loading
avatar
Mediaverklarings
8 uur gelede
voorkom-die-ongeluk-voor-dit-gebeur-solidariteit-bied-bgv-opleiding-aan

Fotokrediet: Verskaf

Voorkom die ongeluk vóór dit gebeur: Solidariteit bied BGV-opleiding aan

Robin-Lee Maré

In ʼn tegniese werkwinkel kan een verkeerde handeling ernstige gevolge hê. ʼn Masjien sonder die nodige beveiliging, toerusting wat verkeerd gebruik word of ʼn werkruimte waar risiko’s nie betyds raakgesien word nie, kan binne sekondes tot ʼn besering of selfs die dood lei.

Dit is juis waarom beroepsgesondheid en -veiligheid (BGV) nie bloot iets vir fabrieke en groot ondernemings is nie. Oral waar mense werk – veral waar daar met masjinerie, gereedskap, elektrisiteit, chemikalieë of ander potensieel gevaarlike toerusting gewerk word – moet gesondheid en veiligheid deel van die werkkultuur wees.

Solidariteit se BGV-afdeling het onlangs, op versoek van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, opleiding in die Witzenberg-omgewing aangebied wat spesifiek op beroepsgesondheid en -veiligheid in skoolwerkwinkels gefokus het.

Die opleidingsprogram, wat by Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres aangebied is, het onderwysers van verskeie skole in die omgewing byeengebring en praktiese riglyne gebied oor hoe om risiko’s in werkwinkels te identifiseer en beter te bestuur. Die onderwysers het die BGV-opleiding as uitstekend, baie toepaslik en leersaam beskryf.

Volgens Johan Böning, hoof van Solidariteit se BGV-afdeling, is dié soort opleiding veral belangrik in tegniese skole en ander opleidingsomgewings waar leerders reeds op ʼn jong ouderdom met die werklikhede van ʼn werkplek kennis maak. Tydens die opleiding word hulle bewus gemaak van die werkgewer se pligte, maar ook van die werknemer se verantwoordelikhede.

“Wanneer ʼn leerder ʼn tegniese werkwinkel binnestap, betree hy in baie opsigte reeds ʼn werkomgewing. Daar is masjinerie, handgereedskap, elektrisiteit en talle ander risiko’s waarmee werknemers in die beroepswêreld ook te doen kry. Daarom kan gesondheid en veiligheid nie iets wees wat ons eers later vir hulle leer wanneer hulle begin werk nie,” sê Böning.

Hy meen goeie BGV-opleiding beskerm nie net die persoon wat vandag voor ʼn draaibank, sweismasjien of ander stuk toerusting staan nie, maar help ook om gesondheids- en veiligheidsgewoontes te vestig wat mense vir die res van hul loopbane saamneem.

“Ons wil hê die fokus moet op voorkoming van beroepsbeserings en -siektes wees. Daarom moet ʼn werknemer instinktief begin vra: Is hierdie toerusting veilig? Is die nodige beskerming in plek? Wat is die risiko voordat ek met hierdie taak begin? Dít is hoe ʼn mens ʼn volhoubare gesondheids- en veiligheidskultuur skep.”

Hierdie kennis is daarom van besondere waarde vir tegniese skole, landbouskole, opleidingsentrums en ambagsomgewings waar praktiese opleiding ʼn groot deel van die dag se werk uitmaak. In sulke omgewings is BGV nie bloot ʼn administratiewe vereiste met beleide en prosedures of ʼn lêer wat op datum gehou moet word nie – dit het ʼn direkte invloed op die gesondheid en veiligheid van die mense wat daar werk en leer.

Die Wes-Kaapse opleidingsessie is in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, AfriForum, Kaapse Forum, Solidariteit se Onderwysernetwerk en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) aangebied. Solidariteit se BGV-span het ook ʼn BGV-oudit by Hoërskool Charlie Hofmeyr se tegniese fasiliteit/landbousentrum gedoen om gesondheids- en veiligheidsrisiko’s prakties te identifiseer en aanbevelings vir ʼn gesonder en veiliger werkomgewing te maak.

Volgens Böning is die waarde van opleiding juis daarin geleë dat dit werknemers en werkgewers help om gesondheids- en veiligheidsbeginsels in hul eie werkomgewing toe te pas.

“BGV moet prakties wees. Dit help nie iemand woon ʼn kursus by en gaan terug werk toe sonder om anders na sy werkomgewing te kyk nie. Ons wil mense toerus om gevare raak te sien, risiko’s te verstaan en daadwerklik iets daaraan te doen. Dit is ook waarom ons, sover prakties moontlik, BGV-opleiding met ʼn BGV-oudit kombineer.”

Solidariteit se BGV-afdeling se kundigheid is nie tot skole beperk nie. Die afdeling bied ook onder meer BGV-opleiding aan tuisversorgers, ambagslui, vroeëkinderontwikkelingpraktisyns en mense in die landbou. Dieselfde beginsels is van toepassing op ondernemings, werkwinkels, opleidingsinstellings en ander werkplekke waar werknemers en bestuur verantwoordelikheid vir ʼn veilige werkomgewing dra.

“ʼn Ongeluk is die verkeerde tyd om uit te vind dat ʼn risiko vroeër geïdentifiseer kon word. Ons wil eerder vóór die ongeluk by ʼn werkplek uitkom, mense oplei en hulle help om daardie risiko’s betyds raak te sien,” sê Böning.

Solidariteit se BGV-afdeling hanteer meer as 700 sake van Solidariteit-lede wat werknemers in verskeie werkplekke is of was en wat beseer is in ongelukke wat in die loop en omvang van hul diens plaasgevind het. Hierdie ongelukke sluit verskeie ernstige beserings in, onder andere amputasies, ernstige rug- en ander beserings, en selfs siektes soos posttraumatiese stresversteuring (PTSV).

Die opleiding in die Wes-Kaap wys wat moontlik is wanneer instellings gesondheid en veiligheid doelbewus prioritiseer en kundigheid inroep voordat iets verkeerd loop. Ons lede is vir ons baie belangrik en daarom wil Solidariteit se BGV-afdeling meer skole, opleidingsentrums en werkplekke aanmoedig om van dié kundigheid gebruik te maak.

Of dit ʼn skoolwerkwinkel, landbousentrum, ambagsopleidingsentrum of enige ander gewone werkplek is, goeie beroepsgesondheid en -veiligheid begin lank voordat die eerste masjien aangeskakel word.

Ongelukkig gebeur dit steeds dat werknemers in die werkplek beseer word of siektes opdoen. Daarom het Solidariteit ʼn BGV-afdeling en ʼn BAD-eenheid (Besering aan Diens) wat lede spesifiek help met eise om vergoeding wat deur die verskillende vergoedingsfondse hanteer word.

Vir meer inligting oor Solidariteit se BGV-waardetoevoeging en BGV-opleiding, stuur gerus ʼn e-pos na badbgv@solidariteit.co.za.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel