Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
4 uur gelede
solidariteit-maan-dkd-oor-mangaung-werknemers-en-waarsku-oor-litigasie

Fotokrediet: OkayDeer

Solidariteit maan DKD oor Mangaung-werknemers en waarsku oor litigasie

Solidariteit het die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) aangemaan om uitvoering te gee aan die bestaande hofbevel rakende die Mangaung- korrektiewe sentrum en sy werknemers. Sien die aanmaning hier aangeheg.

Solidariteit oorweeg moontlike litigasie indien die DKD steeds versuim om uitvoering aan die bevel te gee.

Dié stap volg nadat die minister van korrektiewe dienste, die nasionale kommissaris en die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) versuim het om behoorlik op ‘n vorige skrywe van Solidariteit te reageer.

Die arbeidshof het reeds op 30 April 2026 beslis dat die DKD se oorname van die Mangaung- korrektiewe sentrum vanaf 1 Julie 2026 ʼn oordrag ingevolge artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge is.

Die sentrum word nou na die Grootvlei-gevangenis herdoop.

Die betrokke G4S-werknemers moes gevolglik outomaties na die DKD oorgeplaas word, met die voortsetting van hul diens en die regte en verpligtinge wat ingevolge die Wet en die hofbevel beskerm word.

“ʼn Hofbevel is nie ʼn uitnodiging wat die staat bloot kan ignoreer soos dit hom pas nie,” sê Theunis van Staden, koördineerder van die openbare sektor by Solidariteit.

Volgens Van Staden het talle werknemers op 1 Julie vir diens by die gevangenis aangemeld, maar is toegang geweier. Baie van die betrokke lede sit sedertdien sonder hul gereelde salaris en ononderbroke diensvoordele van óf G4S óf die DKD.

Die gevolge hiervan raak nie net agterstallige salarisse nie, maar ook werknemers en hul gesinne se mediese dekking, chroniese behandeling, pensioen- en risikovoordele, behuising, skuldverpligtinge en ander basiese huishoudelike behoeftes.

“Werknemers en hul gesinne kan nie voortgaan om die prys te betaal vir ʼn geskil tussen hul voormalige werkgewer en die staat nie.

“Die DKD het genoeg tyd en ʼn billike geleentheid gehad om met ʼn werkbare oplossing vorendag te kom. Daardie tyd het nou uitgeloop. Solidariteit het die DKD aangemaan om uitvoering aan die hofbevel te gee en oorweeg verdere litigasie indien dit nie gebeur nie,” sê Van Staden.

Solidariteit werk ook intussen saam met Solidariteit Helpende Hand om noodondersteuning aan geaffekteerde lede te bied.

Hierdie ondersteuning is egter slegs noodverligting en vervang geensins die verpligtinge wat volgens Solidariteit uit die arbeidshof se bevel voortvloei nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel