loading
Artikels
2 dae gelede
vape-in-die-werkplek-n-wolk-van-omstredenheid-of-n-vars-asemteug

Foto Krediet: Solidariteit

‘Vape’ in die werkplek: ’n Wolk van omstredenheid of ’n vars asemteug?

Hoe voel jy oor “vape” in die werkplek? Solidariteit se Beroepsgesondheid en -veiligheidafdeling het talle vrae hieroor ontvang en deel graag die wetlike aspekte van hierdie kwessie. Lees gerus!


Deur Bianca  Prinsloo           

In die afdeling Beroepsgesondheid en -veiligheid by Solidariteit het ons al menigmaal navrae ontvang oor die gebruik van e-sigarette of “vaping”, soos die meeste van ons dit ken.

Die vrae is gewoonlik:

“Is dit toelaatbaar in die werkplek?”

“Mag my baas reëls skep rakende hierdie aktiwiteit?”

“Ek mag dan nie rook in my kantoor nie, maar my kollegas mag “vape”. Is dit regverdig?”

Dié eenvoudige vrae het ongelukkig nie so ’n eenvoudige antwoord nie.

Kom ek verduidelik.

In Suid-Afrika word rook in die werkplek deur die Wet op die Beheer van Tabakprodukte (No. 83 van 1993) gereguleer. Hierdie wetgewing verbied rook in geslote openbare ruimtes, behalwe in aangewese rookareas. Dit is presies wat die geval met die meeste restaurante ook is.

Aangesien die wet spesifiek na tradisionele tabakprodukte verwys, sluit dit nog nie “vapes” of e-sigarette in nie. Die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels moet nog net deur die parliament goedgekeur word voor pres. Cyril Ramaphosa dié wetsontwerp onderteken.

Die wetsontwerp beoog egter om e-sigarette te reguleer op dieselfde manier as wat die gebruik van gewone sigarette gereguleer word. Dit beteken dat werkgewers die volgende sal móét instel by hul werkplekke sodra hierdie wetgewing gepromulgeer word:

  • • ’n verbod op “vaping” of die gebruik van e-sigarette in openbare areas en werkplekke, tensy aangewese areas daarvoor toegestaan word; en
  • • die afdwing van beperkings en aangewese areas.

Alhoewel daar tans ’n leemte in die wetgewing is wat “vapes” en e-sigarette aanbetref, is dit heeltemal binne werkgewers se regte om dit in hul werkplekbeleide in te voeg, juis omdat werkgewers ingevolge artikel 8 van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid (No. 85 van 1993) ’n wetlike plig het om ’n veilige en gesonde werkplek aan werknemers te verskaf.  “Vapes” en sommige e-sigarette word as minder skadelik as tabaksigarette beskou, maar is nogtans nie sonder risiko nie. Daar moet dus omgesien word na die gesondheid van werknemers wat nie “vapes” of e-sigarette gebruik nie.

Die toenemende gebruik van “vapes” en e-sigarette het ’n grys area vir werkplekbeleide geskep, en werkgewers ontvang al hoe meer versoeke om “vapes” en e-sigarette dieselfde as tabakprodukte te hanteer. Die kans dat die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels gepromulgeer gaan word, is groot, dus moet werkgewers solank voorbrand maak daarvoor en dit in ag neem wanneer hulle hul werkplekbeleide opstel en aanpas.

Ongeag of hierdie artikel vir jou omstrede is en of dit dalk verligting soos ’n vars asemteug bring, dit bly steeds werkgewers se verantwoordelikheid om ’n gesonde en veilige werksomgewing te verseker.

Dit is ’n wetlike plig wat nagekom móét word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel