
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit bring hofaansoek teen sektorkodes binne die regsberoep
Solidariteit se Regsnetwerk het ’n hofaansoek gebring teen die sektorkodes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat owerhede vir die regsberoep wil instel. Lees hier meer oor die hofaansoek.
Hierdie aansoek teen die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, die minister van justisie en staatkundige ontwikkeling en die Regspraktisynsraad (RPR) het ten doel om hierdie oorregulering in die regsberoep as onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik uit te wys.
Hierdie voorgeskrewe sektorkodes vir die regsektor wat op 20 September 2024 deur minister Parks Tau onderteken is, staan in stryd met die Grondwet.
Solidariteit neem regstappe nadat sy vroeëre aanmaning daaroor op dowe ore geval het.
Solidariteit is volgens Riaan Visser, hoof van Solidariteit se Regsnetwerk, tot die reg verbind en doen moeite om toe te sien dat die prosedures wat sulke voorskrifte wil deurdruk, ten minste aan die wetlike proses voldoen.
“Solidariteit se Regsnetwerk glo die regsberoep is uniek en dat oorregulering daarvan ongevraagd en oorbodig is. Dit sal ’n beperking plaas op mense se vryheid van keuse vir regsverteenwoordiging aangesien kliënte se opsies vir prokureurs of advokate gereguleer en aan hulle voorgeskryf word.
“Hierdie oorregulering ten opsigte van rassevoorskrifte sal ’n impak op die eienaarskap en bestuur van regsfirmas hê,” sê Visser.
In die hofaansoek vra Solidariteit vir die volgende:
* dat die minister se besluit om die sektorkodes uit te reik en/of te publiseer, hersien en ter syde gestel word;
* dat die regsektorkodes as onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik verklaar word; en
* dat erken word die regsektorkode is in stryd met die Internasionale Reg waaraan die Republiek van Suid-Afrika grondwetlik verplig is om te voldoen.
Solidariteit doen hiermee ook ’n beroep op regslui om die aksie teen die omstrede regsektorkodes te ondersteun. Solidariteit gaan eersdaags sy amptelike ondersteuningveldtog hieroor bekendmaak waarmee hy hoop om hierdie onreg in sy spore te stuit.