loading
Blogs
6 maande gelede
so-kry-sa-se-ekonomie-werklik-weer-nuwe-lewe

Foto Krediet: Solidariteit

Só kry SA se ekonomie werklik weer nuwe lewe

Deur Theuns du Buisson

Suid-Afrika se infrastruktuur is van ʼn aansienlik beter gehalte as bykans enige plek in Afrika.

Nie net dit nie: Wat ons ook het is ’n reuse- jong werksmag. Ons oorheers die lys van top-universiteite op die vasteland, met sommiges wat selfs wêreldranglyste haal. Ons beskik oor alles wat van ʼn land ʼn sukses kan maak.

Ondanks dit alles, kon dit nie die land se ekonomie weerbaar maak teen ANC-regeringsbeleid en die destruktiewe uitwerking wat dit oor die laaste 30 jaar gehad het nie. Ons infrastruktuur werk dikwels glad nie en ons enorme werksmag sit in krotte, armoede en ellende en wag op ʼn beter toekoms. Baie het lankal enige hoop laat vaar.

En tog is die werklikheid dat dit nog nie te laat is nie. Ons ekonomie kán herleef. Solidariteit het selfs  ʼn ekonomiese herstelplan opgestel en aan die nasionale tesourie oorhandig, en ook gesorg dat dit in die hande van almal in die nasionale beplanningskommitee beland.

Daar is reeds hieroor met van die belangrikste besluitnemers in die regering gepraat.

Hierdie plan identifiseer vyf kerndoelwitte vir ekonomiese groei. Hierdie teikens is gegrond op beginsels wat oor duisende jare reeds deur verskeie regerings, denkers, ekonome en deur ervaring bewys is as voorvereistes vir ekonomiese groei.

Hulle is:

  1. 1. Die daarstel en instandhouding van infrastruktuur
  2. 2. ʼn Ligte belastinglas wat voorspelbaar is
  3. 3. ʼn Stabiele geldeenheid
  4. 4. ʼn Uitstekende, goed opgeleide werkmag
  5. 5. Die handhawing van wet en orde

Al vyf hiervan is doelwitte wat buitendien deur die regering nagejaag moet word, maar dikwels staar die regering hulle blind aan ideologiese oorwegings, soos dat groei aan hulle maatstaf van “inklusiwiteit” moet voldoen. Só ontstaan selfgeskepte hindernisse.

Wat die regering egter miskyk is dat álle groei tog inklusief is. Sodra ʼn nuwe onderneming geskep word, word mense wat andersins werkloos sou wees in diens geneem. Wat is meer inklusief as dit?

Ideologie – ook rasse-ideologie – het veral gesorg dat infrastruktuur nie na behore funksioneer nie. Dit behoort tog nie vir ʼn onderneming moeiliker te wees om sy produkte na die mark toe te bring, as wat dit was om hierdie produkte te produseer nie.

Tog lees ons elke jaar hoe vrugte op die hawens vrot en hoe miljarde rande se steenkool natreën en in die wind verwaai. Dit is alles omdat daar nie genoegsame treine of hawekapasiteit is om hierdie produkte te verskuif nie. Die elektrisiteitskrisis is vinnig besig om opgelos te word – nie as gevolg van die regering nie, maar juis oor die regering uit privaat opwekkers se pad beweeg het. Ons kort meer hiervan, en góú! Treine hoef immers nie aan die staat te behoort nie en hawens ook nie. So ook nie elektrisiteitsopwekking, onderrig, mediese sorg of amper alles anders nie.

Die beste ding wat die staat kan doen is om uit die pad uit te kom en hulp te verwelkom.

Die onderwysstelsel is ook lankal besig om ons mense in die steek te laat. Ons jong bevolking behoort in werklikheid ons grootste aanwins te wees. Daarvoor kort ons skole wat behoorlik funksioneer, en relevante en bruikbare vaardighede aan kinders oordra. Jong mense moet dan die geleentheid en die bevoegdheid kry om verdere opleiding te ontvang. Die beste opleiding is dikwels in die werkplek self. Vir dít om te kan realiseer moet daar natuurlik werksgeleenthede wees.

En dit is waar die belastingstelsel kan intree om die verskil te maak.

Alle beleggings in ontwikkeling, hetsy dit die oprig van nuwe ondernemings, beleggings in infrastruktuur of masjinerie is, moet onmiddellik van belasting aftrekbaar wees. Die nasionale tesourie kan hom nie verder blindstaar in ʼn bietjie belasting wat dalk in die eerste jaar verlore gaan wanneer hierdie kostes afgetrek word nie. Hulle moet eerder begryp dat hierdie ontwikkeling sónder ander se inisiatief in alle waarskynlikheid nooit eers sou gebeur nie.

Die tesourie moet ook in ag neem dat meer mense – persoonlike inkomstebelastingbetalers – op dié wyse in diens geneem word.

Dan moet daar ook nader beweeg word aan die internasionale teiken van ʼn korporatiewe inkomstebelastingskoers van 15%. Hoekom is dit tans hier 27%? Dit is meer as ʼn kwart van maatskappye se wins wat aan die staat oorbetaal móét word. Besef hulle dit is geld wat vir uitbreidings of salarisverhogings gebruik kon word?

Deur hierdie koers te hê wat dramaties hoër is as in ander ekonomieë is, verloor Suid-Afrika enige mededingende voordeel wat ons andersins sou kon hê. Bowenal ontmoedig so ʼn hoë koers beleggings in die plaaslike ekonomie.

Die handhaaf van wet en orde is uiteraard noodsaaklik. Niemand wil welvaart opbou in ʼn plek waar dit deur misdrywe van hulle ontneem kan word nie. Of dit deur die staat of deur kriminele gevat word, maak nie veel van ʼn verskil tydens die opweeg van risiko nie. Buitendien, wie sal bereid wees om ʼn onderneming op te rig waar sy werknemers voortdurend vir hulle lewens moet vrees?

Om hierdie wesenlike probleme aan te spreek stel Solidariteit voor dat ʼn nuwe prioriteitseenheid met ʼn eie begroting geskep word. Hierdie eenheid moet deur suiwer nie-politieke aanstellings en deur mense met bewese bestuurservaring bestuur word. Hulle sal dan een prioriteit op ʼn slag hê om oor ʼn tydperk van 18 maande aan te spreek.

Een goeie begin sal wees om die polisie se tekort aan toerusting, veral voertuie, aan te spreek. Die begroting moet afsonderlik van die betrokke departement se begroting spandeer word, anders val dit bloot in die bodemlose put waarvandaan die probleme in die eerste plek gekom het.

En dan kan nóg ‘n prioriteit die regruk van skole wees. Dit is vanselfsprekend ʼn noodsaaklikheid.

Deur hierdie eenvoudige prioriteite behoorlik deur te voer kan ons die land se mense aan die werk kry. Dit ís moontlik, maar vereis ʼn gewilligheid van owerhede om te verander en tot aksie oor te gaan.

Ook om tot die besef te kom dat ekonomiese groei nie ʼn syfer of statistiek is nie. Dit is eerstens mense wat uit armoede ontsnap om sodoende vir hulself, en hulle kinders, ʼn beter toekoms te verseker.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel