loading
Mediaverklarings
2 dae gelede
solidariteit-beweging-gaan-met-trump-administrasie-praat

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit Beweging gaan met Trump-administrasie praat

Die Solidariteit Beweging het aangekondig dat hy met die VSA regering in gesprek gaan tree oor pres. Donald Trump se uitsprake Sondagaand in die media oor Suid-Afrika. Die Beweging gaan terselfdertyd die Suid-Afrikaanse regering skakel en voortgaan met plaaslike druk om beleidsrigtings wat skadelik vir die land is, te takel.

Trump het Sondagaand aangekondig dat alle befondsing aan projekte in Suid-Afrika onmiddellik gestaak word. Verlede jaar het die Amerikaanse regering meer as 400 miljoen dollar se projekte in Suid-Afrika, veral in die bekamping van MIV/vigs gefinansier. Suid-Afrikaanse universiteite het ook finansiering van die Amerikaanse regering ontvang. Trump is duidelik bewus van pres. Ramaphosa se ondertekening van die Onteieningswet en dit, gekombineerd met die Suid-Afrikaanse regering se voortgesette internasionale regstryd teen Israel, was waarskynlik die katalisators wat tot Trump se ingrepe gelei het.
Trump word ook tans deur adviseurs in die Withuis aangemoedig om standpunt oor minderheidsregte in Suid-Afrika in te neem. Dit volg onder meer op verslae oor die omvang van rassediskriminasie teen minderhede in Suid-Afrika, die omvang van plaasaanvalle en -moorde die afgelope drie dekades en die ondertekening van die Bela-wet. Trump is die afgelope paar dae deeglik hieroor deur sy Afrika-adviseurs ingelig. 

Die Solidariteit Beweging is een van die grootste burgerlike bewegings in Suid-Afrika en verteenwoordig sowat twee miljoen Suid-Afrikaners en ʼn netwerk burgerlike instellings, waaronder Solidariteit en AfriForum. Die Beweging is reeds die afgelope paar jaar met verskeie Amerikaanse politici in verbinding om te verseker dat Suid-Afrika se verhouding met die VSA nie skipbreuk lei nie. 
“Die Solidariteit Beweging gaan die Trump-administrasie vra om druk op die ANC se beleidsrigtings te plaas, maar om nie gewone Suid-Afrikaners te straf deur maatreëls wat groter werkloosheid veroorsaak of die weerloses benadeel nie. “Ons hou nie van die ANC nie, maar ons is lief vir die land. Om hulp aan Suid-Afrika te sny sal die verkeerde mense raak,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Terselfdertyd is groter buitelandse druk op die ANC noodsaaklik omdat die grondwetlike skikking tans  oor ʼn wye front verbreek word en die ANC voortgaan om alleen te regeer terwyl ʼn regering van nasionale eenheid (RNE) eintlik aan bewind is. Die VSA het ʼn groot verantwoordelikheid om toe te sien dat grondwetlike beloftes soos eiendomsreg, moedertaalskole en -universiteite, en die afskaffing van rassediskriminasie nagekom word, omdat dié beloftes instrumenteel was in die grondwetlike skikking van die 1990’s. 

Die Solidariteit Beweging beplan ʼn reeks diplomatieke optredes wat insluit gesprekke met plaaslike diplomate en besoeke aan die Withuis. Die Solidariteit Beweging sal binnekort meer inligting bekend maak. 
“Ons gaan gesprek voer oor kwessies soos onteiening, onderwys, gesondheidsorg, rassewette en Agoa. Die uitkoms waarna ons op soek is, is druk vir verandering van beleid, maar nie finansiële tipe sanksies teen die land nie. Om Suid-Afrika uit byvoorbeeld Agoa te skop sal tot die verlies van duisende werksgelenthede lei. Die gevolg sal groter armoede wees en die teelaarde vir meer radikale beleid,” het Buys gesê. 

Intussen gaan die Solidariteit Beweging voort met die uitoefening van plaaslike druk. Volgens Buys gaan instellings soos Solidariteit en AfriForum voort met regsaksie oor die nuwe Onteieningswet, die Nasionale Gesondheidsorgversekering, Bela en die land se rassebedeling. “Ons beplan ook gesprekvoering met die ANC oor sy roekelose plaaslike en internasionale beleid wat vernietigende gevolge vir gewone Suid-Afrikaners kan hê,” het Buys gesê.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel