Foto Krediet: LM Photography
Gekopieër
Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut: ʼn tydlyn van 2020 tot nou
Deur Kyla-Ann du Toit
Die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut se geskiedenis is ʼn verhaal van ʼn roeping wat gestalte gekry het. Sedert die eerste gesprekke in 2020 oor die behoefte aan tuisversorging-opleiding, het die instituut ontwikkel tot ʼn spilpunt van waardigheid, vaardigheid en gemeenskapsbou.
2020 – ʼn roeping word ʼn realiteit
In 2020 word die toenemende nood aan opgeleide tuisversorgers duidelik. Solidariteit Helpende Hand het weekliks versoeke vir versorgers ontvang en het uiteindelik besluit om self opleiding aan te bied. ʼn Samewerkingsooreenkoms met Gratia Via Akademie is bereik en die opleiding word by die Health and Welfare Sector Education and Training Authority (HWSETA) geakkrediteer. Die besluit sluit direk by Helpende Hand se Gemeenskapsherstelplan van 2020 aan: om gemeenskappe te bemagtig om verantwoordelikheid vir mekaar te neem.
2021 – eerste studente en eerste stories
In 2021 word die heel eerste groep studente in Pretoria en Bloemfontein verwelkom. Die bekendstellingsdag was feestelik — selfs Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het meegeding om te kyk wie die netjiesste ʼn bed kan opmaak!
Die jaar het afgesluit met 17 studente wat die kursus voltooi. By die eerste sertifikaatplegtigheid op 17 September 2021 word die versorgerslied “ʼn Versorger se gebed” bekendgestel, en die Emily Hobhouse-eed vir versorgers is vir die eerste keer afgelê. Studente getuig dat die opleiding nie net hulle kennis uitgebrei het nie, maar ook hulle waardigheid herstel het.
2022 – uitbreiding en ʼn nuwe identiteit
Die span groei, nuwe opleidingsentrums word gevestig wat die opleiding vir studente meer toeganklik in hul direkte gemeenskappe maak, en 50 studente voltooi die opleiding landswyd.
ʼn Belangrike mylpaal volg op 13 September: die opleidingsafdeling van Helpende Hand kry sy eie amptelike naam: Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut met ʼn fokus op gehalte opleiding, skaars vaardighede en om terug te ploeg in gemeenskappe. Die doel van die opleiding word ook daargestel: om studente op ʼn volhoubare wyse holisties te ontwikkel; om trots en waardigheid na basiese beroepe te bring; en om ʼn goed funksionerende student terug te plaas in die gemeenskap om gesonde gemeenskappe te bevorder.
Teen die einde van die jaar word nóg ʼn mylpaal bereik: Die Teodora-kampus in Pretoria-Oos word aan die opleidingsinstituut geskenk. Dit baan die weg vir fasiliteite eie aan die opleidingsinstituut, ʼn simulasiekamer en beter gehaltebeheer.
2023 – ʼn jaar van uitbrei
Die nuwe Pretoria-kampus open amptelik op 16 Februarie, en 36 studente skop die jaar af. ʼn Tweede inname met 8 studente volg in Junie. Die handelsmerk van die instituut word bekendgestel, met die hand, diamant en lourierkrans wat die waardes van roeping, ontwikkeling en oorwinning simboliseer.
Bo-Karoo Opleiding word ʼn strategiese vennoot totdat die instituut hulle eie akkreditasie kan bekom. Talente stroom in: nuwe fasiliteerders, ʼn operasionele bestuurder, administratiewe personeel en ʼn maatskaplike werker vorm ʼn stewige span.
Studente lewer ook praktiese diens, onder meer tydens Wêreldsigdag by die Pretoria Ooginstituut. Fondsinsamelingspogings vat vlam op 9 November, met ʼn “Woes TV”-geleentheid wat R1 miljoen vir die opleidingsinstituut insamel. Die eerste volledige bemarkingsbrosjure en hulle eie webblad sien ook die lig, en die instituut dien sy eerste volledige versorgingskurrikulum by die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) in.
2024 – nuwe programme, strukture en mylpale
2024 is ʼn jaar van groei. Niegeakkrediteerde kortkursusse soos Inleiding tot Palliatiewe Sorg en Begeleiding van Persone met Gestremdhede word aangebied. Studente neem vir die eerste keer deel aan die QCTO se EISA-eksamens. Die terugvoer toon groot probleme in die landswye assesseringstelsel, en die instituut begin ondersoek instel na die moontlikheid van ʼn eie beroepsraad of akkreditasieliggaam vir versorgers.
Nog ʼn reuseprestasie is die akkreditering van die Occupational Certificate: Home Based Personal Care Assistant (NQF 2). Die kampus ondergaan groot strukturele verbeterings, insluitend ʼn nuwe raadsaal, ʼn geverfde buitekant en slim administrasiestelsels.
2025 – ʼn instelling kom tot volle wasdom
Met die aanstel van nuwe personeel, ʼn interne bemarkingspan en ʼn studente-ondersteuningskantoor, skop 2025 af met groot momentum.
Die instituut ontvang op 25 April sy HWSETA-akkreditasie vir die jaarlange versorgerskursus en die kampus word terselfdertyd amptelik ʼn QCTO-eksamensentrum. ʼn App word ontwikkel vir studente se daaglikse aantekeninge en evaluasies, terwyl die nuwe kampus-snoepie en die Welstandsapteek, in Februarie open.
Die oriënteringsprogram sluit af met die “Lig van Versorging”-seremonie, en die eerste studentekomitee word aangekondig. In Julie word die heropgeneemde “Sorggebed”-lied op verskeie platforms bekendgestel.
Kortkursusse brei steeds uit, en die instituut ontwikkel ʼn gekommersialiseerde eenheid, SorgNet, as deel van sy groeiende netwerk en impak.
ʼn Instituut wat ʼn verskil maak
Van ʼn eenvoudige droom in 2020 tot ʼn volwaardige opleidingsinstelling met ʼn landwye invloed teen 2025 – dié instituut vertel die verhaal van toegewyde mense, roeping en versorging. In hierdie afgelope vyf jaar het die Helpende Hand Opleidingsinstituut nie net 178 studente suksesvol opgelei nie, maar ook hoop in talle gemeenskappe teruggeploeg.