Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Só lyk die wenners van Onderwyser van die Jaar 2026!
Deur Leré Nel
Die wenners van Solidariteit se Onderwyser van die Jaar-kompetisie vir 2026 is uiteindelik aangekondig!
Elkeen van hierdie roepingsgedrewe onderwysers is op ʼn besondere manier by hul skool en tussen hul leerders verras.
Vanjaar se drie wenners leef hul roeping met oorgawe uit en maak elke dag ʼn verskil in hul leerders se lewens. Hul toewyding strek verder as die klaskamer. Deur hul liefde vir die onderwys, betrokkenheid by hul skole en opregte belangstelling in elke leerder help hulle leerders om hul potensiaal te bereik.
Hier is die 2026-wenners in elke kategorie:
Kleuterskool: Domonique Pfister van Kleinspoortjies, Hennopspark, Centurion

Domonique Pfister is ʼn graad RR-juffrou by Kleinspoortjies, Hennopspark, en is reeds ses jaar deel van die Hennopspark-familie. Sy het haar onderwysloopbaan in 2020 as intern by Laerskool Hennopspark begin en is in 2022 as graad RR-juffrou by Kleinspoortjies aangestel.
In Domonique se Kameelperdklas is liefde die vertrekpunt van alles wat gebeur. Sy glo dat ʼn kind eers veilig, geliefd en raakgesien moet voel voordat leer werklik kan plaasvind. Daarom maak sy die tyd om elke kind raak te sien, na hulle te luister en hulle veilig te laat voel.
Vir Domonique is onderwys nie bloot ʼn beroep wat sy gekies het nie, maar ʼn roeping waarvoor God haar gekies het. Sy benader elke kind met geduld, genade en onvoorwaardelike liefde.
Sy besef hoe belangrik die graad RR-jaar is, aangesien dit die fondament vir ʼn kind se verdere skoolloopbaan vorm. In haar klas leer kinders dat die skool ʼn veilige hawe is, dat leer ʼn avontuur kan wees en dat vriendelikheid altyd wen.
Laerskool: Elzé Taylor van Laerskool Danie Malan, Pretoria

Vir Elzé Taylor beteken dit om ʼn graad 1-onderwyseres te wees veel meer as om klanke, syfers en leesvaardighede aan te leer. Sy beskou dit as ʼn besondere voorreg om kinders tydens hul eerste treë in hul formele skoolloopbaan te begelei en sodoende ʼn sterk grondslag vir hul toekoms te help lê.
Elzé kyk elke oggend doelbewus elke kind in die oë. Só kan sy vroeg reeds agterkom wie gelukkig is, wie stil geraak het en wie dalk met ʼn swaar hart by die skool aangekom het. Sy wil hê elke leerder moet weet dat hulle raakgesien word.
Sy glo dat kinders nie almal op dieselfde manier leer nie. Daarom gebruik sy praktiese onderrigmetodes en stasierotasie-aktiwiteite om in kleiner groepe vas te stel wie die werk verstaan en wie bykomende ondersteuning nodig het. Vir haar is daar min dinge so kosbaar soos die oomblik wanneer ʼn moeilike begrip skielik vir ʼn leerder sin maak.
As graad 1-graadhoof, lid van die skoolbestuur en netbalorganiseerder vervul Elzé verskeie verantwoordelikhede. Haar fokus bly egter altyd op die kind voor haar. Sy streef daarna om hoë verwagtinge met liefde, geduld en dissipline te balanseer.
Elzé wil nie net een skooljaar beïnvloed nie. Sy wil ʼn veilige ruimte skep en ʼn fondament lê waarop haar leerders vir die res van hul lewe kan voortbou.
“Dit is so ʼn groot voorreg om ʼn impak op elke kind in my klas se lewe te hê,” sê Elzé. “Om ʼn kind se toekoms te kan vorm.”
Hoërskool: Rushphiano Cloete van Hoërskool S.A. van Wyk, Springbok

Rushphiano Cloete is ʼn jong en passievolle opvoeder by Hoërskool S.A. van Wyk in Springbok. Hy beywer hom daagliks daarvoor om nie net kennis oor te dra nie, maar ook jongmense se karakter te vorm, hul selfvertroue te versterk en elke leerder se unieke potensiaal te ontsluit.
Benewens sy rol as onderwyser is Rushphiano ook ʼn mentor, skrywer en spreker. Hy werk ook op deeltydse basis as model en akteur.
Hy is aktief betrokke by kultuurprojekte, sport, dramaproduksies en gemeenskapsinisiatiewe wat kreatiwiteit en leierskap onder jongmense bevorder. Sy opvoedingsfilosofie is gegrond op respek en diensbaarheid, asook die oortuiging dat elke leerder verdien om gesien, gehoor en waardeer te word.
Rushphiano streef daarna om ʼn veilige ruimte te skep waarin leerders die moed kan ontwikkel om groot te droom. Sy grootste beloning is om te sien hoe jongmense uitdagings oorkom, in hulself begin glo en die beste weergawe van hulself word.
“Dit wat ons doen, doen ons nie vir erkenning nie,” sê Rushphiano. “Ons doen dit uit die liefde van ons harte. Ek doen dit elke dag met ywer en passie, omdat ek so lief is vir wat ek doen. Hierdie toekenning… dit is net die ‘cherry’ op die koek!”
ʼn Verering van onderwysers wat die ekstra myl stap
Volgens Nadia Coetzee, organiseerder van die Solidariteit Onderwysernetwerk, bied die Onderwyser van die Jaar-kompetisie ʼn geleentheid om erkenning te gee aan onderwysers wat daagliks meer doen as wat van hulle verwag word.
“Die onderwys is een van daardie beroepe waar die meeste van jou tyd, moeite en omgee dikwels ongesiens verbygaan. Niemand sien die laat nagte se merkwerk en ná donker by die huis aankom nie. Dit is vir ons ʼn groot eer om vir hierdie onderwysers te wys: daardie dinge gaan níé ongesiens verby nie,” sê sy.
“Elkeen van hierdie drie wenners, asook die toptien-finaliste, het talle nominasies en stemme ontvang van almal rondom hulle,” sê sy. “Dit sluit in huidige leerders, oudleerders, kollegas, ouers van leerders en mense in hul gemeenskap.”
Solidariteit se Onderwysernetwerk is trots om Domonique, Elzé en Rushphiano as die 2026-wenners te vereer. Hulle is rolmodelle wat jongmense help om met selfvertroue te groei, groter te droom en ʼn stewige fondament vir die toekoms te lê.
Sluit aan by Solidariteit se Onderwysernetwerk en word deel van ʼn gemeenskap wat onderwysers ondersteun, bemagtig en vereer.
Wie weet, dalk is jý volgende jaar se Onderwyser van die Jaar!