loading
Mediaverklarings
3 dae gelede
solidariteit-daag-wkod-voor-hof-om-onderwysposte-te-red

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit daag WKOD voor hof om onderwysposte te red

Solidariteit het ʼn dringende hofaansoek gebring om kapsie te maak teen die proses wat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) volg om “oortollige” onderwysposte af te skaf.

Die WKOD het in Oktobermaand gesê hy het geen ander keuse as om 2 407 onderwysposte in die Wes-Kaap te sny nie. Die besluit is gemaak ná die tesourie ʼn begrotingstekort aangekondig het. Die tekort kom op om en by R3,8 miljard te staan.

Solidariteit bevraagteken of hierdie besluite in lyn is met die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Solidariteit se argument in hierdie saak fokus spesifiek op ʼn besluit van Hoërskool Bellville om drie van sy onderwysers, Werner  Burger, Jeanne Biesenbach en Sophie Botha, se poste as oortollig te verklaar. Dié drie onderwysers het kernvakke by die skool soos Afrikaans en Wiskunde gegee en word deur Solidariteit verteenwoordig as lede. Ná hulle afdanking is hul poste nietemin deur die skool se beheerliggaam met ander kandidate gevul.

Volgens Anlia Archer, netwerkorganiseerder van Solidariteit se onderwysernetwerk, het bykans elke skool in die Wes-Kaap spesifieke instruksies ontvang om moontlike oortollige poste te identifiseer. Archer voer aan dat Hoërskool Bellville, sowel as die WKOD nie behoorlike prosesse volg wat met die Wet op Arbeidsverhoudinge ooreenstem nie.

“Dit blyk ons lede is spesifiek geteiken, want die kwansuise oortollige poste is kort ná die besnoeiings wél deur die beheerliggaam van Hoërskool Bellville gevul.

“Die skool het nie behoorlike redes of konkrete bewyse gelewer vir die besluit om hierdie drie onderwysers se poste te snoei nie. Die drie onderwysers het boonop rolle van kardinale belang vertolk,” sê Archer.

Solidariteit voer aan dat hierdie optrede die onderwysers se regte skend en beskou dit as ʼn voorbeeld van swak besluitneming deur die WKOD. Die departement beplan om ongeveer 2 400 onderwysposte te skrap – ʼn stap wat volgens Solidariteit ʼn negatiewe impak op opvoedkundige gehalte en werksekerheid het.

“Hierdie roekelose besluitneming is onaanvaarbaar. Ons praat hier van onderwysers wat oor die jare heen waardevolle bydraes tot die onderwys gemaak het,” sê Archer.

Solidariteit versoek die hof om te bepaal of die stappe wat geneem word ten einde poste te verminder deur middel van ʼn billike afleggingsproses plaasvind. Solidariteit versoek dus die hof om die beëindiging van die Solidariteit-lede se poste op ys te plaas, sodat die hof eers kan bepaal of die afleggingsprosesse in lyn is met artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge. Klik hier vir die aansoek.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel