
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit-lede geniet werkbeskerming – só kan ons jou help
Deur Reon Janse van Rensburg
Solidariteit spog met byna 200 000 lede wat in verskeie sektore en bedrywe werksaam is. Solidariteit is altyd gereed om sy lede by te staan – van Upington tot in Phalaborwa, en selfs in die besigste stede en in die hart van die platteland. Ons almal staar uitdagings in die lewe in die gesig, en soms slaan die noodlot toe wanneer ons dit die minste verwag. Net soos met die lewe, is die werkplek ook nie altyd regverdig nie en mense maak ook dikwels foute wat hulle in situasies laat waar hulle dringende ingryping benodig; om die waarheid te sê, ons almal kort soms ʼn ouer, sterker broer in die werkplek. Solidariteit is vir duisende Suid-Afrikaners juis daardie ouer broer wat regstaan om enige boelie op sy plek te sit.
Om deur konflik te gaan, is meestal ongemaklik en veeleisend. Daar is min mense wat daarvan hou om in die middel van ʼn konfliksituasie te staan, selfs al is dit soms een waarin hulle hulself laat beland het. Selfs in gevalle soos dié staan Solidariteit nie terug nie.
Wanneer iemand hul werk vir watter rede ook al verloor het, maar ʼn lid van ʼn vakbond is, is daar verskeie stappe en hulpbronne beskikbaar om die situasie te hanteer en te beredder. Hoewel dit soms mag lyk asof daar geen hoop is nie, is alle hoop nie verlore nie en is daar iemand aan jou kant. Hierdie artikel sal ʼn oorsig gee van wat om in so ʼn situasie te doen en hoe om jou regte en belange te beskerm.
Wat doen ek in die geval waar ek moontlik my werk kan verloor of reeds verloor het?
1. Kontak Solidariteit so gou as moontlik deur 0861 25 24 23 te skakel of ʼn e-pos na diens@solidariteit.co.za te stuur.
Jou vakbond is een van die mees betroubare bronne van hulp in ʼn situasie waar jy jou werk om watter rede ook al verloor het. Kontak jou vakbond so gou as moontlik nadat jy jou werk verloor het. Hulle kan jou adviseer oor jou regte, prosedures vir ontslag en die moontlike stappe wat jy kan doen. Solidariteit het ʼn span kundiges wat daarop toegespits is om lede met die beste regsadvies by te staan.
2. Vra om inligting en hulp
Solidariteit kan jou van waardevolle inligting en hulpbronne voorsien. Dit sluit onder meer in die identifisering van jou regte soos deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) bepaal word, die prosedures vir ʼn ontslaggeskil en die dokumentasie wat byvoorbeeld vir ʼn geskil benodig word. Solidariteit kan ook jou belange verteenwoordig in gesprekke met jou werkgewer of voormalige werkgewer.
3. Oorweeg alternatiewe oplossings
Dit is belangrik om ʼn breër perspektief te hê. Solidariteit kan jou help om te bepaal of daar alternatiewe oplossings is, soos ontslagvergoeding of ander vorme van finansiële ondersteuning. Dit sal uiteraard afhang van die spesifieke omstandighede en van wat deur die KVBA voorgeskryf word. Jy moenie net bloot aanneem dat die ergste plaasgevind het omdat sake op verskillende meriete gebaseer word nie. Raadpleeg dus ʼn kundige voordat jy tou opgooi.
4. Handel binne die grense van die KVBA
Dit is van kritieke belang om binne die grense van die KVBA te handel en nie ʼn situasie te skep wat jou onnodig in die moeilikheid kan laat beland nie. Solidariteit kan jou help om jou optrede binne die riglyne van die arbeidsreg te hou sodat jy nie later probleme optel nie.
5. Volg prosesse en prosedures
Dit is noodsaaklik om alle prosesse en prosedures wat deur die KVBA en Solidariteit aanbeveel of vereis word, te volg. Dit sluit in om enige dokumentasie of ontslaggeskille binne die voorgeskrewe tydraamwerk in te dien. Aangeleenthede moet dikwels binne ʼn gegewe tydperk afgehandel word.
6. Behou kontak met Solidariteit
Behou kontak met Solidariteit en hou hulle op hoogte van enige verwikkelinge in jou saak. Hulle kan jou voortdurend bystaan en verteenwoordig, en jou help om die situasie op ʼn professionele en doeltreffende manier te hanteer.
7. Oorweeg verdere opleiding en moenie ophou om werk te soek nie
As werkverlies onvermydelik is, oorweeg verdere opleiding sodat jy vir nuwe werksgeleenthede in aanmerking kan kom. Solidariteit verskaf inligting en hulpbronne oor opleidings- of opleidingsprogramme, asook oor geleenthede vir voortgesette leer. Begin ook met jou soektog na nuwe werksgeleenthede en wees aktief betrokke by die werksoekproses. Klik hier vir meer inligting oor hoe Solidariteit jou hiermee kan help.
In ʼn situasie waar jy jou werk weens ʼn beslissing deur die KVBA verloor het en jy ʼn lid van Solidariteit is, is dit van die uiterste belang om met Solidariteit in kontak te bly en om van hulle hulp en ondersteuningsraamwerk gebruik te maak. Solidariteit kan jou help om jou regte te beskerm, prosesse korrek te volg en jou belange te verteenwoordig in jou strewe om jou loopbaan te beskerm en ook uit te brei.
Solidariteit se bestaansdoel is en bly werk. Solidariteit verskaf gratis regsverteenwoordiging ten opsigte van beroepsverwante sake wat na die KVBA of die arbeidshof verwys word. Word ʼn lid van Solidariteit en geniet dieselfde werkbeskerming as waarmee duisende Suid-Afrikaners hul loopbane daagliks toevertrou.