
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit bevraagteken herregistrasieproses van ambagslui
Deur Heléne Leonard
Solidariteit se Ambagnetwerk het op 24 Junie skrywe aan die Departement van Hoër Onderwys gerig om die toenemende kommer oor die herregistrasie van gekwalifiseerde ambagslui oor te dra en aan te spreek.
Een van die kernkwessies wat in die skrywe bespreek word, is die nuwe stelsel wat vereis dat ambagslui by die Departement van Hoër Onderwys moet herregistreer soos onlangs in die Staatskoerant gepubliseer is.
Voorheen het die verantwoordelikheid vir die registrasie van ambagslui in die hande van die Departement van Arbeid gelê waar ambagslui slegs moes registreer na die suksesvolle aflegging van hulle vaktoetse, maar dit is nou verskuif na die Departement van Hoër Onderwys wat beteken hulle sal moet herregistreer.
Hierdie herregistrasieproses het ongewenste verwarring en onsekerheid in die ambagsgemeenskap veroorsaak. Dit is belangrik om te beklemtoon dat moontlike sanksies teen ambagslui wat nie herregistreer nie ingestel kan word, maar wat die sanksies alles gaan behels is tans onduidelik.
Nog ʼn kommerwekkende aspek is dat baie ambagslui nie bewus is van hierdie verandering nie en moontlik ook nie hulle oorspronklike sertifikaat meer in besit het om te registreer. Dit is optimisties om te verwag dat die ambagslui sonder om deeglik ingelig te wees van die proses, die proses van herregistrasie sal volg. Solidariteit se Ambagnetwerk is besorg dat baie ambagslui se kwalifikasies as gevolg hiervan opgeskort kan word.
Solidariteit se Ambagnetwerk het in hulle skrywe aan die departement beklemtoon dat die ambagslui deeglik ingelig moet word oor hierdie verandering, die redes daarvoor en die vereiste stappe vir herregistrasie. “Ons wil graag ondersoek instel oor die redes en voorwaardes van die herregistrasieproses en wat die moontlike gevolge gaan wees as van die ambagslui nie die herregistrasieproses volg nie. Daarom is ons in gesprek met die Departement van Hoër Onderwys,” sê Dirk Smit, netwerkorganiseerder van die Ambagnetwerk.
In ʼn tyd waar die behoefte aan kwaliteit vaardighede en vakmanskap toeneem, is dit kritiek dat ambagslui beskerm word teen onregverdige benadeling van die regering se administratiewe prosesse. “Ons tree nie net op namens ons meer as 10 000 ambagslede in hierdie proses nie, maar namens die hele ambagsgemeenskap om te verseker dat geen benadeling plaasvind nie.
Die Departement van Hoër Onderwys het intussen op die skrywe van Solidariteit se Ambagnetwerk gereageer én ʼn vergadering versoek om die kwessies soos uitgelig te bespreek. “Ons vertrou om meer duidelikheid oor die herregistrasieproses te hê na afloop van dié vergadering,” het Dirk Smit, netwerkorganiseerder gesê.