loading
avatar
Artikels
11 uur gelede
solidariteit-behaal-byna-r1-miljoen-oorwinning-vir-sapd-lid

Fotokrediet: Verskaf

Solidariteit behaal byna R1 miljoen-oorwinning vir SAPD-lid

Robin-Lee Maré

Solidariteit het ʼn groot oorwinning namens een van sy lede, kolonel Hugo Delport, behaal nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) bevind het hy is onbillik tydens ʼn bevorderingsproses in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) behandel.

Die KVBA het die SAPD gelas om R944 984,40, gelykstaande aan twaalf maande se besoldiging, aan Delport te betaal.

“Hierdie is ʼn uitstekende uitkoms vir kolonel Delport ná ʼn lang pad. Hy het geweet hy is nie reg behandel nie en het besluit om daarteen op te staan.

“Solidariteit kon hom ondersteun en toesien dat hy uiteindelik geregtigheid kry,” sê Andries Herbst, Solidariteit-organiseerder vir die openbare sektor.

Die geskil het reeds in 2021 ontstaan toe Delport om bevordering tot die rang van brigadier aansoek gedoen het vir die pos van afdelingshoof van mediese betalings in die SAPD se finansiële bestuursdienste-afdeling.

Delport is op die kortlys geplaas en vir ʼn onderhoud genooi, maar ʼn ander kandidaat is uiteindelik aangestel. Hy het daarna die billikheid van die proses bevraagteken en aangevoer dat sy relevante ervaring nie behoorlik verreken is nie.

Solidariteit het Delport tydens die arbitrasie verteenwoordig.

Kommissaris Vuyokazi May het in haar uitspraak bevind Delport beskik oor meer ervaring in die kernfunksies van die pos as die kandidaat wat uiteindelik aangestel is.

Sy het ook bevind die keuringspaneel het kandidate se bestaande range as ʼn bykomende kriterium gebruik, hoewel dit nie behoorlik as deel van die beoordelingsproses aangeteken is nie.

Delport se vorige ervaring, waaronder ʼn tydperk waartydens hy in die betrokke pos waargeneem het, is ook nie behoorlik verreken nie.

Getuies van binne die SAPD het ook sy uitgebreide ervaring beaam. Een getuie het aangedui die paneel was verbaas toe Delport nie met die hoogste puntetelling geëindig het nie.

Die kommissaris het uiteindelik bevind Delport het nie net aan die vereistes voldoen nie, maar het selfs bewys hy was die beste kandidaat vir die pos.

“Vir ons is hierdie bevinding besonder belangrik. Dit gaan oor ʼn werknemer se jare lange ervaring, harde werk en kundigheid wat uiteindelik die erkenning kry wat dit verdien. Dit wys ook waarom dit die moeite werd is om vir billike behandeling op te staan.

“Byna R1 miljoen se vergoeding is ʼn betekenisvolle erkenning van die onbillike behandeling wat hy moes verduur. Ná ʼn proses van etlike jare, kan kolonel Delport vandag weet sy besluit om die saak tog verder te voer, was die moeite werd,” sê Herbst.

Die uitspraak bevestig volgens Herbst ook ʼn belangrike beginsel vir ander werknemers in die openbare sektor: bevorderingsprosesse moet billik en deursigtig wees, en op objektiewe kriteria gegrond wees.

“Hierdie is presies waarom Solidariteit sy lede bystaan wanneer hulle onregverdig behandel word. Een werknemer hoef nie alleen teen ʼn groot werkgewer te staan nie.” sluit Herbst af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel