
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit – jou waghond in die stryd teen die stelsel
Deur Maryna Eksteen
Werk bly die kern van Solidariteit en dit is ons missie om as waghond vir ons lede se regte op te tree. Waar begin jy antwoorde soek wanneer jy alreeds al die regte kanale gevolg het? Dr. Jacques West, ʼn algemene praktisyn in die Oos-Kaap, het homself tussen die duiwel en die diep blou see bevind toe hy aansoek gedoen het om in Suid-Afrika as algemene praktisyn te registreer.
Dr. West het in Pretoria grootgeword en sy studie aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Volgens dr. West is hy avontuurlustig en daarom was hy gretig om die wêreld op ʼn jong ouderdom te verken. Na die voltooiing van sy studie het dr. West vir ses maande in Engeland gaan werk waarna hy besluit het om na Kanada in Noord-Amerika te verhuis. Na 31 jaar in die buiteland het Suid-Afrika weer dr. West se hartsnare geroer en in 2021 het hy besluit om terug te keer na sy wortels.
Volgens dr. West is hy in Kanada aan ʼn verskeidenheid vaardighede blootgestel wat hy graag in Suid-Afrika met sy mede-praktisyns wil deel. Dr. West het verdere studies aan die College of Family Physicians of Canada voltooi waarna hy as ʼn spesialis in familiemedisyne gesertifiseer is, met belangstelling in teen veroudering- en estetiese medisyne.
Nou waar pas Solidariteit by dr. West se storie in? Die realiteit is ongelukkig dat dr. West nie sommer net na Suid-Afrika kon terugkeer en weer kon begin praktiseer nie. Indien ʼn dokter in Suid-Afrika wil praktiseer, moet hy of sy by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) geregistreer wees. Die nodige dokumentasie was op verskeie kere aan HPCSA gestuur omdat dit deel van die vereistes vir verifikasie en registrasie vorm. Alhoewel hy die nodige dokumentasie ingedien het, het dit geen sukses opgelewer nie.
Dr. West was raadop en het uiteindelik in Oktober 2021 na Suid-Afrika gevlieg om met die betrokke persone by die HPCSA te vergader, maar die besoek was tevergeefs. Dr. West het toe ʼn prokureur gekontak om hom te help, maar na baie korrespondensie tussen die partye was daar steeds geen sukses nie. Gelukkig lui die gesegde nie verniet “hou die beste vir laaste” nie. Dr. West het toe ten einde laas besluit om Solidariteit se Doktersnetwerk as ʼn laaste uitweg in sy stryd teen die HPCSA te nader.
Peirru Marx, netwerkkoördineerder van die mediese bedryf by Solidariteit, het dr. West se versoek met oorgawe verwelkom. Marx en sy span het dit hulle missie gemaak om te verseker dat dr. West by die HPCSA geregistreer word. Solidariteit sê dat dit ʼn gemeenskap is wat daarop toegespits is om ʼn dokter se beroep te beskerm. Vandat dr. West vir Solidariteit genader het, het hy binne ʼn billike tyd bevestiging van die HPCSA ontvang dat hy geregistreer is om weer as ʼn algemene praktisyn in Suid-Afrika te praktiseer.
Volgens dr. West was dit vir hom ʼn uitmergelende stryd. “Dit het my hart warm gemaak dat daar nog ʼn organisasie is wat vir grondwetlike regte opstaan. Daar is antwoorde en daar is nog mense wat oor die antwoorde omgee.”
Woorde kan nie die frustrasie en emosionele uitputting waardeur dr. West en sy gesin is, beskryf nie. Dokter, jy is nie alleen nie! As ʼn lid van Solidariteit se Doktersnetwerk hoef jy nie bedreigings in jou beroep alleen te veg nie, want ons veg dit saam met jou.
Indien jy deel van ʼn gemeenskap wil raak waar jou stem saak maak, klik hier of stuur ʼn e-pos na medies@solidariteit.co.za vir verdere navrae.
Saam sal ons vry, veilig en voorspoedig wees.