
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit help skoliere met deeglike loopbaanvoorligting
Deur Reon Janse van Rensburg
Beroepsvoorligting is in vandag se tyd ʼn kritieke diens wat aan jong mense, veral skoliere, gebied moet word. Beroepsvoorligting help studente om ʼn beroep te kies wat by hulle belangstellings, vermoëns en aanleg pas. Dit verhoog nie net jong mense se selfvertroue nie, maar dit bemagtig hulle ook om belangrike besluite te neem oor die keuse van studierigting en kwalifikasies nadat hulle hul matriekeksamen afgelê het.
Jou kind se belangstelling verwys na dit wat jou kind geniet of dit waaraan hulle graag tyd spandeer. Dit is die eerste stap om te bepaal watter beroep vir hom of haar betekenisvol sal wees. Belangstelling dui dus nie op aanleg nie, maar bloot dit wat hulle geniet om te doen. Volgens Mareli Bothma, bestuurder van Solidariteit se Skoliere-aanbod, dui aanleg op die kognitiewe vermoë van jou kind. Sy beklemtoon dat dit baie belangrik is dat jou kind se loopbaankeuses nie gemaak word volgens sy of haar belangstellings nie, maar dat jou kind se aanleg ook in ag geneem word.
Belangstellings is ook soms soos die weer – dit kom en gaan. Dit is egter deurlopende belangstellings wat in ag geneem moet word wanneer jy ʼn loopbaan kies.
Solidariteit het ʼn belangstellingsbepaler ontwikkel wat jou kind met sy of haar loopbaanbesluite kan bystaan. Die belangstellingsbepaler is ʼn maklike en gebruikersvriendelike aanlyn vraelys wat jou kind by die huis kan voltooi om te bepaal waarvan hy of sy hou. Die vraelys neem ongeveer twintig minute om te voltooi en die verslag is daarna in PDF-formaat beskikbaar. Die verslag dui aan watter beroepe, studierigting en ook opleidingsinstellings, volgens die resultate, voorgestel word.
Solidariteit het hul dienste nog verder uitgebrei en bied nou ook die dienste van loopbaanvoorligters aan wat bestaan uit kundige sielkundiges en psigometriste wat almal by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika geregistreer is.
ʼn Loopbaanvoorligter kan jou kind goeie advies oor beroepsbesluite bied nadat die persoonlikheid- en aanlegtoets afgelê is. Solidariteit se gelyste loopbaanvoorligters sal ook ʼn verslag en persoonlike terugvoersessie bied om die uitslae aan jou en jou kind te verduidelik.
Vra die kundige met wie jy kontak maak vir die Belangstellingsbepaler-pakket. Hierdie pakket, wat vir lede van Solidariteit beding is, gaan jou ʼn maksimum van R2 500 kos en sluit die volgende in:
- ten minste een geakkrediteerde psigometriese toets wat jou aanleg bepaal
- ten minste een geakkrediteerde psigometriese toets wat jou persoonlikheid analiseer
- ten minste een konsultasie wat ʼn uur lank duur met die kundige van jou keuse
Solidariteit is besorg oor jou kind se toekoms en bied jou die geleentheid om saam met jou kind ʼn ingeligte besluit te kan neem. Gryp dit vandag hier aan!