
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit Beweging: “Die Nasionale Dialoog is gekaap – ons vra vir ʼn ware gesprek.”
Deur Leré Nel
Vrydag, 15 Augustus se Nasionale Dialoog sal sonder die Solidariteit Beweging se teenwoordigheid plaasvind. Dít is deur dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, by ʼn mediakonferensie op 12 Augustus 2025 bevestig.
Hierdie konferensie het ten doel gehad om die Solidariteit Beweging se standpunt oor die Nasionale Dialoog aan die publiek bekend te maak. By die geleentheid het Werner Human (operasionele hoof van die Solidariteit Beweging Trust), Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit), Flip Buys (voorsitter van die Solidariteit Beweging) en Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum) verduidelik waarom die Beweging nie vanjaar aan dié gesprek gaan deelneem nie en watter tipe gesprekke wel nodig is om oplossings vir die land se krisisse te vind.
Die ANC wil alles wat werk, breek
Werner Human het sterk kritiek uitgespreek teen die ANC se wyse van doen: “Die ANC ly aan ʼn chroniese toestand. Hulle wil alles wat werk of moontlik kan werk, oorneem, beheer, vernietig en kaap. Alles moet volgens hulle manier gebeur. Hierdie toestand strek so ver as ʼn gewone, gesonde dialoog. Dialoog wat ten doel het om vir almal oplossings te vind, word besoedel deur hulle ideologie.”
Hy het beklemtoon dat meer en meer groepe in Suid-Afrika besef dat oplossings buite die mislukkende staat gesoek moet word – en dat gesonde gesprekke en dialoog ʼn groot deel van hierdie oplossings moet wees. Dr. Dirk Hermann het bygevoeg dat die vraag nie is óf ons gesprekke moet voer nie – ons moet beslis gesprekke voer. Maar dit help nie om gesprekke te voer wat nêrens heen lei nie.
Die Nasionale Dialoog is ʼn ANC-monoloog
Volgens Flip Buys glo die Solidariteit Beweging in nasionale dialoog, maar die huidige proses is in wese ʼn monoloog wat deur die ANC dikteer word:
“Ons glo dat ʼn Nasionale Dialoog noodsaaklik is, maar dat die ANC se kaping van hierdie dialoog na net nóg meer nodelose bespreking sal lei, eerder as om oplossings vir ernstige krisisse te vind. Dit gaan ʼn ANC-monoloog wees, nie ʼn nasionale dialoog nie,” se Flip Buys.
Hy het bevestig dat die Beweging eerder ʼn “wag en kyk”-benadering gaan volg en nie die dialoog Vrydag sal bywoon nie. Intussen sal die instellings in die Beweging aanhou om gesprekke te voer met plaaslike gemeenskappe – eerder as die regering – aangesien hiérdie gesprekke baie meer geneig is om na oplossings te lei.
Ons mors nie tyd op ʼn gekaapte proses nie
Kallie Kriel het benadruk dat die Solidariteit Beweging eerder aan werklike oplossings sal werk as om tyd te mors op ʼn staatsbeheerde proses:
“Pres. Ramaphosa en die ANC wil dikteer wat die agenda is en hoe die gesprek moet verloop, en die res van die land moet maar net terugsit en luister. Hulle gaan nie vir enigiemand ʼn kans gee om deel te wees van die oplossing nie,” se Kallie Kriel. “Die Beweging is te besig om self oplossings te vind vir die krisisse wat ons land in die gesig staar om ons tyd daarop te mors om ʼn sinnelose gesprek by te woon. Die ANC is nie ernstig oor regte dialoog nie – maar ons, as die res van die land, moet wees.”
Kriel het verder verwys na talle gevalle waar die ANC insette van burgerlike organisasies soos AfriForum en Solidariteit geïgnoreer het, onder meer oor kwessies soos die “Kill the Boer”-lied en onteieningswette. Dit onderstreep ook die sinneloosheid daarvan om die Nasionale Dialoog by te woon.
Ons sal praat, maar nie in ʼn staatsbeheerde forum nie
Die regering het dit keer op keer duidelik gemaak dat hulle nie regtig ʼn “dialoog” wil hê nie. Die hartseer realiteit is volgens Werner Human dat die ANC nie verandering soek nie. Hulle soek net goedkeuring van hulle beleide en agendas.
Volgens dr. Hermann was die oorspronklike doel van die Nasionale Dialoog om oplossings te vind vir die krisisse waarin die ANC die land laat verval het. Maar die ANC voeg nou eerder hul eie agenda by die Nasionale Dialoog, want hulle is bang ʼn regte dialoog ontbloot hulle foute nog verder. “Ons gaan aanhou praat met die groter gemeenskap, maar ons sal nie deelneem aan staatsbeheerde dialoog nie,” beklemtoon dr. Hermann.
Dr. Hermann het verduidelik dat die Beweging druk op die proses van die Nasionale Dialoog gaan plaas deur met verskeie stigtings en gemeenskappe saam te werk om maniere te vind waarop dit verander kan word, asook deur ʼn formele skrywe aan die organiseerders daarvan te rig.
’n Roep vir die herstel van gemeenskapsdialoog
Die Solidariteit Beweging het dit duidelik gemaak dat hulle steeds glo in oop en eerlike gesprekke – maar dat dit buite die ANC se beheer moet plaasvind. Die ideaal is dat ons moet terugkeer na die oorspronklike doel en formaat van die dialoog sodat alle rolspelers werklik saam oplossings vir Suid-Afrika se uitdagings kan vind. Maar siende dat die regering nie daarmee saamstem nie, sal die Beweging aanhou om met gemeenskappe te skakel en self oplossings te vind.
Kallie Kriel sê tereg: “Daar is ʼn toekoms – nie as gevolg van die regering nie, maar ten spyte van die regering.”
Klik gerus hier om na die volledige gesprek te kyk.