
Foto Krediet: Reint Dykema
Gekopieër
Solidariteit kap raswet gedurende openbare verhoor
Deur Heléne Mocke
Solidariteit is gereed om sterk standpunt in te neem teen rasgebaseerde indiensnemingsregulasies tydens ʼn reeks openbare verhore. Hierdie is maar net die begin van alles wat Solidariteit vir 2025 beplan. Rassewette moet stop, en dié is een van vele stappe wat Solidariteit neem om te verseker dat die rasgedrewe regering sy wette stop. Lees oor Solidariteit se stappe teen raswette hier.
Solidariteit is gereed om sterk standpunt in te neem teen rasgebaseerde indiensnemingsregulasies tydens ʼn reeks openbare verhore.
Hierdie verhore, wat deur die Departement van Arbeid gereël word, vorm deel van ʼn openbare deelnameproses oor nuwe rasriglyne in die werkplek. Hierdie regulasies is vroeër in die Staatskoerant gepubliseer en is gebaseer op die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming, wat sedert 1 Januarie 2025 in werking is.
Die groot probleem?
Die gewysigde wetgewing kom nou veral onder skoot en verleen aan die minister van arbeid die gesag om deur middel van regulasies sektorale demografiese teikens vas te stel – of te wel rassesyfers vir verskillende beroepsvelde. Hierdie maatreëls dwing werkgewers om aan spesifieke rasvereistes of telkaarte te voldoen. Die kwansuise doel is om werkplekke te transformeer sodat dit die demografie van die land weerspieël. Solidariteit het egter ernstige besware teen hierdie rigiede rasregulasies as maatstaf en is vasberade om dit tydens die openbare verhore te beklemtoon.
Die gepubliseerde regulasies wat die wysigingswet rugsteun, bevat onder meer glad nie die inhoud van die historiese skikking oor ras in die werkplek wat Solidariteit in 2023 met die regering bereik het nie.
Solidariteit is glad nie tevrede daarmee nie. Die regulasies is nie net ongrondwetlik nie, maar ook teenstrydig met Solidariteit se skikkingsooreenkoms wat met die regering bereik is oor konkrete rasteikens.
“Dis ʼn slinkse poging,” sê Solidariteit
Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê die departement se plan is ʼn mislukte poging om rasgebaseerde regulasies in te stel – ondanks ʼn skikking wat vroeër met Solidariteit bereik is.
“Hierdie reëls gaan ʼn groot impak hê op wie aangestel en bevorder word, maar die departement hou nie eens by basiese wetlike vereistes nie,” sê Van der Bijl.
Wat nou?
Solidariteit is verbind tot die stryd vir ʼn nie-rassige samelewing en beplan om verdere strategieë te implementeer om hierdie saak voort te dryf.
Hierdie is maar net die begin van alles wat Solidariteit vir 2025 beplan. Rassewette moet stop, en dié is een van vele stappe wat Solidariteit neem om te verseker dat die rasgedrewe regering sy wette stop. Klik hier vir Solidariteit se resolusie.