
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Sol-Tech maak jou toekomsdeur oop
Deur Heléne Leonard
Een van Solidariteit se grootste prioriteite is werk. “Afrikaners moet kan werk en moet ook goed kan werk,” so glo dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Daarom is Afrikaanse opleidingsinstellings opgerig waar jong mense die gulde geleentheid het om topklas-ervaring en kwalifikasies te verwerf sodat hulle slaggereed is vir die werkplek.
“’n Sol-Tech-opedag is werklik ʼn heerlike ervaring. Voornemende studente kry op dié dag die geleentheid om die kampus te kom beleef, deur die werkswinkels en splinternuwe IT-laboratorium te stap, die unieke studentelewe te kom beleef en om met ons huidige studente te gesels,” sê Chantal Swart, bemarkingsbestuurder by Sol-Tech.
Op hierdie dag sal elke voornemende student ook ʼn voorsmakie kry van al die kursusse wat Sol-Tech vir sy studente bied. Ajani, Sol-Tech se privaat plasingsmaatskappy, sal ook teenwoordig wees om enige kwelvrae van voornemende studente te beantwoord.
Sol-Tech bied vanaf 2023 nóg meer studiemoontlikhede danksy die toevoeging van drie IT-kwalifikasies tot sy aanbod aan studente. Lees hier meer oor die nuwe kursus. Voornemende studente kan daarna uitsien om kwalifikasies te verwerf as data- en wolkspesialiste; kubersekuriteitspesialiste en IT-ondersteuning- en netwerkspesialiste.
Solidariteit wil graag elke jong mens indiensneembaar maak en daarom is Sol-Tech ʼn spoginstelling waar elke gekwalifiseerde aan die einde van sy of haar studie reguit by ʼn werkplek kan instap.
Sol-Tech lei die afgelope 15 jaar al ambagslui as meulmakers, passer-en-draaiers, elektrisiëns, dieselwerktuigkundiges, gereedskapmakers en sweisers op. Solidariteit se ambagnetwerk is ʼn beroepsnetwerk wat ook al vir geruime tyd ʼn tuiste vir hierdie ambagslui bied waar almal in dieselfde werk mekaar kan bystaan en advies aan mekaar kan gee. Lees meer hier oor die fantastiese geleentheid wat die ambagnetwerk vir jong werkendes bied.