
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit skenk R50 000 aan jong entrepreneur
Deur Heléne Leonard
Solidariteit het hulle ondersteuning aan jong entrepreneurs weereens bewys deur ʼn groot skenking van R50 000, op 6 Oktober, aan die 2023 BCom Ondernemingsbestuur Sakeplankompetisie-wenner te oorhandig. Die wenner is Abigail Fourie van die onderneming Perfect Moments. Hierdie skenking het die afgelope drie jaar ʼn merkwaardige invloed gehad op jong entrepreneurs in Suid-Afrika. Volgens Carami van der Vyver, verlede jaar se wenner, het dié kompetisie en wengeld haar in staat gestel om haar onderneming, Heart of Courage, die nodige kapitaal te gee dat dit kan floreer.
Dié Sakeplankompetisie vir BCom Ondernemingsbestuur-studente aan Akademia bied studente die geleentheid om die teorie wat hul tydens hul studies leer prakties toe te pas en om hul sakeplanne ʼn werklikheid te maak.
Monique Visser, programkoördineerder van BCom Ondernemingsbestuur by Akademia, het gedurende die funksie weereens die sukses van hierdie kompetisie bevestig en gesê dat dit uitstaan vanweë sy unieke en innoverende benaderings in die onderskeie velde. “Die sakeplanne getuig van innovasie, verpersoonliking en ʼn verbintenis tot volhoubaarheid,” het sy gesê.
Een van die faktore wat hierdie kompetisie onderskei, is die unieke mengsel van hulpbronne, mentorskap en netwerkgeleenthede wat aan die deelnemers gebied word. Dit sluit ook omvattende ondersteuning aan die wenners na afloop van die kompetisie in. Hierdie holistiese benadering het ʼn groot bydrae tot die sukses van die kompetisie gelewer.
Die paneel beoordelaars van hierdie kompetisie is geen onbekendes in die wêreld van entrepreneurskap nie. Die paneel sluit in Albert van Wyk, ʼn selfgemaakte miljoenêr en gekwalifiseerde bedryfsingenieur, Danie Marais, ʼn streeksbestuurder by ABSA, Hennie Bierman, die hoof van die Solidariteit Netwerkplatform, Nikkie Kriel, ʼn projekassistent by AfriForum Sakenetwerk, en Mareli Swanepoel, ʼn projekbestuurder by Akademia.
Visser het afgesluit deur te sê dat die BCom Ondernemingsbestuurspan van Akademia opgewonde is om die deur na sukses saam met die deelnemers te ontsluit, en dat Solidariteit se bydrae aan entrepreneurskap ʼn positiewe impak op jong mense se toekoms het. Hierdie kompetisie bly ʼn kragtige platform vir jong entrepreneurs om hul drome te verwesenlik en ʼn blywende stempel op die bedryf af te druk.