loading
Artikels
3 maande gelede
solidariteit-ken-beurse-toe-aan-eerste-groep-haarkapperstudente-by-sol-tech

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit ken beurse toe aan eerste groep haarkapperstudente by Sol-Tech

Sol-Tech se splinternuwe haarkapperkursus skop in Februarie 2025 af en jý het die geleentheid om ʼn beurs ter waarde van R60 000 los te slaan indien jy voor 11 Februarie aansoek doen. Lees meer oor hierdie wêreldgehalte-kwalifikasie en bespreek vandag nog jou plek!


Deur Kyla-Ann du Toit

Sol-Tech se nuwe haarkapper-opleidingsalon het 38 beskikbare stasies – en een wag net vir jóú!  

Sol-Tech maak gereed om hul eerste groep haarkapperstudente in Februarie 2025 te verwelkom, en Solidariteit het besluit om met die eerste inname aan elke student wat hierdie besonderse kursus wil volg, ʼn beurs toe te ken.

“Net soos met alles van Sol-Tech gaan hierdie kursus absoluut uitnemend wees,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Om hierdie nuwe kursus te vier, het Solidariteit besluit om vir elke student wat met die eerste inname vir hierdie kursus inskryf ʼn beurs ter waarde van R60 000 te gee.”

Volgens dr. Hermann is daar ʼn groot tekort aan haarkappers in Pretoria, asook in Suid-Afrika, en daar is ʼn lys van salonne wat reeds aangedui het dat hulle hierdie Sol-Tech-studente in werkplekke sal plaas. “Sol-Tech gaan verseker dat studente die nodige ervaring opdoen om ook eendag hulle eie besighede te kan begin,” sê hy.

Hy moedig mense aan om vroegtydig (voor 11 Februarie) vir hierdie kwalifikasie in te skryf aangesien daar beperkte plek beskikbaar is.

Wêreldgehalte-opleiding

Sol-Tech se beroepskwalifikasies is daarop gemik om studente uitstekend vir hul toekoms voor te berei. Hierdie splinternuwe haarkapperkwalifikasie maak opwindende geleenthede vir studente moontlik en sorg vir haarkappers van wêreldgehalte.

“Goeie opleiding is régtig belangrik,” sê Elise du Plessis, lektor vir Sol-Tech se haarkappery-kursus. “Ek is só opgewonde vir die eerste groep studente om met hierdie opleiding te begin.” Elise het meer as 30 jaar se ervaring in die haarkapperbedryf en verstaan die belangrikheid van goeie opleiding voordat jy die werkplek betree.

Wat gaan jy leer?

Hierdie driejaarkursus bemagtig studente om as ʼn gekwalifiseerde haarkapper – met ʼn rooiseëlkwalifikasie – die arbeidsmag met selfvertroue te betree.

Tydens hulle opleiding gaan die studente leer om:

  • • hare- en kopvelbehandeling te kan toepas deur dit te sjampoe, opknapper aan te wend en haarbehandelings te doen;
  • • hare te stileer;
  • • hare te sny;
  • • op ʼn veilige wyse chemiese haarbehandeling te kan toepas;
  • • professionele standaarde en higiëne te kan handhaaf wanneer daar met kliënte gewerk word;
  • • ʼn besigheid te begin en dit winsgewend te bestuur;
  • • goeie kliëntediens te lewer; en
  • •die regte produkte aan die kliënt voor te stel vir tuisgebruik.

Studente gaan voltydse teoretiese en praktiese opleiding op Sol-Tech se kampus ontvang, waarna hulle in die werkplek geplaas word om hul verpligte werkplekgeoriënteerde opleiding te ontvang. Daarna keer studente terug kampus toe waar hulle hul vaktoets moet aflê waarna hulle uiteindelik hul rooiseëlkwalifikasie – soos al Sol-Tech se ander ambagskwalifikasies – sal verwerf.

Loer hier na die inligtingsgids vir die haarkapperkwalifikasie.

Hoekom moet jy aan Sol-Tech studeer?

Sol-Tech is deur die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) geakkrediteer. Jou kwalifikasie is dus ten volle geakkrediteer, wat jou kanse op suksesvolle werkaansoeke verbeter. Jy kry ook die geleentheid om in jou moedertaal op ʼn Christelike grondslag by ʼn privaat beroepsopleidingskollege te studeer.

Die studentelewe by Sol-Tech is ʼn persoonlike ervaring vir elke student. Sol-Tech bied verskeie sosiale geleenthede deur die loop van die jaar aan waarby alle studente betrokke kan wees. Sol-Tech se koshuis, die Plaashuis, waarborg ook ʼn unieke en verantwoordelike studentelewe vol pret. Studente kry ook die geleentheid om op die koshuis se huiskomitee (HK) te dien, wat uit studente bestaan wat verskeie portfeuljes beklee en die bestuur van die Plaashuis ondersteun.

Saam met Sol-Tech se gehalte-opleiding word ʼn gebalanseerde leerervaring soos min gebied. Klik hier om vir koshuisverblyf aansoek te doen of lees hier meer oor die Plaashuis.

Ons kinders se toekoms is vir Solidariteit belangrik. Daarom is hierdie beurse wat aan studente toegeken word een van vele inisiatiewe waarmee Solidariteit poog om jong mense die geleentheid te gee om hul volle potensiaal te bereik.

Doen vandag nog aansoek om ʼn blink toekoms vir jouself te verseker!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel