
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit bou aan ʼn vooruitstrewende wêreld van onderrig!
Deur Ané Janse van Rensburg
Die bou van opleidingsinstellings wat toekomstige generasies in staat stel om te floreer, is die kern van Solidariteit – en onderwysers staan in die middel hiervan. Solidariteit se Boufonds is ’n kragtige instrument wat deur die ondersteuning van lede die toekoms van ons kinders verseker. Met elke bydrae wat gemaak word, bou ons opleidingsinstellings wat die fondasie vorm van ’n sterker en selfonderhoudende gemeenskap. Daarom sê ons met trots: #JyHoortHier!
Opleidingsinstellings wat ons gemeenskap versterk
Die afgelope jaar het ons deur die Boufonds monumentale projekte voltooi wat van onskatbare waarde vir die Afrikaanse gemeenskap is. By Sol-Tech het ons nie net ’n nuwe koshuis, die Plaashuis, gebou nie; ons het vir 400 jong mense ’n veilige tuiste geskep waar hulle in Afrikaans kan leer en groei. Dieselfde visie geld vir Akademia, waar ons verder uitbrei om meer studente voltyds in hul moedertaal te kan akkommodeer.
Maar ons opvoedingsreise stop nie by beroepsopleiding en hoër onderwys nie. Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het gesorg vir die ontwikkeling en beplanning van Gimnasium Pretoria, ’n onafhanklike Afrikaanse skool wat ons kinders in hul moedertaal gaan onderrig en hul kultuur sal koester. Hierdie projekte bevestig ons verbintenis aan kwaliteit-onderwys en kulturele behoud. Dit is instellings wat vir die toekoms bou, en ons bou dit sáám met julle!
Solidariteit se opleidingsvoordeel: Jou bydrae maak ʼn verskil
Benewens die bou van fisiese instellings, bied Solidariteit se Boufonds ook finansiële ondersteuning vir opleiding. Solidariteit-lede en hul afhanklike kinders kwalifiseer vir die opleidingsvoordeel wat spesifiek daarop gemik is om studente te help om instellings soos Akademia, Sol-Tech en die Wolkskool by te woon. Hierdie voordeel beteken dat lede wat al vir 12 maande of langer volwaardige lede van Solidariteit is, tot R9 000 kan ontvang vir hulle studie aan een van die geakkrediteerde instellings. Dit is ons manier om nie net aan geboue te bou nie, maar ook aan die opvoedkundige toekoms van ons lede én hulle kinders.
Hier is ʼn paar van die belangrike bepalings en voorwaardes van die opleidingsvoordeel:
– Die voordeel geld vir Solidariteit-lede en hul afhanklike kinders wat aan Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding of Solidariteit se Helpende Hand Opleidingsinstituut studeer. Daar is ook gratis toegang tot Die Wolkskool vir drie maande vir alle lede wat een maand of langer by Solidariteit is.
– Afhangend van jou die duur van jou Solidariteit-lidmaatskap kan jy tot R9 000 ontvang om direk aan jou akademiese instansie oorbetaal te word.
– Hierdie voordeel is beskikbaar vir studie van een jaar of langer, met sekere uitsonderings soos Helpende Hand se Tuisversorging-kursus.
Onderwysers, hierdie voordeel dra nie net by tot jou eie professionele ontwikkeling nie, maar gee ook aan jou kinders die kans om toegang tot gehalte-opleiding in Afrikaans te kry. So bou ons saam aan ʼn toekoms waarin ons kinders suksesvol kan wees.
Jou bydrae, jou nalatenskap
Elke baksteen wat deur Solidariteit se Boufonds neergelê word, vertel die verhaal van toewyding en die gemeenskap wat ons saam bou. Onderwysers speel ’n onmiskenbare rol in hierdie reis. Dit is hulle wat die toekoms vorm en ons kinders bemagtig om hul volle potensiaal te bereik. Die Boufonds gee Solidariteit die vermoë om hierdie droom te verwesenlik deur instellings te skep wat nie net fisies sterk is nie, maar wat ook kultureel en opvoedkundig onwrikbaar bly staan.
Elke lid se aktiewe deelname is ʼn baksteen wat voortbou aan die visie en missie van Solidariteit. Só word ʼn toekoms gevestig waarin die Afrikaanse onderwys en kultuur bly voortleef. Ons onderwysers is die bouers van die toekoms.
Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en vorm deel van ons missie om ’n sterker, selfonderhoudende toekoms vir almal te bou. Onderwyser, #JyHoortHier, want jy is die fondasie waarop ons kinders se toekoms rus.