loading
Mediaverklarings
5 dae gelede
solidariteit-afriforum-en-die-sos-verwelkom-taktiese-deurbraak-oor-bela

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit, AfriForum en die SOS verwelkom taktiese deurbraak oor Bela

’n Taktiese deurbraak is vanoggend gemaak in Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se stryd teen twee gewraakte artikels in die Wet op Basiese Onderwyswette (Bela) wat pas deur president Cyril Ramaphosa onderteken is.
Na volgehoue druk het president Ramaphosa besluit om artikels 4 en 5 van dié wet oop te maak vir verdere gesprekvoering en derhalwe nie dadelik te implementeer nie.
Dit is iets wat dié organisasies as ’n wen vir Afrikaanse gemeenskappe ag. Dit dien as ’n bewys dat openbare druk sukses kán behaal. Hoewel hierdie organisasies sou verkies dat Bela glad nie onderteken word nie, verwelkom dié organisasies nogtans president Ramaphosa se besluit en ag dit as ’n taktiese deurbraak. 
Die president se aankondiging in dié verband volg ná Solidariteit en AfriForum gister (Donderdag) tot laat in die nag in gesprek met die president was en die versoek aan hom gerig het dat hierdie gewraakte artikels nie geïmplementeer moet word nie. 
Hierdie artikels bepaal dat die hoof van die provinsiale Onderwysdepartement die finale sê sal hê oor skole se toelatings- en taalbeleide. ’n Staatsamptenaar sal dus ’n beheerliggaam kan veto en onder meer die demografie van die groter onderwysdistrik in die toepassing van dié betrokke artikels in ag kan neem. 
Nog ʼn gesprek het vanoggend in goeie gees met die president plaasgevind waarin hy sy voorneme om die artikels te hersien self aan die organisasies bekend gemaak het.
Die regering het gevolglik drie maande vir gesprek en onderhandeling voorgestel waarin ʼn alternatiewe oplossing gevind kan word. 
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is hierdie deurbraak danksy die volgehoue druk van gewone mense moontlik gemaak en nóg soortgelyke steun gaan in die komende weke nodig wees.
“Hierdie is bloot ʼn taktiese oorwinning, maar die stryd is nie naastenby gewonne nie. Die druk begin nou eers. Indien daar nie veranderings is nie, gaan Solidariteit, AfriForum en die SOS steeds voort met ons hofaksie. Ons gaan nie die druk verminder nie,” sê Hermann. 
Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, sê die gevaar is nog nie volledig afgeweer nie. 
“Ons standpunt bly dat daardie artikels van Bela vernietigende gevolge vir Afrikaanse skole en kinders sal inhou indien dit geïmplementeer word en AfriForum bly daarom gereed om dit op alle moontlike nasionale en internasionale platforms teen te staan,” sê Bailey.
Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, sê die staat kan nie Afrikaanse skole kaap terwyl hulle nie hulle verpligting nakom om genoeg skole vir almal te bou nie.
“Ons skole is instellings waaraan ons gemeenskap emosioneel verbind is. Dis nie net plekke waar kennisoordrag en vaardigheidsontwikkeling plaasvind nie. Dit is kulturele ruimtes waar waardeoordrag aan ons kinders en volgende geslagte plaasvind,” sê Fourie.
Die president se voorstel oor gesprekvoering in die volgende drie maande oor dié betrokke artikels word verwelkom en Solidariteit, AfriForum en die SOS sien uit na die geleentheid om daaraan deel te neem. Hulle moedig ook die publiek aan om steeds hulle veldtogte daarteen te ondersteun. 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel