loading
Artikels
3 maande gelede
solidariteit-gee-die-sapd-bloedneus-oor-onbillike-arbeidspraktyke

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit gee die SAPD bloedneus oor onbillike arbeidspraktyke

Deur Heléne Leonard

Solidariteit het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) weereens ʼn vuishou toegedien in die saak van die voormalige adjudantoffisier Gerhard Venter. Die saak het gevolg nadat die SAPD Venter se bevordering tot die rang van kaptein op ʼn onbillike wyse en weens onbillike arbeidspraktyke geweier het.

Volgens Venter is hy nie ʼn regverdige kans gegun om bevorder te word nie. Venter werk al langer as 25 jaar vir die SAPD. Hy het tydens sy aansoekproses vir die bevorderings die kortlys gehaal en is ná afloop van die onderhoude as die beste kandidaat vir bevordering tot kapteinsrang aangewys.

Die aanstellingspaneel het Venter se bevordering aanbeveel met ʼn versoek dat daar in dié geval afstand gedoen word van die vereistes wat deur rassewette gestel word.

Die SAPD het egter besluit om hom nie te bevorder nie, en hy was sy bevordering tot die rang van kaptein sonder enige billike rede kwyt.

Solidariteit duld nie onregverdige praktyke in die werkplek nie, en het die saak namens Venter verder gevoer. In die afwesigheid van ʼn geldige rede waarom hy nie bevorder is nie, het Solidariteit se litigasiespan die saak op grond van onbillike arbeidspraktyk na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys.

Die saak oor die SAPD se onregverdige behandeling van Venter is suksesvol voor die KVBA aangevoer.

Die uiteinde van hierdie saak is dat Solidariteit 17 maande se terugwerkende salaris in die rang van kaptein as vergoeding vir Venter kon terugeis. Die KVBA het ook beslis dat Venter wel tot die rang van kaptein bevorder moet word uit erkenning vir sy jare lange diens aan die SAPD.

FOTO: Adéle Botha, die litigant by Solidariteit.

“Hierdie saak is ʼn duidelike bewys van die skade wat die Wet op Diensbillikheid in die werkplek aanrig, want Venter was sonder twyfel die geskikte kandidaat vir die bevordering en daardie bevordering is bloot sonder enige grondige rede geweier.

“Die uitslag in hierdie saak rig ʼn waarskuwing aan werkgewers om billike arbeidspraktyke te volg en regverdige prosesse vir al hul werknemers met hul indiensnemingsprosesse en loopbaanbestuur te waarborg,” sê Adéle Botha, ʼn litigant by Solidariteit.

Die oorwinning in Venter se saak stuur nóg ʼn sterk boodskap aan werkgewers landswyd dat onregverdige arbeidspraktyke nie geduld sal word nie en dat Solidariteit gereed is om die regte van sy lede te beskerm.

Sluit vandag nog by Solidariteit aan om werksbeskerming in jou beroep te geniet.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel