loading
Mediaverklarings
3 weke gelede
solidariteit-begin-reuseprojek-vir-vaardighede-op-alle-regeringsvlakke

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit begin reuseprojek vir vaardighede op alle regeringsvlakke

Solidariteit het ʼn reuse-vaardigheidsbank begin met die oog daarop om die vaardigheidskrisis in veral die openbare sektor in Suid-Afrika die hoof te bied. 
Dit volg ná gesprekke wat Solidariteit op verskeie regeringsvlakke gehad het oor tekorte ten opsigte van vaardighede in Suid-Afrika. Volgens Solidariteit is groei en werkskepping die uiteindelike doel van hierdie projek.
Solidariteit sê die voorwaarde vir groei en werkskepping in Suid-Afrika is goeie infrastruktuur. Die voorwaarde daarvoor is weereens om mense met die regte vaardighede aan te stel. Solidariteit beplan nou om tienduisende mense op die vaardigheidsbank te registreer. Alhoewel die openbare sektor die grootste bevoordeelde kan wees, kan die privaat sektor net so baie voordeel hieruit trek.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gaan dit die grootste vaardigheidsmark in die land wees met die oog daarop om tekorte ten opsigte van vaardighede, hoofsaaklik in die openbare sektor maar ook in die privaat sektor, oop te maak. Hy meen dit gaan ʼn groeiveranderlike in die land wees
“Ons beleef dat daar ʼn nuwe gees van samewerking is. Ná die vorming van die regering van nasionale eenheid is daar nou ʼn noodsaaklike volgende fase wat moet volg, naamlik samewerking tussen regeringsvlakke en die burgerlike samelewing. Die vaardigheidsbank staan binne hierdie gees,” sê Hermann.
Volgens Solidariteit is daar duisende Suid-Afrikaners in die land en die buiteland wat bereid is om te help. Solidariteit se vaardigheidsbank vir Eskom in 2022 het dit bewys. “Ons het ʼn lys van 300 kundiges aan Eskom verskaf wat ʼn presiese antwoord was op die kritieke tekorte in Eskom. Hierdie lys het ʼn totaal van 5 500 jaar se ervaring en 400 geakkrediteerde kwalifikasies waarvan 14 oor doktorsgrade beskik.
“Ons was verstom oor mense se gewilligheid om te help. Daar was ongelukkig nie die politieke wil nie. Ons kry wel nou ʼn ander gevoel. Ons het die afgelope tyd vele gesprekke gehad. Dit het gewissel tussen openbare ondernemings en nasionale, provinsiale en plaaslike regerings. Die meer positiewe klimaat moet in die praktyk getoets word. Die werklikheid van ʼn krisis het soms verrassende gevolge. Selfs groot maatskappye het ons die afgelope tyd gekontak vir mense met spesifieke vaardighede,” sê Hermann.
Volgens Hermann gaan Solidariteit se databank ʼn merietebank wees. Daar is wonderlike swart, wit, bruin en Indiër-vaardighede in die land. Almal hoort daar. Daar moenie rassehekkies wees as ons na antwoorde soek wat die land gaan bevoordeel nie.
Solidariteit se eie studie dui op reuse-vaardigheidstekorte in die openbare sektor. Dit sluit ingenieurs- en ambagsberoepe in, maar ook tekorte aan mediese praktisyns, projekbestuurders, onderwysers, verskeie IT-poste, bourekenaars en argitekte. “Vir baie van hierdie tekorte is daar Suid-Afrikaners met hierdie vaardighede beskikbaar. Daar moet die politieke wil wees om hulle aan te stel, dan moet hulle gesoek word en ʼn platform moet geskep word om hulle en die poste bymekaar te bring,” sê Hermann.
Solidariteit het in September 2023 ʼn platform geloods wat onder andere werkgewers en werknemers bymekaar bring. Volgens Hennie Bierman, hoof van Solidariteit se Netwerkplatform, was dit ʼn reusesukses. Meer as 2 000 werkgewers het al op hierdie platform geregistreer en sowat 5 700 poste is al geadverteer. 
“Ons het besef ons kan dieselfde tegnologie gebruik om ʼn enorme verskil in die vaardigheidskrisis in Suid-Afrika te maak. Só kan ons ook ʼn enorme verskil in die lewens van miljoene Suid-Afrikaners maak. Om die regte vaardigheidspassings te maak, is ʼn reuse-veranderlike vir groei en werkskepping. Solidariteit is in die ideale posisie om dit te doen,” sê Bierman.
Volgens Bierman gaan die vaardigheidsbank afskop met tien kritieke vaardighede in die ingenieurs- en ambagsomgewing. 
“Uit ons gesprekke met rolspelers word dit as ʼn belangrike begin aangedui. Daarna gaan ons dit uitbrei, en die geleenthede is byna onbeperk. Nuwe tegnologie breek nuwe geleenthede oop. Die hele diens gaan gratis wees. Ons wins is die groei van die land,” sê Bierman.
Mense kan reeds hulle vaardighede op www.solidariteit.co.za registreer. Mense kan ook op Solidariteit poste adverteer of vir poste aansoek doen.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel