenwoordigheid tot ’n wesenlike deel van die gefinansierde nuwevoertuigmark gegroei het.
Die kommer oor die motorwaardeketting se mededingendheid strek egter verder as nuwe voertuigvervaardiging.
Volgens Venter is soortgelyke druk reeds sigbaar by plaaslike motorkomponentvervaardigers en in die bandevervaardigingsbedryf, wat albei ’n integrale deel van dieselfde motorwaardeketting vorm.
“Dit is juis wat ons bekommer; die gevaar lê nie net by een maatskappy of een sektor nie. Die hele waardeketting kom onder druk wanneer vervaardigingskoste styg en plaaslike ondernemings al moeiliker met goedkoop invoere kan meeding.”
Die komponentsektor het volgens die Nasionale Vereniging van Motorvoertuigkomponent- en Verwante Vervaardigers (NAACAM) oor die afgelope drie jaar ongeveer 7 500 poste verloor, en sowat 15 ondernemings het gesluit.
Die spanning strek nog verder. Venter meen Solidariteit hou die situasie by nuwe bandevervaardigers dop, veral na die sluiting van Goodyear se Kariega-aanleg in 2025, waar 907 poste geraak was. Dit was ’n duidelike waarskuwing oor die volhoubaarheid van plaaslike bandevervaardigingsindustrie en die nuutste statistiek lewer steeds ʼn kommerwekkende prentjie.
“Handelsdata wys dat Suid-Afrika se invoere van nuwe passasiersmotorbande (HS 401110) van ongeveer 5,34 miljoen eenhede in 2022 tot 5,72 miljoen in 2023 en 6,13 miljoen in 2024 gestyg het. China se aandeel is groot en het van ongeveer 2,73 miljoen eenhede in 2022 tot 2,60 miljoen in 2023 en 3,48 miljoen in 2024 gestyg. Thailand het in dieselfde jare ongeveer 0,60 miljoen, 1,07 miljoen en 0,57 miljoen passasiersmotorbande gelewer. Hierdie data dek nuwe passasiersmotorbande en toon ’n sterk groei in totale invoere oor die drie jaar, met China as die grootste enkele bron in 2024.”
Venter waarsku die jongste verwikkelinge by Volkswagen wys hoe vinnig druk in die internasionale motorbedryf in werksverliese kan omsit.
Hy sê Solidariteit erken dat ondernemings in ’n internasionale mark moet meeding en dat kostedoeltreffendheid noodsaaklik is vir enige vervaardigingsaanleg se voortbestaan. Die oplossing kan egter nie wees om eers op te tree wanneer ’n fabriek reeds in ’n herstrukturerings- of afleggingsproses is nie.
“Ons moet eerder vra wat die regering, ondernemings, vakbonde en ander rolspelers nou kan doen om Suid-Afrika se vervaardigingsbasis meer mededingend te maak. Energie- en logistieke koste, hawens, paaie, spoorinfrastruktuur, munisipale dienslewering, invoerbeleid, plaaslike inhoud en vaardigheidsontwikkeling moet deel van hierdie gesprek wees.
“Ons wil nie alarm maak waar dit nie nodig is nie, maar daar is geldige rede tot kommer. Potensiële werksverliese kruip al hoe nader en Suid-Afrika kan nie bekostig om nóg goeie vervaardigingsposte te verloor nie.”