loading
Artikels
1 jaar gelede
solidariteit-is-jou-tuiste-in-die-mediese-beroep

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit is jou tuiste in die mediese beroep

Deur Maryna Eksteen

By Solidariteit se mediese beroepsnetwerke vir dokters, verpleegkundiges en aptekers kan hierdie professionele beroepslui bymekaarkom, veilig voel en asem haal. Die beroepsnetwerke staan onder leiding van die netwerkspan, en persone in ʼn mediese beroep kan hier klankbord en deel vorm van ʼn gemeenskap waar hulle tuis kan voel. Die netwerkspan agter die netwerke vir mediese beroepslui het ʼn passie vir die mediese sektor en maak dit hul missie om te verseker dat jy vry, veilig en voorspoedig in jou beroep kan wees.

Peirru Marx, netwerkkoördineerder van die mediese sektor, het nog altyd ʼn liefde vir die mediese beroepsveld gehad. Marx het in Pretoria grootgeword waar sy ma ʼn verpleegster was en dit is waar sy liefde vir die mediese beroepe wortelgeskiet het. Marx het ná skool by die Suid Afrikaanse Nasionale Bloeddiens gaan werk waarna hy gaan studeer en as ʼn mediese tegnikus en tegnoloog gekwalifiseer het. Ná afloop van sy studie het Marx ʼn laboratorium by die Kalafong-hospitaal bestuur waar hy ʼn liefde vir arbeidsreg ontdek het. In 2014 het Marx ʼn pos as verteenwoordiger by Hospersa aanvaar, as bemiddelaar vir die privaat sektor. Nuwe kennis is nooit ʼn verkwisting nie, en daarom het Marx besluit om ʼn kursus in vakbondwese te voltooi en dit af te rond met verskeie kort kursusse in opleiding.

Marx het in 2019 as organiseerder by Solidariteit begin werk waarna hy later tot netwerkkoördineerder van die mediese sektor bevorder is. Volgens Marx het die netwerk vir die mediese beroepe ten doel om mediese beroepe saam te bind om sodoende op die behoud en beskerming van die beroepe asook werkfasilitering te fokus. Die mediese beroepe is onder enorme druk, en volgens Marx wil die netwerk nie uitvoerders word van talent nie, maar eerder die werksomgewings verbeter om die talent in ons land te hou. Marx is opgewonde oor wat die netwerk vir sy lede inhou. “Daar is nog steeds hoop en mense wat bereid is om kennis terug te ploeg in die beroep.”

Nadine Steyn, netwerkorganiseerder van die mediese netwerke, werk baie nou saam met Marx om ʼn verskil in die mediese beroepe te maak. Steyn het ʼn LLB-graad deur UNISA verwerf, en sy is later as prokureur toegelaat omdat dit haar passie is om mense te help. Volgens Steyn wou sy nog altyd in ʼn beroep wees waar sy op ʼn emosionele en regswyse ʼn verskil kan maak. Steyn het in 2022 haar pad met die mediese netwerke begin stap. Volgens Steyn is sy nog nie een dag spyt oor haar betrokkenheid by die Solidariteit-netwerk nie. “Die netwerke vir die mediese beroepe is hartsnetwerke met ʼn professionele aspek en pas goed in by wie ek as mens is.”

Volgens Steyn ervaar die dokters, verpleegkundiges en aptekers baie druk in hul onderskeie beroepe, asook ʼn tekort aan emosionele bystand. “Die netwerk maak dit vir mense moontlik om by mekaar te klankbord.” Steyn moedig mense in die mediese beroepe aan om by die mediese netwerke aan te sluit. “Die netwerk wat op jou beroep betrekking het, gaan net ʼn positiewe rol in jou lewe speel; ons is jou ‘go-to’-netwerk wat ʼn verskil in jou beroep en lewe kan maak.” Die netwerk is daar om jou las te verlig, en volgens Steyn het jy nog nie lekker gewerk tot jy by die mediese netwerk wat op jou van toepassing is, betrokke geraak het nie.

Nadia Coetzee, netwerkorganiseerder van die mediese sektor, het haar grootwordjare in Vereeniging geniet waarna sy ʼn BCom-graad in Mensehulpbronbestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf het. Ná voltooiing van haar BCom-graad het Coetzee ʼn honneursgraad aan die Universiteit van Pretoria voltooi, en in 2009 het haar reis by Solidariteit begin as administratiewe beampte van die Vaaldriehoek-kantoor. In 2015 het Coetzee na die mediese sektor geskuif waar sy haar tans bevind. Volgens Coetzee wou sy saam met hartsmense werk wat onbaatsugtige werk doen, en dit is presies wat die netwerk vir haar kon bied. “Ek wou ʼn verskil maak in die werk wat verpleegkundiges doen omdat hulle werk belangrik is.”

Volgens Coetzee funksioneer die netwerk soos ratte en het dit dokters, verpleegkundiges en aptekers nodig om suksesvol te kan draai. ʼn Netwerk moet dien as ʼn fondasie vir ʼn gemeenskap. Sonder gesondheidsorg is daar ʼn tekort aan al die geleenthede wat nog moet ontwikkel. Volgens Coetzee kan die netwerk vir mense in mediese beroepe gemoedsrus gee sodat hulle nie saans wakker hoef te lê nie.

Petria Pottas het onlangs by Solidariteit se drie mediese beroepsnetwerke aangesluit. Pottas het ʼn B.Com-Regtegraad aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom kampus) verwerf. Sy het daarna ook ʼn LLB-graad verwerf. Vandag spesialiseer Pottas in Arbeidsreg. Pottas is in 2020 as prokureur toegelaat, waarna sy by die Nasionale Werknemersvereniging van Suid-Afrika (Neasa) werksaam was en haar liefde vir Arbeidsreg kon uitleef.

Pottas het in April 2022 as ʼn regsadviseur by Solidariteit begin werk en toe die geleentheid by die mediese sektor homself voordoen, het Pottas dit met albei hande aangegryp. Volgens Pottas speel Solidariteit se mediese beroepsnetwerke ʼn groot rol in die mediese sektor en sy voel dat sy werklik ʼn verskil kan maak. “Nie net tree ons namens ons lede op wanneer hulle professie bedreig word nie, maar ons streef ook aanhoudend daarna om hulle beroep te bevorder en elkeen in die beroep te bemagtig”, sê sy.

Solidariteit se Verpleegnetwerk lê Pottas baie na aan die hart. Sy weet dat verpleegkundiges ʼn baie ondankbare werk doen wat nie altyd raakgesien of waardeer word nie, maar danksy die netwerk kan hulle die erkenning kry wat hulle verdien. Pottas glo ook dat goeie opleiding baie belangrik is omdat dit gesondheidsorg van hoë gehalte verseker. Die struikelblokke in dié verband beperk egter soms geleenthede. Pottas glo ook dat die mediese beroepsnetwerke kan help om dié struikelblokke uit die weg te ruim om loopbaangeleenthede vir indiwidue in hulle spesifieke mediese veld te skep.

Volgens Pottas verstaan die mediese beroepsnetwerke die uitdagings wat persone in die mediese veld ervaar. “Ons wil mediese personeel ondersteun en bemagtig om hulle beroep vry, veilig en voorspoedig te beoefen”, sê sy.

Indien jy deel wil raak van ʼn gemeenskap waar jou stem saak maak, klik hier of stuur ʼn e-pos na medies@solidariteit.co.za. Dit maak nie saak of jy ʼn dokter, verpleegkundige of apteker is nie, ons is ʼn tuiste vir jou!

Saam sal ons vry, veilig en voorspoedig wees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel