loading
Artikels
1 jaar gelede
sol-tech-se-plaashuis-n-tweede-tuiste-vir-studente

Foto Krediet: Solidariteit

Sol-Tech se Plaashuis: ʼn tweede tuiste vir studente

Deur Ané Janse van Rensburg

Paul van Deventer, Besturende Direkteur van Sol-Tech, sê gereeld: “Môre begin vandag.”

Dié aanhaling is spesifiek gepas vir die mylpaal wat Sol-Tech vanjaar bereik. Met die bekendstelling van Sol-Tech se koshuis, Plaashuis, neem dié instelling ʼn groot tree na die verwesenliking van jong Afrikaners se drome en toekomsplanne. Dit is hier waar planne in aksie omgesit word, en waar jong mense bemagtig word om aan hulle toekoms te bou.

As ʼn tweede tuiste vir Sol-Tech-studente, bied die Plaashuis (ontwerp deur Jeremy Malan Argitekte) ʼn leefruimte vir die Afrikaanse kultuur om in voort te leef. Dit is ʼn plek van ontmoeting van kultuur en kapitaal, waar ʼn veilige omgewing geskep word waar studente mekaar saam kan ondersteun en saam kan leer en ontspan ná ʼn lang dag op die Sol-Tech-kampus.

Van Deventer sê die Plaashuis hou besondere voordele vir die studente in. Dit sluit onder meer die volgende in: Dit is ʼn veilige omgewing waar tradisies gevestig kan word; studente kan mekaar akademies ondersteun; dit bevorder onafhanklikheid en selfversorging; die sportgronde en ontspanningsfasiliteite is ʼn klipgooi weg en maaltye is beskikbaar.

“Ek sien die potensiaal en die belofte hier. Ek voel die groei en ontwikkeling wat hier gaan plaasvind, en ek is opgewonde!” sê Van Deventer. Sol-Tech, en so ook die Plaashuis, is die trotse produkte van ʼn gemeenskap wat self verantwoordelikheid neem om ʼn volhoubare en voorspoedige toekoms vir homself te skep. Danksy Solidariteit-lede se R10-bydraes, kan die ontwikkeling van die “monumente” voortleef en floreer. Selfs die studente neem die #OnsSalSelf-wekroep ter harte, en hul vaardighede word ook gebruik om meubels te restoureer wat in die Maroela-sitkamer sal pronk.

By die bekenstelling van die Plaashuis, wat al halfpad voltooi is, wink ʼn blink toekoms vir Sol-Tech-studente. Teen Oktober 2024 sal die koshuisgange die ene lewe wees met 400 studente (mans en dames) wat daar tuisgaan. Die koshuis is verdeel in vier vleuels, wat die mans en dames apart sal huisves. Later sal ʼn swembad, sitkamer, eetkamer, buiteluggimnasium, ʼn ontspanningslokaal, sportvelde en dies meer bykom as uitbreidings van die Sol-Tech-kampus.

Ná afloop van ʼn week van hoogtepunte wat die uitbreiding van die instellings van die Solidariteit Beweging betref, het Flip Buys, voorsitter van die Beweging, die volgende gesê: “Ons onderneem al hierdie onderwys- en opleidingsprojekte omdat ons ʼn toekoms vir jong mense wil skep. Elke geslag is verantwoordelik om vir die volgende geslag te leef.” Buys sê dat dit belangrik is om mense nie net op te lei nie, maar om hulle op verskeie vlakke vir hul roeping toe te rus. Die Plaashuis beloof om presies dít te doen: om ʼn positiewe impak te hê op studente se akademiese prestasie, hulle algehele studente-ervaring, die kwalifikasie-verwerwingskoers en hulle uiteindelike sukses.

Die Plaashuis baan die weg na ‘n toekoms vir die #JongYsters! Lees hier meer oor die Solidariteit Beweging se #OnsBou-inisiatief. Word vandag deel van Solidariteit en kom lê ʼn baksteen in die fondasie vir ʼn voorspoedige toekoms!

“In Sy almag, is geloof my krag, môre begin vandag!”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel