loading
Blogs
1 maand gelede
so-is-daar-elke-liewe-dag-goud-silwer-en-brons-vir-suid-afrika

Foto Krediet: Solidariteit

Só is daar elke liewe dag goud, silwer en brons vir Suid-Afrika

Deur Pieter Jordaan

Kan jy jou voorstel dat medaljes uitgedeel word aan gewone Suid-Afrikaners wat, sónder hulp van die regering, iets van hul lewens maak?

Oor die afgelope weke het ons almal saam súlke prestasies op Olimpiese sportvlak gevier toe Suid-Afrikaanse sportsterre ses medaljes en groeiende aansien by die Spele in Frankryk verwerf het.

Opvallend ook was die onthullings agterna hoe hierdie prestasies moontlik was sonder veral finansiële steun van die Suid-Afrikaanse Olimpiese Komitee (Saskok), óf die departement van sport.

Spiesgooier Jo-Ané van Dyk en bergfietsryer Alan Hatherly was onder die enkelinge wat glo sonder Saskok-steun moes uitstyg en Van Dyk het spesifiek aangedui hoe haar ouers geldelik moes opdok sodat haar droom bewaarheid kon word.

Die gebrek aan amptelike steun het haar weliswaar nie gekeer om die hoogste vlak te bereik nie en die silwermedalje wat sy in Parys verwerf is ‘n glinsterende en welverdiende bewys daarvan.

Ons voel almal saam trots op haar, én op almal  die ander, vir deursettingsvermoë en bereidwilligheid om uitdagings die hoof te bied – en natuurlik vir hulle uitsonderlike prestasies.

Tog is daar veel meer ooreenkomste tussen hierdie atlete en die res van ons as wat ons dalk mag besef.

Op eie bodem, in hulle eie omgewings, moet Suid-Afrikaners elke dag klippe uit die pad rol en selfs berge versit vir die voorreg om vry, veilig en voorspoedig in hul eie land te kan werk en woon.

Hulle doen dit nie net sonder staatshulp nie, hulle word selfs om elke hoek en draai deur die owerhede en afgunstiges belemmer en moet voortgaan om as individue of gemeenskappe te presteer ondanks vermorste belasting, hopelose administrasie en haglike ekonomiese omstandighede.

Dit is die werklikheid vir ons uitsonderlike sakegemeenskap en ook beroepslui in bykans elke beroepsveld. Ingenieurs, ambagslui, dokters, verpleegsters, regsgeleerdes, onderwysers of boere – hulle laat hulle eenvoudig nie onderkry nie.

Hierdie gesindheid kan ook onder ons sportlui gevind word, en dit maak ons trots en bly.

Om op die staat te vertrou is lankal nie meer ʼn luukse wat ons kan bekostig nie.

Ons mense gaan dus vasberade voort op ʼn pad wat besaai is met hindernisse, en doen ywerig wat gedoen móét word om die leefwêreld vir ons en vir ons kinders te skep. Dit is ʼn pad waarop ons kinders sal kan voortbou.

Suid-Afrikaners weet lankal dat daar ʼn ooraanbod van misdadigers en ʼn skaarsste aan sekuriteit is; hulle weet die lewenskoste gaan gedurig op, die krag gaan gedurig af, en hulle begryp hoe ʼn krimpende staatskas openlik met blink ampsmotors verband hou. En tóg, al hang daar nie goud, silwer of brons om gewone mense se nekke nie, kla hulle al minder en doen hulle selfs al hoe meer soos hulle – soms stroomop – die toekoms in beur.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel