loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
solidariteit-helpende-hand-se-skooltassie-projek-skep-hoop-vir-graad-1s-in-2026

Foto Krediet: Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek skep hoop vir graad 1’s in 2026

Deur Kyla-Ann du Toit

Opvoeding bly die sleutel tot ʼn beter toekoms, en Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek dra reeds vir die 19de agtereenvolgende jaar by tot graad eens se opvoeding deur noodsaaklike skoolbenodighede aan behoeftige leerders te voorsien. In 2026 het duisende kinders hul eerste skooldag met ʼn splinternuwe tassie op hul rug begin – ʼn tasbare teken dat hulle werklik deur die gemeenskap raakgesien en ondersteun word.

Duisende graad 1-leerders het hul eerste skooldag met ʼn splinternuwe tassie op hul rug begin.

“Waar ons kán help, móét ons help,” sê René Roux, bestuurshoof van media by Solidariteit Helpende Hand. “Die Skooltassie-projek fokus daarop om vir graad 1-leerders ʼn gelyke kans te gee wanneer hulle met hul akademiese reis begin. Vir ʼn kind beteken hierdie skooltassie dat jy raakgesien word en dat jy nie minder is as die maat langs jou nie. Dis ʼn tassie vol hoop.”

In 2026 is 2 000 skooltassies landswyd by nagenoeg 160 Afrikaanse skole aan leerlinge uitgedeel – 30 skole meer as verlede jaar. Hierdie groei beklemtoon nie net die omvang van die behoefte nie, maar ook die volgehoue ondersteuning vanuit gemeenskappe regoor die land.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, spreek leerlinge van Laerskool Swartkop toe op die eerste skooldag van 2026.

ʼn Hartsprojek wat jaarliks groei

Elke tassie word sorgvuldig saamgestel en bevat alles wat ʼn jong leerder nodig het om met selfvertroue skool toe te gaan. Die nuwe, stewige tassies sluit onder meer ʼn skêr, gom, ʼn skerpmaker, ʼn uitveër, ʼn liniaal, uitdraaikryte, inkleurpotlode, grys HB-potlode, ʼn witbordjie, witbordmerkers en ʼn pennesakkie in. Vanjaar is daar ook ʼn volledige 2020-vertaling van die Bybel in elke tassie geplaas, met die ondersteuning van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Volgens Roux is die Skooltassie-projek al vir meer as 15 jaar een van Helpende Hand se hartsprojekte. “Hierdie projek is elke jaar vir ons ʼn groot voorreg, en ons is só trots daarop,” sê sy.

By Laerskool Swartkop in Centurion het die projek vanjaar ʼn besondere hoogtepunt bereik toe 30 van die tassies amptelik op 14 Januarie oorhandig is. Die saal was gevul met opgewonde stemme, rye netjiese tassies en natuurlik Helpende Hand se geliefde superheld, Braaf die Boerboel, wat drukkies uitgedeel het. Vir baie kinders was dit hul eerste gevoel van: “Ek hoort hier”.

Die oorhandiging van 30 van die 2 000 skooltassies het op 14 Januarie by Laerskool Swartkop in Centurion plaasgevind, en Solidariteit Helpende Hand se geliefde superheld, Braaf die Boerboel, het saam met verteenwoordigers van die organisasie gehelp het om die tassies te oorhandig.

Vir Danelle du Plessis, projekorganiseerder van die Skooltassie-projek, lê die waarde van die projek veel dieper as die fisiese tassie. “Vir ʼn kind in graad een beteken ʼn skooltassie soveel meer as net skryfbehoeftes,” sê sy. “Dit gee behoeftige kinders die selfvertroue om skool toe te gaan en te voel hulle hoort.”

Roux wys ook daarop dat die projek kinders se welstand direk raak. “Ek het byvoorbeeld al gesien hoe kinders met plastieksakke by die skool opdaag waarin hulle ou skryfbehoeftes dra, en dit is onaanvaarbaar – ons kinders verdien beter,” sê sy.

Die gemeenskap se rol

Die Skooltassie-projek word moontlik gemaak deur die ondersteuning van verskeie vennote en skenkers, soos Boerboel Wear, Dinamika Finansiële Dienste, BIC, KIMOsource en Fraaisokkies, asook talle organisasies, kerke en individue wat jaarliks bydra om elke tassie volledig toe te rus. Verskeie bekende Suid-Afrikaners, soos Bakkies Botha, die Afrikaanse sanggroep Jan Jan Jan, en mediapersoonlikheid Lindie Strydom, het ook oor die jare hul stem en steun geleen om bewusmaking te versterk.

Terwyl die tassies van 2026 hul pad na klaskamers vind, kyk Helpende Hand reeds vorentoe. Die behoefte neem toe, en voorbereiding vir nóg meer tassies in 2027 het reeds begin. Deur ʼn tassie te borg, kan jy ook help om ʼn verskil in ʼn behoeftige kind se lewe te maak.

“Dit gee behoeftige kinders die selfvertroue om skool toe te gaan en te voel hulle hoort.”

Ons kinders is ons toekoms. Daarom is dit noodsaaklik om vir hulle ʼn stewige fondament te bou wat hulle sal bemagtig om hul volle potensiaal te bereik. Met elke tassie word ʼn klein, maar betekenisvolle fondament gelê waarop hoop, selfvertroue en ʼn beter môre gebou kan word.

Besoek www.skooltassie.co.za om deel van hierdie projek te wees, en só saam aan ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons kinders te bou!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel