Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit en die Helpende Hand Opleidingsinstituut span saam vir beter sorg vir blindes
Solidariteit se mediese beroepsnetwerke het vanjaar vir die derde keer saam met die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut (HHO) en die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging gewerk om tuisversorgingstudente beter toe te rus vir die versorging van mense met siggestremdhede.
Elizabeth Louw, hoof van die Gidshondvereniging se Oriëntering en Mobiliteit-afdeling het vanjaar die opleiding aangebied. Studente het onder meer geleer hoe om mense met siggestremdhede, met of sonder ʼn gidshond, op ʼn veilige, waardige en praktiese manier by te staan.
Volgens Petria Pottas, organiseerder van Solidariteit se mediese beroepsnetwerke, is die opleiding ʼn waardevolle toevoeging tot die studente se formele opleiding.
“Hierdie is ʼn ekstra bietjie wat ons van Solidariteit se kant af kan bydra om terug te gee aan die gemeenskap en seker te maak dat versorgers reg opgelei word om mense met unieke uitdagings te kan help,” sê Pottas.
Sy verduidelik dat Solidariteit se rol daarin lê om die regte mense bymekaar te bring en só geleenthede vir kennisdeling te skep.
Meer as net praktiese opleiding
Dr. Elsha Hermann, hoof van die HHO, sê die samewerking help nie net studente om nuwe vaardighede te ontwikkel nie, maar dit stel hulle ook bloot aan ʼn beroepsnetwerk waarop hulle later in hul loopbaan kan steun.
“Tuisversorging kan ʼn geïsoleerde beroep wees. Studente het ʼn netwerk en die ondersteuning van ander mense in dieselfde beroep nodig. As hulle reeds tydens hul opleiding saam met mense in die mediese veld kan werk, gee dit hulle ʼn groot voorsprong,” het Hermann gesê.
Volgens haar bied die opleiding ook aan studente ʼn nuwe perspektief op die daaglikse uitdagings waarmee mense met siggestremdhede te doen kry.
“Die studente sê altyd dat ʼn hele nuwe wêreld vir hulle oopgaan tydens dié opleiding. Hulle dink hulle het vooraf ʼn begrip van waarmee blindes daagliks sukkel, maar besef tydens die opleiding eers hoe wyd die impak van siggestremdheid strek.”
Sy voeg ook by dat hierdie opleidingsgeleentheid vir die tuisversorgingstudente van onskatbare waarde is, omdat die Gidshondvereniging die enigste van sy soort in Suid-Afrika is.
Die samewerking tussen Solidariteit, die HHO en die Gidshondvereniging dra daartoe by dat toekomstige tuisversorgers hul werk met groter begrip, selfvertroue en kundigheid kan aanpak. As jy ʼn tuisversorger is wat nog nie deel is van ʼn netwerk nie, raak hier deel van Solidariteit se Verpleegnetwerk.