loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
solidariteit-help-voorman-om-uitstaande-salaris-na-vyf-jaar-terug-te-kry

Foto Krediet: Pexels

Solidariteit help voorman om uitstaande salaris ná vyf jaar terug te kry

Deur Robin-Lee Maré

ʼn Solidariteit-lid van Montagu wat haar brood en botter as voorman van ʼn konstruksiemaatskappy verdien het, kon ná ʼn fel stryd van vyf jaar uitstaande gelde wat onregmatig van haar weerhou is terug kry.

Me. Irene van der Lith het die moed gehad om teen haar voormalige werkgewers, Mega Bouers (Edms.) Bpk. en Entsha Mega (Edms.) Bpk., op te staan, wat hierdie vergoeding aan haar verskuldig was, maar wat probeer het om dit te ontduik.

Sy is oorspronklik in Augustus 2020 deur Mega Bouers as voorman aangestel, met ʼn basiese salaris en ʼn maandelikse behuisingstoelaag.

In 2022 is haar werk en verantwoordelikhede aan Entsha Mega oorgedra, maar die finansiële agterstande het voortgeduur. Sy het uiteindelik in Mei 2023 bedank, maar die kwessie van uitstaande betalings het steeds ʼn groot las gebly, aangesien sy gevoel het sy was geregtig op hierdie vergoeding.

Die kern van me. Van Der Lith se eis was dat sy nie haar volle vergoeding vir al die maande wat sy gewerk het, ontvang het nie. Sy het ook oortyd- en verlofbetalings ingesluit, wat sy veronderstel was om te ontvang. Per geleentheid is sy selfs te veel betaal; die netto kortbetalings het egter die werkgewer se nalatigheid duidelik weerspieël.

Haar saak het ʼn komplekse mengsel van maandelikse berekeninge, oortyd, openbare vakansiedae en afwesighede behels, maar me. Van Der Lith het elke dokument, betaalstrokie en bywoningsregister noukeurig saam met Solidariteit se regspan voorberei om die eis deeglik te ondersteun.

Die saak is in Oktober 2023 deur die KVBA (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie) aangehoor, waar die verweerders nie opgedaag het nie. Solidariteit het in die afwesigheid van die werkgewers die arbitrasie voortgesit.

Kommissaris Maureen de Beer het die volgende bevel uitgereik:

  • Die tweede verweerder, Entsha Mega (Edms.) Bpk., moet die applikant, me. Van der Lith, die bedrae van R98 845,90 betaal vir salaristekorte; en R10 800,00 vir verlof.
  • Die totale bedrag van R109 645,90 moet deur die verweerder, Entsha Mega (Edms.) Bpk., aan die applikant, me. Van Der Lith, betaal word teen nie later nie as 31 Oktober 2023.

Die werkgewer het aanvanklik geweier om die betaling na te kom.

Solidariteit het nie opgegee nie en het volgehoue druk gedurende 2024 en 2025 toegepas.

Herhaaldelike balju-aksies is ingespan om die werkgewer se bates te vervreem. Hierdie volharding het uiteindelik vrugte afgewerp en die werkgewer het alle uitstaande gelde teen Oktober 2025 betaal, byna twee jaar ná die arbitrasiebevel.

Volgens Solidariteit-litigant, Johandré van Zyl, verseker hierdie suksesverhaal lede dat hulle ʼn diensorganisasie agter hulle het wat nie sal opgee nie en wat alles in hul vermoë doen om onreg in die werkplek reg te stel:

“Solidariteit laat lede weet hulle het ʼn bondgenoot wat volhard en nooit opgee nie.

“Hierdie saak is ʼn kragtige voorbeeld van hoe volgehoue ondersteuning en druk deur Solidariteit lede in staat stel om hul regte af te dwing en geregtigheid te verseker, ongeag hoe lank dit mag neem,” sê hy.

Van Zyl meen dat Solidariteit nooit sal huiwer om sy lede by te staan nie.

“Ons sal voortgaan om teen onbillike praktyke op te tree om te verseker dat geregtigheid seëvier en dat werknemers die salarisse en voordele ontvang waarop hulle geregtig is. Hierdie saak bewys dat met volharding, kennis van die reg en daadwerklike bystand, selfs die moeilikste werkgewer nie onbillike betalings kan ignoreer nie,” sê hy.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel