loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
soe-bevindings-verleen-stukrag-aan-solidariteit-dossier-oor-denel

Foto Krediet: Solidariteit

SOE-bevindings verleen stukrag aan Solidariteit-dossier oor Denel

Solidariteit is bemoedig deur bevindings en aanbevelings van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) wat grootskaalse wanbestuur en korrupsie tydens die staatskapingsera by Denel aan die kaak stel.

Hierdie bevindings het die potensiaal om oplaas stukrag aan Solidariteit se sogenaamde Denel-dossier te gee wat in April 2018 die lig gesien het. In die dossier is wanbestuur en korrupsie van Denel se bestuur blootgelê terwyl Solidariteit op ʼn latere tydstip ook kriminele klagte ingedien het teen topbestuurlede van Denel wat in die dossier geïmpliseer word.

Volgens Derek Mans, netwerkkoördineerder vir die lugvaart- en verdedigingsektor by Solidariteit, moet die SOE-bevindings nou tot dringende optrede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) lei sodat die skuldiges aan die pen kan ry.

“Dit is reeds sewe jaar nadat die dossier uitgereik is, en hopelik sal geregtigheid nou geskied nadat die korruptes ongekende skade aangerig het aan Denel sélf en aan die lewens van werknemers wat die prys moes betaal vir die feit dat Denel tot op die rand van ineenstorting gestroop is.

“Boonop sien ons nou met die treurspel wat in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK)  afspeel, waar verskeie Suid-Afrikaanse soldate sonder die nodige toerusting aan die vyand uitgelewer is, hoe groot die impak van verval kan strek. Die wanbestuur van Denel het dus ook die land se nasionale veiligheid kwesbaar gelaat,” sê Mans.

Solidariteit glo dit is onaanvaarbaar dat nagenoeg R9 miljard se reddingsboeie oor die afgelope vyf jaar aan Denel betaal is en dat hierdie groot belastinguitgawes tog nie vir die wapenvervaardiger genoeg was om sy omkeerstrategie in werking te stel nie.

“Nóg befondsing gaan beslis ook nie werk om Denel van koers te laat verander nie. Dringende hervorming en ingryping is nodig en dit benodig optrede van Denel se leierskap en die Departement van Verdediging onder leiding van minister Angie Motshekga.

“Ons nasionale veiligheid en ons soldate in die buiteland kan beslis nie langer opgeoffer word terwyl daar nou wél oplossings gegee word nie,” sê Mans.

Hervormingsvoorstelle vir Denel wat Solidariteit ingedien het, sluit in geoormerkte befondsing vir projekte asook die beëindiging van kruissubsidiëring en ʼn verbintenis tot vennootskappe met die privaat sektor.

In Solidariteit se Denel-dossier van April 2018 is onder meer aangedui hoe Denel se topbestuur ten tye van ʼn finansiële krisis, waartydens werknemers nie betaal kon word nie, tot 60%-verhogings asook 100% prestasiebonusse ontvang het.

Daar is tóé reeds vir ʼn forensiese ondersoek gevra na hierdie finansiële wanbestuur asook na verdagte tenderprosedures, minagting van beleidsprosedures en selfs nepotisme wat te doen gehad het met die toekenning van ʼn beurs ter waarde van R1,2 miljoen aan die seun van die destydse premier van Noordwes, Supra Mahumapelo.

Hierdie dossier is destyds aan die regering oorhandig. Dit is nou, jare later, ook in die hande van die minister van verdediging, Angie Motshekga, wat haar terugvoer oor die SOE-bevindings eersdaags aan die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) sal moet gee.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel