Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit laat arbeidshof streep trek deur onregmatige diensoordrag en -opskorting
Deur Robin-Lee Maré
Solidariteit het ʼn belangrike oorwinning in die arbeidshof behaal nadat die hof beslis het teen die onregmatige diensoordrag van ʼn werknemer en haar daaropvolgende onbepaalde opskorting van diens.
Covette Kühn is op 1 Julie 2024 permanent as plofstofnakomingsbeampte by IPP Mining Materials and Handling (Edms.) Bpk. aangestel. Die maatskappy het kontrakwerk op myne verrig waar sy haar dienste gelewer het.
Toe Kühn ná haar Desemberverlof in Januarie 2026 terugkeer werk toe, is sy meegedeel haar dienskontrak is, sonder haar medewete, gedurende Desember 2025 ingevolge artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge na die sustersmaatskappy IPP Mining Equipment oorgedra. Artikel 197 handel oor die oordrag van werknemers wanneer ’n besigheid, of ’n deel daarvan, as ’n lopende saak na ’n ander werkgewer oorgedra word. Sy is terselfdertyd ingelig haar diens word vir ’n onbepaalde tyd opgeskort en is aangesê om huis toe te gaan en op verdere instruksie te wag.
Kühn het die regmatigheid van dié optrede bevraagteken en Solidariteit om hulp genader.
Kühn is later ook ingelig dat IPP Mining Materials and Handling (Edms.) in Desember 2025 aansoek om besigheidsredding gedoen het. Slegs twee weke tevore is die dienskontrakte van sowat 200 werknemers, insluitend Kühn na die sustersmaatskappy, IPP Mining Equipment, oorgeplaas.
Volgens Ian Stockenström, arbeidshoflitigant verbonde aan Solidariteit, het Solidariteit die beweerde oordrag van haar diens ingevolge artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, sowel as die onbepaalde diensopskorting en skynbare afleggingsproses, in formele aanmanings betwis.
“Die werkgewers het die geleentheid ontvang om hul optrede reg te stel, maar geen verandering het gevolg nie. Solidariteit was gevolglik genoodsaak om die arbeidshof op ʼn dringende basis te nader,” sê hy.
Stockenström meen artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge bevat duidelike vereistes vir die wettige oordrag van ʼn lopende onderneming en die werknemers wat daarby betrokke is.
“Werkgewers kan nie bloot besluit werknemers behoort nou aan ʼn ander maatskappy nie. Die wet bepaal presies wanneer so ʼn oordrag geldig is, asook watter verpligtinge nagekom behoort te word. Artikel 197 kan nie as ʼn rookskerm dien om arbeidsregtelike verantwoordelikhede te ontduik nie,” sê hy.
Hy verduidelik verder werkgewers kan ook nie eensydig besluit om werknemers vir ʼn onbepaalde tyd sonder werk huis toe te stuur nie.
“ʼn Diensopskorting vereis ooreenstemming tussen die werkgewer en werknemer en moet duidelik volg as potensiële alternatief tot aflegging. Werkgewers kan nie hul eie reëls skep en werknemers se regte ignoreer nie,” sê hy.
Die arbeidshof het danksy Solidariteit die saak op ʼn dringende basis aangehoor en beslis die beweerde diensoordrag van Kühn voldoen nie aan artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge nie. Die hof het die oordrag tersyde gestel, die diensopskorting onwettig verklaar en gelas Kühn moet met terugwerkende krag in haar oorspronklike pos herstel word, sonder enige verlies aan vergoeding, pensioenbare diens, verlof of ander kontraktuele en statutêre voordele.
Die hof het verder gelas alle agterstallige pensioenfondsbydraes en ander uitstaande voordele moet betaal word én die werkgewer verbied om haar aan enige beroepsnadeel bloot te stel omdat sy haar regte afgedwing het.
Volgens Stockenström beklemtoon hierdie saak die beskerming wat artikels 197 en 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge werknemers bied.
“Die wet stel duidelike vereistes waaraan werkgewers behoort te voldoen, terwyl werknemers die reg het om hul diensverhouding en inkomste te beskerm wanneer dié vereistes nie nagekom word nie.
“Solidariteit kon die Arbeidshof op ʼn dringende basis nader en spoedig regverdigheid vir Kühn laat geskied. Sonder regsverteenwoordiging en die ondersteuning van ʼn vakbond sou so ʼn proses vir baie werknemers eenvoudig buite bereik gewees het,” sluit hy af.