Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die SOS vier Afrikaanse skole met 2024-matriekverslag
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het op 28 Januarie 2025 sy 2024-matriekverslag bekendgestel. Hierdie verslag bied insigte in die nasionale uitslae van die 2024-matriekklas en bevestig die waarde van moedertaalonderrig. Die SOS prys die harde werk van matrikulante, onderwysers en ouers. Lees hier meer oor dié verslag.
Deur Kyla-Ann du Toit
“Ons moet voortbou op die merkwaardige prestasies van topskole en verseker dat meer leerders toegang het tot betekenisvolle onderwysgeleenthede.” Dít is die woorde van Leon Fourie, uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) ná die bekendstelling van hul 2024-matriekverslag.
Die SOS het op 28 Januarie 2025 sy jaarlikse Matriekverslag vir 2024 by Hoërskool Waterkloof bekendgestel. Hierdie verslag bied insigte in die nasionale uitslae van die 2024-matriekklas en beklemtoon die merkwaardige prestasies van Afrikaanse skole tydens die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS)-eksamen.
Fourie is van mening dat hierdie verslag die potensiaal beklemtoon van doelgerigte ondersteuning en innoverende strategieë om die onderwysstelsel se uitdagings die hoof te bied. “Dit is vir die SOS belangrik om na die holistiese ontwikkeling van elke leerder te kyk en om te verseker dat hulle toekomsvaardighede en kernwaardes aanleer,” sê hy.
Nasionale verbetering in matriekprestasie
Volgens die SOS is daar ʼn noemenswaardige verbetering in die nasionale slaagsyfer oor die afgelope dekade, met 100 000 meer matrikulante wat in 2024 as in 2015 geslaag het. Provinsies soos die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo het veral reusevordering getoon. KwaZulu-Natal, wat 23% van die land se graad 12-groep verteenwoordig, het 41% van die onderskeidings en 58% van die universiteitvrystellings opgelewer. Hoewel doelgerigte ingryping ʼn groot rol gespeel het, beklemtoon faktore soos die hoë uitvalsyfer die komplekse aard van hierdie prestasies.
Afrikaanse skole se uitmuntende bydrae
Die verslag toon dat Afrikaanse skole weereens bewys het dat hulle uitnemendheid in onderwys handhaaf. Die volgende statistieke beklemtoon hierdie skole se sukses:
- Slaagsyfer vir Wiskunde: 84,5% (wat 15,4% hoër is as die nasionale gemiddeld)
- Wiskunde-onderskeidings: Afrikaanse skole het drie keer meer onderskeidings behaal as die nasionale gemiddeld.
- Algemene prestasie:
- 2,2% hoër slaagsyfer as die nasionale gemiddeld
- 5,6% meer universiteitsvrystelling
- 5,5% meer onderskeidings
Onder die groot Afrikaanse skole het Hoërskool Waterkloof 811 onderskeidings behaal, gevolg deur Hoërskool Menlopark met 755 en Hoërskool Garsfontein met 708. Wat onderskeidings per kandidaat betref, het Hoër Meisieskool Bloemhof uitgeblink met ʼn gemiddeld van 3,82 A’s per kandidaat, met Hoër Meisieskool La Rochelle en Afrikaanse Hoër Meisieskool wat onderskeidelik 3,12 en 2,95 A’s per kandidaat behaal het.
Onder die klein skole (met ʼn minimum van 10 en ʼn maksimum van 50 matrikulante) het Hoërskool Lutzville uitgeblink met 53 onderskeidings, gevolg deur Gelofte Skool met 51 en Hoërskool Hoopstad met 43. Die meeste onderskeidings per kandidaat in hierdie kategorie is deur Hoërskool Stella (1,50), Hoërskool Hoopstad (1,34) en Hoërskool Lutzville (1,33) behaal.
Moedertaalonderrig en ʼn sterker onderwysstelsel
Die sukses van Afrikaanse skole in die 2024-matriekuitslae bevestig die waarde van moedertaalonderrig. Volgens Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, behoort moedertaalonderrig na ander tale soos isiZulu en isiXhosa uitgebrei te word om gehalte-onderwys in álle gemeenskappe te verseker.
Ten spyte van Afrikaanse skole se sukses, toon die verslag ook enkele kommerwekkende tendense. Die aantal Afrikaanse skole wat die NSS-eksamen skryf, het sedert 2021 van 686 tot 555 afgeneem en slegs 50,3% van leerders wat in 2013 met graad 1 begin het, het matriek geslag.Meer as 139 000 matrikulante het minder as 30% in een van die verpligte Wiskundevakke behaal.
Hierdie statistieke beklemtoon die kritieke behoefte aan verbeterde leerderondersteuning en ʼn sterker fokus op deurvloeikoerse in die onderwysstelsel. Daarom doen die SOS ʼn beroep op die departement van basiese onderwys om suksesvolle strategieë landwyd te implementeer en sodoende ʼn sterker onderwysstelsel te verseker.
Moedertaalonderrig is die sleutel tot sukses
Die SOS prys die harde werk van matrikulante, onderwysers en ouers. Hierdie jong mense se sukses is ʼn inspirasie en bevestig dat deur doelgerigte ondersteuning en spanwerk, betekenisvolle verandering in die onderwys moontlik is.
ʼn Goeie onderwysstelsel en opleiding is ook vir Solidariteit van onskatbare waarde en ons glo dat ʼn suksesvolle toekoms gebou word op die fondament van gehalte-onderwys, moedertaalonderrig, én die ondersteuning van ons skole, leerders en onderwysers. Solidariteit wil dus verseker dat elke jong mens toegang het tot die nodige gereedskap en vaardighede om nie net te droom nie, maar hul drome te kan uitleef.
Solidariteit bly dus toegewyd aan die beskerming van die belange van Afrikaanse skole, moedertaalonderrig, leerders en onderwysers.
Klik hier vir toegang tot die SOS se 2024-matriekverslag of lees hier meer oor die toppresterende Afrikaanse skole vir 2024.