loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
solidariteit-help-skoliere-om-vir-die-toekoms-voor-te-berei

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit help skoliere om vir die toekoms voor te berei

Deur Liza Joubert

Vir sommige ouers is matriek die groot einddoel van hul kind se loopbaan. In werklikheid is dit egter net die begin van ʼn nuwe fase vol belangrike besluite, verantwoordelikhede en uitdagings. Die vraag is nie net of jou kind akademies voorbereid is nie, maar ook of hy of sy gereed is vir die grootmenswêreld.

Die oorgang van skool na die grootmenswêreld is vir jongmense uitdagend. ʼn Studie deur die Universiteit van Cambridge, wat op werkloosheid onder die jeug in Suid-Afrika fokus, wys op ʼn gaping tussen die vaardighede wat werkgewers verwag en die vaardighede waarmee meeste jongmense die arbeidsmark betree. Loopbaanvoorligting, mentorskap, vaardigheidsontwikkeling en blootstelling aan die wêreld van werk speel daarom ʼn belangrike rol in die voorbereiding van jongmense vir hul toekoms.

Dít is juis waar Solidariteit se Skoliere-aanbod ʼn verskil in jou kind se loopbaan kan maak.

Voorbereiding vir meer as net eksamens

Akademiese prestasie bly belangrik, maar sukses ná skool word deur veel meer bepaal as net punte op ʼn rapport. Jongmense moet leer om verantwoordelikheid te neem, doelwitte te stel, ingeligte loopbaankeuses te maak en met selfvertroue nuwe uitdagings aan te pak.

Solidariteit se Skoliere-aanbod help leerders om hierdie vaardighede reeds gedurende hul hoërskooljare te ontwikkel. Deur toegang tot leerhulpbronne, ontwikkelingsgeleenthede en praktiese hulpmiddels word leerders aangemoedig om hul potensiaal te ontdek en doelgerig vir die toekoms te beplan.

Lees hier meer oor al die beskikbare hulpbronne vir jou kind.

Loopbaan- en studievoorbereiding

Een van die grootste vrese onder matrikulante is die vraag: “Wat nou?”

Baie jongmense verlaat die skool sonder duidelike kennis van die beroepe wat tot hul beskikking is of die vaardighede wat die arbeidsmark vereis. Solidariteit se Skoliere-aanbod bied leiding wat leerders help om beter ingeligte besluite oor hul studies en toekomstige loopbane te neem.

Hierdie blootstelling is belangrik, aangesien doeltreffende loopbaanvoorligting en ontwikkelingsprogramme jongmense beter voorberei vir die oorgang na verdere studie en werk.

Solidariteit se Skoliere-aanbod bied ʼn gratis belangstellingsbepaler wat jou kind sal help om hul belangstellings te identifiseer sodat hulle verskeie moontlike loopbaankeuses kan ondersoek. Ná afloop van die belangstellingsbepaler kan jou kind ook psigometriese toetse by een van die kundiges in Solidariteit se netwerk van loopbaanvoorligters, opvoedkundige sielkundiges en psigometriste aflê.

Ontwikkel selfvertroue en leierskap

Die grootmenswêreld vereis meer as vakkennis. Werkgewers en opleidingsinstellings waardeer jongmense wat goed kan kommunikeer, saam met ander in ʼn span kan werk, leiding kan neem en by verandering kan aanpas.

Daarom het Solidariteit ʼn nuwe #LeerMyLeierskap-reeks, vir graad 7- tot 11-leerders ontwikkel, wat vir leerders die praktiese hulpmiddels gee om reeds op skool leierskapsvaardighede te begin ontwikkel. Die kursus help leerders om te verstaan dat leierskap nie noodwendig net oor ’n titel of balkie gaan nie, maar oor daaglikse keuses soos goeie kommunikasie, spanwerk, verantwoordelikheid en aanpasbaarheid.

Hierdie vaardighede berei leerders voor om uitdagings met selfvertroue te hanteer, hulself beter te leer ken en verantwoordelikheid te neem. Gebruik die kode “Leierskap26” vir gratis toegang tot die #LeerMyLeierskap-kursus.

Help jou kind om hul toekoms in hul eie hande te neem

Een van die grootste voordele van Solidariteit se Skoliere-aanbod is dat leerders deel word van ʼn groter gemeenskap van jongmense wat soortgelyke doelwitte en waardes deel. Dit bied nie net ondersteuning tydens skooljare nie, maar kan ook waardevolle verhoudings skep wat leerders later in hul studie en loopbane kan ondersteun.

Die doel van skool is nie bloot om ʼn matrieksertifikaat te werf nie. Dit gaan daaroor om jongmense toe te rus vir die lewe wat voorlê. Deur blootstelling aan loopbaanvoorligting, persoonlike en vaardigheidsontwikkeling, en ʼn ondersteunende gemeenskap help skoliere om daardie brug tussen skool en die grootmenswêreld te bou.

Jou toekomstige sukses begin met die keuses wat jy vandag maak. Wanneer jongmense voorbereid voel, betree hulle die volgende hoofstuk van hul lewe nie met onsekerheid nie, maar met selfvertroue.

Registreer dus vandag nog jou kind se gratis profiel en help jou kind om hul toekoms in hul eie hande te neem!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel