loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
transformasie-verarm-sa-miljoene-bestee-aan-verandering-van-plek-en-straatname

Foto Krediet: ChatGPT

‘Transformasie’ verarm SA: Miljoene bestee aan verandering van plek- en straatname

Deur Kyla-Ann du Toit

R14 miljoen. Dít is glo wat die verandering van plek- en straatname in Suid-Afrika vanaf 2019 tot dusver beloop – en dit kom alles uit die belastingbetaler se beursie.

Netwerk24 het onlangs berig dat Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, hierdie bedrag in ʼn geskrewe parlementêre antwoord bevestig het. Hy het op ʼn vraag van dr. Corné Mulder van die VF Plus gereageer oor die presiese koste van amptelike naamsveranderings en of enige impakstudies daarvoor vooraf gedoen word.

Hoewel minister Gayton McKenzie beklemtoon dat die R14 miljoen vir naamsveranderings oor byna ses jaar bestee is, toon nadere ondersoek dat die grootste deel van die besteding aan reis- en verblyfkostes, administratiewe en logistieke ondersteuning, asook vergaderings en konsultasies spandeer is. Die Suid-Afrikaanse Raad vir Geografiese Name (SARGN) se werksaamhede alleen kos meer as R740 000 per kwartaal, wat alles van raad- en subkomitee-vergaderings tot die hantering van die logistiek agter beide fisieke en virtuele byeenkomste, insluit.

Volgens McKenzie sluit hierdie uitgawes ook werkwinkels, vlugte en reisvergoedings, die huur van venues, spyseniering en die administrasie van die proses in, sowel as die koste van publikasies in die Staatskoerant, wat tussen R3 000 en R9 000 per kennisgewing beloop. Hierdie kostes wissel ook na gelang van ligging, die aantal sittings wat moet plaasvind en of raadslede vlugte of verblyf benodig.

Tot dusver is 14 amptelike kennisgewings van naamsveranderings in die betrokke tydperk in die Staatskoerant gepubliseer.

Terwyl ons land verskeie ander krisisse in die gesig staar soos onder meer armoede, werkloosheid, onbetroubare munisipale dienste en ʼn verswakte infrastruktuurstelsel, behoort elke sent wyser bestee te word. Tog het die Suid-Afrikaanse regering sedert 2019 reeds miljoene rande bestee aan die verandering van plek- en straatname. Dit is maar net nóg ʼn bewys van ʼn regering wie se prioriteite heeltemal verkeerd is.

Suid-Afrika het bloot nie die luukse om geld in ideologie in te pomp nie.

Die feit bly staan dat Suid-Afrika nie vandag ʼn beter plek is vandat Port Elizabeth na Gqeberha herdoop is nie, en Suid-Afrikaners is nie beter af vandat daar besluit is dat Somerset-Oos KwaNojoli moet wees nie.

In die meeste gevalle het die nuwe name sinoniem met verval geword, bloot omdat die verswakking in dienste gelyklopend was met die verandering in die naam.

McKenzie verdedig egter hierdie onkoste deur te sê dat die standaardisering van geografiese name deel van Suid-Afrika se “post-apartheid-transformasieprojek” vorm en dat dit bydra tot simboliese regstelling en nasiebou.

Volgens hom moet koste soos advertensies in plaaslike koerante, openbare konsultasies en selfs padtekens wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) vervang word, as deel van die proses aanvaar word.

Mulder beskryf die besteding as onnodig, en beklemtoon dat naamsveranderings nie nuwe werk skep nie en in baie gevalle meer verdeeldheid saai as samehorigheid bevorder. Die regering bestee miljoene aan “simboliese” projekte terwyl basiese dienslewering in duie stort en gemeenskappe sonder water, elektrisiteit, werksgeleenthede en funksionerende infrastruktuur oor die weg moet kom.

McKenzie het erken dat daar geen volledige rekord van alle uitgawes hieraan verbonde beskikbaar is nie, wat vrae laat ontstaan oor watter bewyse die regering het dat hierdie besteding enigsins waarde tot die land toevoeg. Die feit dat daar reeds R14 miljoen hieraan bestee is, is ʼn skreiende skande en ʼn voorbeeld van ʼn regering wat eerder ideologiese projekte prioritiseer as om die dringende nood waarin die land en sy burgers verkeer aan te spreek en dit die hoof te bied.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel